Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatsdiens lê op sy sterfbed

As Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), se ouditverslag oor die staatsdiens ’n koorspen was, lê die staatsdiens op sy sterfbed.

Luidens dié skokverslag is in 2018-’19 ’n verbluffende R62,6 miljard onreël­matig bestee.

Dawie

Makwetu het gesê dit verteenwoordig ’n volgehoue verswakking in ouditresultate en het ’n beroep op die regering gedoen om dringend op te tree. Hiermee slaan hy die spyker op die kop.

Die vraag is egter of die politieke wil nou daar gaan wees in die Ramaphosa-regering, want vorige ANC-regerings het dit bepaald nie gehad nie.

Die harde waarheid is dat die ANC graag hoog opgee oor die stryd teen korrupsie en wanbesteding, maar intussen kom gans te veel korruptes eenvoudig met hul misdade weg.

Dawie lê byvoorbeeld vandeesweek heel toevallig sy hand op ’n verslag van die staatsdienskommissie wat in 2011 uitgereik is – agt jaar gelede en nog voor die Guptas hul kloue in die staatskas geslaan het.

  • Uit dié verslag het tóé reeds geblyk: Tot 60% van die staatsdepartemente het “geen basiese ondersoekvermoë” na korrupsie nie. En waar gevalle wel ondersoek word, word dit dikwels “sonder geldige redes” gestaak.
  • Binne ’n jaar was daar ’n toename van 346% in die koste wat finansiële ongerymdhede meebring. Dié bedrag het gestyg van R100,1 miljoen in 2008-’09 tot R346,5 miljoen in 2009-’10. (Dawie gee nie pryse vir lesers wat kan raai wie in hierdie tydperk president geword het nie!)

In 2012 het die Staatsdienskommissie bevind dat selfs in gevalle waar interne tugprosedures ingestel is weens korrupsie en ’n skuldigbevinding gevolg het, meer as driekwart van dié gevalle nie verwys is vir strafregtelike vervolging nie.

Jaar ná jaar het die OG en die staatsdienskommissie harde woorde oor kwessies soos dié, maar dinge gaan stelselmatig net slegter.

Daarom is dit te verwelkom dat die OG nuwe magte gekry het om wan­bestuur te bestry. Hy kan byvoorbeeld ongerymdhede na die tersaaklike ondersoekeenheid verwys en as daar nie aan sy aanbevelings gehoor gegee word nie, mag hy skuldsertifikate aan rekenpligtige beamptes uitreik wat hulle persoonlik aanspreeklik kan hou.

Dis ’n goeie begin, maar die groter uitdaging voor die deur van pres. Cyril Ramaphosa is om die ANC-kultuur van nieverantwoordbaarheid en anderpad-kyk uit te roei.

Dit is dié kultuur van anderpad-kyk wat dit moontlik maak dat iemand soos Julius Malema basies kon maak en breek soos hy wil, totdat hy ’n politieke bedreiging word.

Dit is dié kultuur wat maak dat iemand soos John Block, eertydse ANC-leier in die Noord-Kaap en LUR vir finansies, nog lank in sy pos kon bly ondanks ’n strafsaak van bedrog, korrupsie en geldwassery teen hom.

Dis dié kultuur wat dit moontlik maak vir Tony Yengeni, ’n veroordeelde bedrieër, om aangestel te word as die voorsitter van die party se werkgroep oor misdaad en korrupsie.

Vandag is dit steeds dié einste kultuur wat veroorsaak dat die ANC kan sê oudminister Bongani Bongo, wat tereg staan op aanklagte van korrupsie, kan maar knus bly sit in sy pos as portefeuljekomiteevoorsitter oor binnelandse sake.

Hierdie kultuur het die ANC reeds tot op die rand van die afgrond gebring, want anderpad-kyk en nieverantwoordbaarheid het dit ook moontlik gemaak dat Zuma uiteindelik voorgestoot is as die beste wat die party het.

En omdat die ANC die staatsdiens beskou as uitvloeisel van die party, het dié dodelike siekte ook dáár posgevat.

Kan dié pasiënt nog gered word?

Meer oor:  Menings  |  Dawie  |  Uit My Politieke Pen  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.