Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staak nou dié kuber-evangelie vir liggelowiges

Is dit nie tyd dat die groep kuber-bedrieërs wat doelbewus vals politieke gerugte versprei, vasgevat moet word nie? Fopnuus skep nie net politieke onrus nie, dit wakker ook wantroue en selfs rassehaat aan in ’n land verskeur deur die koronavirus, skryf Pieter Labuschagne.

’n Televisie in ’n winkeltrollie met die woorde ‘fake news’ wat daarop gespuitverf is buite ’n winkel in Londen se Mayfair-distrik. Foto: Getty Images

Alle dade het gevolge en fopnuus met politieke oogmerke (ooglopend onwaar) wat as waarheid geparadeer word, moet uitgeroei word. Die werklikheid is dat die onwaarhede dikwels soos ’n virtuele wind op sosiale media en WhatsApp-groepe waai, en dat dit baie mense oprui en ontstel. Die fabrisering van inligting en manipulasie van gemoedere is ’n vorm van politieke-maatskaplike bedrog, wat politieke onstabiliteit veroorsaak.

In wese is dié fopnuus die aanbied van ’n stel onrusbarende feite wat mense kan benadeel indien hulle hulle daaraan steur. Juis om dié rede behoort die verspreiding daarvan gevolge te dra vir dié politieke-maatskaplike bedrieërs.

In Suid-Afrika, soos elders ter wêreld, doen dié doelbewuste waninligting met politieke oogmerke gereeld die rondte in die virtuele ruimte, met dieselfde negatiewe gevolge.

Politieke bedrog

Pres. Donald Trump van Amerika se onnadenkende gebruik van Twitter het tot groot politieke en maatskaplike chaos in Amerika gelei. Dit het ook die land se beeld as hoeksteen van die demokrasie groot skade berokken.

Twitter het onlangs die rekening van pres. Donald Trump, permanent gesluit nadat chaos losgebars het toe sy ondersteuners die kongresgebou in Washington bestorm het. Foto: Getty Images

Trump se Twitter-rekening (wat intussen gesluit is) is deur die sosiale media gereproduseer en wyd versprei – na raming het hy meer as ’n miljoen Twitter-volgelinge en lesers gehad.

In Zimbabwe is die joernalis en aktivis Hopewell Chin’ono herhaaldelik gearresteer vir politieke aanhitsing, wat hom ook al in die tronk laat beland het. Chin’ono rapporteer gereeld oor die regering se wandade en korrupsie.

Ons behoort simpatie te hê met ’n aktivis soos Chin’ono, wat die sosiale media gebruik om wandade van die regering oop te vlek. Daar behoort egter min simpatie te wees teenoor gefabriseerde berigte met duidelike politieke oogmerke.

Die verskil is dat wanneer berigte met geen feitlike basis op sosiale media geplaas word, dit gewoonlik met opset gedoen word. Die oogmerk is om politieke ampsdraers verdag te maak, en wanneer die publiek aangemoedig word om op grond van dié feite op te tree, kom dit op politieke bedrog neer.

Nag van die Lang Messe

Een hardnekkige gerug wat vir jare op sosiale media versprei is, was die waarskuwing oor die sogenaamde “Nag van die Lang Messe”. Die waarskuwing het daarop neergekom dat wanneer oudpres. Nelson Mandela (die groot vredemaker) sou sterf, chaos sou losbars en dat swart mense hulle sou wreek op wit mense. Swart mense sou wit mense op groot skaal uitmoor en die boodskap was duidelik dat die planne hiervoor “reeds in die swart gemeenskappe opgetrek was”.

Talle regses of ‘volksorganisasies’ het destyds voorberei vir ’n sogenaamde ‘Nag van die Lang Messe’ of ‘n rewolusie omdat hulle geglo het wit mense sou by die hordes doodgemaak word. Hierdie was ’n oefening van die Kommandokorps. Foto: Lisa Hnatowicz

Die “tente-en-toppers”-beweging het wit mense aangemoedig om Toppers en twee minute noedels op te gaar om in dié tydperk te eet. Wanneer die Nag van die Groot Moord dan sou plaasvind, moes die wit mense vlug en in tente op die vlaktes gaan woon. Dit is sinlose strategiese raad teen enige bedreiging, maar laat dit nou maar daar. . .

Die afsterwe van Mandela het gekom en gegaan, en behalwe wydverspreide hartseer binne die wit gemeenskap, het geen wit mens die lewe gelaat op grond van dié absurde voorspelling nie.

Deur blikkieskos en ander niebederfbare kos op te gaar, het baie wit Suid-Afrikaners hulle voorberei op die ‘Nag van die Lang Messe’. Foto: Nelius Rademan

Die voorspelling van gebeure soos die Nag van die Lang Messe het dieselfde karaktertrekke as die voorspelling van die eindtyd. Indien die datum kom en gaan, word daar ’n nuwe datum in die toekoms gestel.

