Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staat kan SAL nie in lug hou

Die trogvreters by die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet tog nie onder die illusie verkeer dat sakeredding die voortbestaan van die lugdiens en hul plekkie by die krip sal waarborg nie.

Dawie se verspieders sê dit was ’n hittete of dit was likwidasie. Vrese dat dit ander staatsondernemings (soos Eskom) se krediteure paniekerig kan maak en hulle hul lenings kan terugroep, het die regering glo op die laaste nipper anders laat besluit.

Dawie

Die Maatskappyewet bepaal egter dat die sakereddingspraktisyn ná ’n deeglike ondersoek moet bepaal of daar ’n redelike kans is om die onderneming te red. Nugter weet wat die SAL se praktisyn nog alles gaan aantref, veral synde die lugdiens al sedert 2017 versuim om sy finansiële resultate te publiseer. Wat wel seker is, is dat jy nie net eenvoudig kan aanneem dat die lugdiens gered kan word nie.

Dawie dink onwillekeurig terug aan die finansminister Tito Mboweni se skoot oor die boeg van sukkelende staatsondernemings in Februarie. Die boodskap was toe al duidelik: Die voortbestaan van dié ondernemings is g’n uitgemaakte saak nie en die tyd dat die regering geld in ’n oënskynlik bodemlose put stort, is nou verby.

Maar gegewe die omvang van die krisis by Eskom, het die trogvreters by ’n “mindere verkwister” soos die SAL dalk nog gehoop dat hulle nog ’n wyle sou kon wegkruip in die beurtkrag-donkerte wat die kragopwekker oor ons werp. En toe breek die staking die SAL-kameel se rug finaal.

Terwyl Dawie wel begrip het vir die feit dat die terugbetaal van staatsgewaarborgde skuld belangrike implikasies vir krediteure en die staat se kredietwaardigheid kan hê, moet realisties na die SAL-krisis gekyk word.

Punt is: Daar is lugdienste wat weet hoe om winsgewend sake te doen. Los dit dan vir hulle en moenie nog langer droom oor hierdie “strategiese” of “patriotiese” visie nie.

Eerstens het Pravin Gordhan, toe hý nog minister van finansies was, reeds in 2016 sy voet dwars gesit en gesê die tesourie gaan nie weer belastingbetalersgeld gee vir reddingspakkette as ingrypende bestuurs- en strukturele hervorming nie by die tegnies bankrot lugdiens ingestel word nie.

Desondanks het die tesourie nóg miljarde rande gehoes om te voorkom dat die lugdiens gelikwideer word. Ook dít het beland in die bodemlose put waarin meer as R30 miljard al sedert 2008 gestort is, met ’n rits “omkeerplanne” waarvan dadels gekom het.

En die feit dat die Zuptas se greep op staatsondernemings verbreek is, beteken allermins outomaties dat die SAL nou gered kan word. Die regering behoort nou te erken dat sy volgehoue aandrang dat die SAL in staatsbesit bly, lank voordat die Guptas op Waterkloof neergestryk het, een faktor is wat die SAL in só ’n groot krisis gedompel het.

Die lugdiensbedryf is in die gunstigste tye en selfs in die hande van die bekwaamste bestuurders uiters taai en die winsmarges dun. Die regering moet nou eenmaal erken dit is nie ’n bedryf waarvoor die staat rats genoeg is nie.

Hier is al herhaaldelik geskryf dat Suid-Afrika nie hoef vas te klou aan die uitgediende opvatting dat daar ’n lugdiens in staatsbesit moet wees nie – ten minste nie om die hopelose redes wat die regering daarvoor opdiep nie.

Switserland en Oostenryk is heel gemaklik daarmee dat hul eertydse staatslugdienste nou filiale van die Duitse lugdiens Lufthansa is. Dit pla Australië nie dat Qantas sedert 1992 in private besit is nie. Kenya Airways vaar veel beter sedert hy ’n vennootskap met KLM en ’n konsortium banke gesluit het.

Punt is: Daar is lugdienste wat weet hoe om winsgewend sake te doen. Los dit dan vir hulle en moenie nog langer droom oor hierdie “strategiese” of “patriotiese” visie nie. Vir die belastingbetaler is daar niks “patrioties” of “strategies” aan miljarde rande wat in ’n donker put verdwyn nie.

Meer oor:  Regering  |  Dawie  |  Sal  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.