Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staan op as jy sat vir selfone en DStv is
Johan van Wyk

Rut kon natuurlik nie droom dat dit tot ’n vergelykende bewys van haar getrouheid sou lei nie, maar wie sal stry dat ’n selfoon sinoniem geword het met haar belofte aan haar skoonmoeder, Naomi?

“Waar u gaan, sal ek gaan,” het sy gesê.

Behalwe ek. Ja, ek het ’n selfoon, so agter die klip is ek nie. Om die waarheid te sê, ek het al drie gehad. Die jongste een is nou al drie weke soek. Ek hoop om hom nie op te spoor nie en het my vrou verbied om my nommer te bel ten einde vas te stel waar hy hom bevind.

Per ongeluk in my wheelie bin saam met pampoenskille, hoop ek heimlik.

Is ek alleen? Sal almal wat siek en sat is vir hul selfone (en DStv) asseblief opstaan?

Ek hoor daagliks van mense wat siek en sat is vir hul selfone.

Dankie. Soos te wagte is die reaksie oorweldigend. Min of meer, sou ek dink, soos met die vermeerdering van die vissies en broodjies tydens die bergpredikasie.

Ek hoor daagliks van mense wat siek en sat is vir hul selfone. En, as ek ’n stertjie van massa- ontevredendheid mag bylas, vir die ál duurder wordende DStv-pakkette, gelaai met herhalende snert.

Ek verwag dat ontnugterde kykers uit magtelose frustrasie hulle TV-stelle binnekort nie meer met ’n baksteen van sponsrubber sal gooi nie, maar met ’n regte een. As jy nie reeds jou antenna met jou dubbelloophaelgeweer van jou dak geskiet het, toe dieselfde derderangse fliek die 78ste keer vertoon is nie.

Dink die base by DStv ons ly aan kort­-termyn-geheueverlies? Ek darem nog nie, hoewel ek al vergeet het waar ek by ’n winkelsentrum geparkeer en gevrees het my kar is gesteel.

Daar is gespot en gelag toe die storie die ronde doen. Nie ek nie.

My ou vriend, Willie Naald, lankal saliger, het by geleentheid slegter gevaar. Hy moes ’n brood gaan koop terwyl sy vrou in die kar voor die winkelsentrum wag. Pleks van terug te loop kar toe, het hy met die brood onder sy arm voetgeslaan ouetehuis toe.

Daar is gespot en gelag toe die storie die ronde doen. Nie ek nie.

Ek het ook nie gelag nie, maar geduldig en met waarderende aandag geluister wanneer ou Willie my vir die soveelste keer vertel het hoe die Renosterrivier by Perdekop, Calvinia, in 1981 sy walle oorstroom en ’n see van verwoesting agtergelaat het.

Elke keer as ek gesê het: “Wragtag, ou Willie!”, sou hy beaam “Net só!” Ek kon dit nie oor my hart kry om hom reg te help nie.

Daarteenoor vertel my kinders my gereeld effens smalend dat ek agter die klip is omdat ek nie op Facebook en Twitter is nie, nie WhatsApp nie, en nie vir hulle ’n foto stuur van die bord mieliepap wat ek vanoggend vir ontbyt geëet het nie.

Wat hulle nie weet nie, is dat ek saans my familie en vriende op ’n Telkom-foon per landlyn bel en ure lank gratis gesels.

Soos ou Stevie Wonder sing: “I just call to say I love you!”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Selfone  |  Kommunikasie  |  Dstv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.