Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SSA-seepbel wil-wil ook bars

Statistieke SA (SSA) is glo in ’n groot krisis. Daar is, aldus ’n berig in Rapport, ’n volle 3 511 vakante poste. Dit sluit in 170 “sleutelbestuursposte”.

Hoe enige organisasie in die lig hiervan kan aanhou funksioneer, weet nugter. Maar daar het jy dit.

Johannes Froneman

Daar is ’n volle vyf vakante adjunk-direkteurs-generaalposte. Gelukkig is drie darem gevul. Agt adjunk-direkteurs-generaalposte! Geen wonder ons gebruik, volgens die ekonoom Mike Schüssler, 14% van die land se BBP om staatsamptenare te vergoed nie. (Dit is naas dié van Namibië die hoogste ter wêreld en byna dubbel dié van Duitsland.)

Oor die nut van betroubare statistieke hoef ons nie te redeneer nie. Maar dit is darem betekenisvol dat dié onderafdeling van die staatsdiens teen 1990 in die baie doodgewone Steynsgebou in die middestad van Pretoria gehuisves was. Was ons ingenome toe die gebou ’n slag mooi geverf en nuwe tapyte gelê is!

Die hoof van die destydse Sentrale Statistiekdiens (oftewel SSD) was dr. Treurnicht du Toit, ’n netjiese en bekwame man. Hy het net die rang van hoofdirekteur gehad en moes aan ’n adjunk-direkteur-generaal by binnelandse sake verslag doen – tot sy irritasie.

Onder die hoof van die SSD het ’n stuk of vier direkteure gedien, en dan was daar die gewone span adjunkdirekteure en so meer.

Die laaste jare het die SSA ’n statistikus-generaal aan die hoof, vermoedelik op ’n direkteur-generaal se vlak. En dan die agt adjunkte. Normaalweg in die staatsdiens kry jy dan twee hoofdirekteure vir elke adjunk-direkteur-generaal. Dit sal beteken daar is 16 amptenare op hierdie vlak, waar daar in 1990 net een was. Van een tot 16, as my som klop met die werklikheid.

Was die struktuur in 1990 voldoende? Waarskynlik nie. Watter departement is ooit tevrede met hoeveel mense daar is om die werk goed te doen? Maar hier sien ons waarheen ons belastinggeld gaan. Vir die buitestander lyk dit na ’n astronomiese vergroting van die organisasie, sekerlik op topbestuursvlak.

Voeg hierby die kantore van die SSA. Die ou Steynsgebou was seker nie ’n bevredigende tuiste nie. Die personeellede was uiteindelik oor verskeie geboue versprei. Toe kry hulle ’n R1,4 miljard-gebou. Nogal ’n pragstuk. Die staat het darem “net” R600 miljoen bygedra en ’n ontwikkelaar die res. Nou betaal die staat seker stewige huurgeld.

Benewens die glaskasteel kos die falanks senior amptenare die staat, nee, die belastingbetaler, ’n aardige bedrag.

Geen wonder nie selfs die adjunkminister van finansies meen die topamptenare se salarisse moet bekyk word.

Maar die SSA moet gekwalifiseerde mense met goeie salarisse trek en terselfdertyd voldoen aan transformasievereistes.

Sonder genoeg geld sukkel hy voort en adverteer hy, by die skryf hiervan, nie ’n enkele pos op sy webwerf nie.

Wat daar aangaan, word waarskynlik op talle plekke in die staatsdiens herhaal. Die eise is groot en die beskikbare personeel net nie voldoende nie, veral as van die potensiële kandidate nie lus het vir ’n kaderbelaaide staatsdiens nie.

In ’n land waar ’n prominente politieke leier die aanstelling van ’n wit uitvoerende hoof by ’n staatsinstelling as “rassisties” kan bestempel (en daarmee wegkom), moet ’n mens seker nie ’n stroom van aansoeke uit wit geledere verwag nie.

Die SSA sit nou met ’n situasie met vele oorsake, waarvan ’n gebrek aan geld net een is. Vir ’n wyle het dit gelyk of die SSA ’n uitsondering op die reël was; nou blyk dit ook ’n seepbel te wees wat wag om te bars. Dit is nogal jammer.

  • Froneman is ’n emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.