Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatskaping het al by stroop van perlemoen begin

Perlemoenstropery is toegelaat om pos te vat en selfs te groei. Waar het dit alles begin? wil MC Botha weet.

’n Polisielid by ontskulpte perlemoen waarop beslag gelê is. Foto: MC Botha

’n Onlangse berig in die Hermanus Times dat Beverley Schäfer, LPW en voorsitter van die staande komitee oor ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou, gesê het dat daar geen politieke wil is om perlemoenstropery te keer nie, het my laat wonder wanneer dié woorde die eerste keer verskyn het.

Glo dit of nie, maar dit was ’n kwarteeu gelede. Met ander woorde, in 25 jaar se tyd het niks verander nie; altans, in dié tydperk is die onwettige bedryf sienderoë nie net toegelaat om pos te vat nie, maar ook om eksponensieel te groei.

Waar het dit alles begin?

Helaas, met die koms van demokrasie. Tot die laat 1980’s was die wettige uithaal van perlemoen deur ’n 50-stuks kommersiële perlemoenduikers – hoofsaaklik van Hawston – ’n relatief goed georganiseerde bedryf.

’n Totale verbod op die uithaal van perlemoen deur die publiek, of sportduikers, is ingestel, ’n skreiende onreg teen die wetsgehoorsame burgery.

Hierdie duikers het perlemoen uitgehaal danksy kwotas, uitgedruk in tonnemaat, wat op die ope mark beskikbaar was volgens vraag en aanbod, hoewel daar ’n statutêre plafon van sowat 600 ton ingestel is ter wille van die beskerming van die bron. Nuwe toetreders tot die bedryf het honderdduisende rand opgedok om kwotas te bekom.

Maar die tussentydse Grondwet wat de facto regte aan niks minder nie as misdadigers en skurke verleen het, het tussen 1992 en 1995 daarvoor gesorg dat die uithaal van perlemoen in ’n “free for all” ontaard het.

Wettige kwotas se waarde het tot zero geval, en omdat die owerhede die ineenstorting stilswyend aanvaar het, het gerugte dadelik begin vlieg dat grootkoppe in die departement seevisserye (soos dit toe genoem is), ’n hand in die verwikkelinge het, om nie te praat van korrupte polisielede nie en nog later tenderpreneurs.

Die kus rondom die afgeleë Mudge Point tussen Hawston en Vermont het eerste aan die beurt gekom, en toe perlemoen eers daar uitgeroei is, het Vermont, Onrus en Schulphoek gevolg, daarna Bettysbaai en Gansbaai.

Verbod skreiende onreg teen wetsgehoorsame mense

Perlemoenskulpe met hul unieke kleure word deesdae selfs in die juweliersbedryf benut. Foto: MC Botha

’n Totale verbod op die uithaal van perlemoen deur die publiek, of sportduikers, is ingestel, ’n skreiende onreg teen die wetsgehoorsame burgery. ’n Paar hardebaarde het gedreig om net een of twee keer met ’n swaarkaliber geweer, afgevuur vanuit ’n wegkruipplek in die bosse, ’n stroper se knieë flenters te skiet in ’n poging om die plundering te probeer stuit. Sulke wraakgedagtes het egter nooit gerealiseer nie.

’n Lys van stropers is wel anoniem opgestel en wyd versprei, maar die skuldiges het net al die pad bank toe gelag.

Die magte oor ons het darem nie heeltemal stilgesit nie. In snelle opeenvolging het hooggeplaaste provinsiale polisieoffisiere Hermanus besoek; Frank Kahn, prokureur-generaal van die Wes-Kaap, het ’n draai kom maak, asook Marthinus van Schalkwyk, die Wes-Kaapse premier, terwyl ministers soos Steve Tshwete, Dullah Omar en Valli Omar ook ’n stuiwer in die armbeurs kom gooi het.

Operasie Neptunus is gestig en ’n asbesgeboutjie langs die landdroshof is opgeslaan om die land se eerste omgewingshof tot stand te bring, spesifiek om sake oor perlemoenstropery te behartig.