Ek is ook bewus van ’n boodskap wat onlangs wyd versprei is oor pres. Cyril Ramaphosa, wat baie mense erg omgekrap het. Dié boodskap, waarin hy na bewering met nyd na wit mense verwys het, is as die evangelie aan liggelowiges verkondig – wat dit op hul beurt weer vir ander liggelowiges op WhatsApp aangestuur het.

Selfs te midde van die huidige swaarkry, word die koronavirus gebruik vir duister en uiters onverantwoordelike doeleindes.

Daar is geen heilige koeie vir die skeppers van dié fopnuus nie, wat probeer om politieke onrus op te stook en goedgelowiges te ontstel. Dit versterk veral kwesbare en paranoïese mense in hul denke. Selfs te midde van die huidige swaarkry, word die koronavirus gebruik vir duister en uiters onverantwoordelike doeleindes.

Die volgende berig is in November wyd op WhatsApp en ander sosialemediaplatforms versprei. Dit word onveranderd (mét spel en taalfoute) geplaas soos wat die waarskuwing versprei is.

WAARSKUWING
Hi julle ek het n dringende versoek en waarskuwing, of jul dit ligtelik opneem of my glo maar hier kom weer n lockdown en dit gaan als gebeur teen die einde November. Ek het toevallig vanmore oor die radio ook gehoor en dit is iets ernstig. Wanneer die president dit gaan aankondig sal dit immediate affect wees, daar gaan nie nog tyd wees om goed te koop nie. Die polisie gaan ontrek en die weermag gaan inkom, alle winkels en kafees ens gaan toe wees. Stock nou al op julle, moenie dit oorsien nie. En teen Desember gaan eskom als afsit want daar gaan nie werk wees en trokke om steenkool aan te ry nie. Maak kannetjies vol petrol en stoor dit asb vir nood. Kry onbederfbare kos soos mieliemeel, koekmeel, olie, pakkies sop om te oorleef. Hierdie land gaan oor na n grendelstaat en ons lockdown gaan erger wees as die vorige een. Asb let op na hierdie waarskuwing want die swartes weet hierdie goed sodat die wittes ontkant gevang moet word en sonder kos sit. Berei voor vir die ergste. En soos ek se as jy dink dis weer net n praatjie, sit agteroor en wag tot dit aangekondig word en kyk waar jy kos gaan kry. Weermagte gaan strate petroleer en niemand mag rond ry nie, daar gaan geen winkel oop wees vir ons vir kos nie. Reageer nou!

Een grandiose komplot teen wit mense?

Die implikasies van die waarskuwing, wat wyd op sosiale media versprei is, spreek vanself. Dit is weer ’n waarskuwing teen ’n bose sameswering of komplot en die wit mense in die land “trek weer aan die kortste ent”, terwyl die swart bevolking “bewus is van die planne”.

Die werklikheid is dat rasionele mense, wat die groter politieke dinamika verstaan, die waninligting in die waarskuwing kan erken en identifiseer vir die snert wat dit is.

Behalwe dat Eskom nie eens meer ’n komplot nodig het om nie elektrisiteit te verskaf nie, het dié staatsonderneming se onvermoë meer met korrupsie, ontoereikendheid en wanbestuur te doen as met een grandiose komplot teen wit mense. Swart Suid-Afrikaners ly net soveel (of meer) onder Eskom se ondoeltreffendheid en ook die vernietigende gevolge van die Covid-19-pandemie.

Die werklikheid is dat rasionele mense, wat die groter politieke dinamika verstaan, die waninligting in die waarskuwing kan erken en identifiseer vir die snert wat dit is. Die probleem is egter dat daar heelwat eerbare wit mense (veral ouer mense) is wat kwesbaar is, en deur dié soort onverantwoordelike fopnuus ontstel word.

Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

Dié fop-waarskuwings skep nie net politieke onrus en politieke onstabiliteit nie, dit wakker ook wantroue en selfs rassehaat aan in ’n land wat swaar gebuk gaan onder die impak van die virus.

Dit is belangrik dat wetgewing en ander regulasies ingestel moet word teen hierdie moedswillige en doelbewuste saai van onrus. Hopelik bestaan die kundigheid om die oorsprong van die onverantwoordelike en opruiende berigte op sosiale media te kan bepaal en die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die mense in ons mooi land verdien nie dié opstokers en hul verskuilde agendas nie. Daar rus ook ’n dure verantwoordelikheid op verantwoordelike mense om nie dié fopnuus te deel nie. Ons behoort eerder die hoofstroommedia te ondersteun as om op sosiale media staat te maak.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Fopnuus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.