Intussen het perlemoen, Haliotis midea, al vinniger na die rand van uitwissing beweeg. Maar hierdie buikpotige weekdier gryp nie die verbeelding van die publiek aan soos byvoorbeeld renosters nie, en daar was nog nooit ’n “save the abalone” veldtog soos met “save the rhino” nie. Dalk vanweë die arme dier se voorkoms: Hollanders aan die Kaap het haar clipkont gedoop, en eeue later het wettige duikers wat dit kortstondig oorweeg het om ook te begin stroop, uitgeroep dat hulle nie hul lewe sal waag vir “ ’n bol snot met ’n crash helmet op” nie, terwyl Pieter Pieterse gesê het: “Daar’s net twee goed wat lyk soos ’n perlemoen, en een is ’n perlemoen.”

’n Brief aan Mandela

Gekonfiskeerde perlemoen in die agterplaas van die Hermanus-polisiekantoor in Oktober 2005. Foto: MC Botha

In die gees van konstitusionele vryheid wat die land oplaas getref het, maar terselfdertyd misdaad laat gedy het soos altyd ná die val van ’n polisiestaat gebeur, het sogenaamde polisie-gemeenskapskakelforums oral tot stand gekom. Hermanus se forum het ’n weldeurdagte dog dringende pleidooi aan pres. Nelson Mandela gerig om persoonlik in te gryp om die slagting van die bron te keer, want onomstootlike bewyse het aan die lig gekom van die betrokkenheid van triads – ’n soort Chinese mafia – en ander misdaadsindikate by onwettige perlemoenhandel, asook kinderprostitusie en dwelmhandel. Mandela se kantoor het nie eens ontvangs van die brief erken nie, en ’n opvolgskrywe van die forum daarna, óók nie.

Ondertussen het seevissery wat toe al ’n bankrot departement was, al meer baat gevind by die verkoop van gekonfiskeerde perlemoen. Woordvoerders van die departement het ironies, sonder dat hulle dit eens besef het, na die konfiskering van perlemoen as “suksesse” of “deurbrake” verwys, hoewel almal met gesonde verstand geweet het dat enige perlemoen wat onwettig uit die see gehaal word – dikwels piepkleintjies – juis wys op die onvermoë van die staat om die land se natuurlike erfenis te bewaar.

Dis soos om te dink dat ’n renosterhoring wat gevind word nadat die dier eers vermink en gedood is, ’n “suksesvolle” vonds is. Die “sukses” rakende beslaglegging op gestroopte perlemoen was en is steeds net die bewys van klaaglike mislukking.

MC Botha

In ’n poging om kop bo water te hou het seevissery met tyd in sy jaarlikse begroting voorsiening gemaak vir inkomste verkry uit hierdie gekonfiskeerde perlemoen, wat van die hand gesit is op ’n tenderbasis wat gestink het van korrupsie.

Honderdmiljoene rand was ter sprake. Na betragting was hierdie metodiek die eerste babatreetjies wat in die nuwe eeu sou uitgroei tot volwaardige staatskaping en bedrog van miljarde.

Dis toe dat die Hermanus Times in ’n hoofartikel geskryf het dat daar geen politieke wil is om perlemoenstropery te keer nie.

Soos die kamerade mekaar eens moed ingepraat het: a luta continua. En die vraag, “Hoe lank nog?” bly vandag onbeantwoord soos nooit tevore nie.

* Volgens ’n verslag in September 2018 van die internasionale waghondorganisasie Traffic is daar sedert die begin van die eeu 96 miljoen individuele perlemoene uit Suid-Afrika na Hongkong gesmokkel. Hongkong word beskou as die swartmark-hoofstad vir perlemoen. Die jaarlikse waarde van die onwettige bedryf word op minstens $60 miljoen beraam.

* ’n Boek oor perlemoenstropery – Poacher, Confessions from the abalone underworld – deur Kimon de Greef het einde laasjaar by Kwela verskyn. De Greef tree op 5 Maart by die Woordfees op.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël noe noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Mc Botha  |  Bettysbaai  |  Gansbaai  |  Onrus  |  Perlemoenstropery  |  Perlemoen  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.