Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatskaping, rassisme, fopnuus en Pravin se einde

Die monster van staatskaping staan aan die voorpunt van die veldtog om Pravin Gordhan te diskrediteer, skryf Pieter du Toit.

Pravin Gordhan (regs), minister van openbare ondernemings, verduidelik iets aan pres. Cyril Ramaphosa op een van die mediakonferensies wat onlangs oor Eskom gehou is. Foto: Gallo Images

Gordhan – voorheen die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), twee keer minister van finansies en nou minister van openbare ondernemings – is op sistematiese wyse gedemoniseer as korrup, onbevoeg en die belangrikste rede vir Eskom se verval.

Sy demonisering is grootliks, hoewel nie eksklusief nie, aangedryf deur oorblyfsels van die staatskaping-projek in die regering en die ANC wat ’n gemene saak het met diegene wat deur die staat en semistaatsinstellings uitgeskop is en van wie baie in die dampkring van Julius Malema se EFF is.

Dit is aangedryf deur sy eie “kamerade” in die kabinet en die party wat ryk geword het uit die misdadige projek van die vorige regering en deur die normalisering van gediskrediteerde figure soos Matshela Koko.

Rassisme het ’n groot deel van dié demoniseringsprojek uitgemaak met elemente in die ANC en EFF en buite amptelike strukture wat sy Indiese afkoms gebruik as ’n manier om hom en sy lynhoof, pres. Cyril Ramaphosa, aan te val. Sy tweede naam word gebruik om hom te verkleineer en te spot.

Die veldtog teen Gordhan is ook deur fopnuus aangeblaas.

Onthou julle nog Malema en die EFF se aanslag op Gordhan buite die Zondo-kommissie in Oktober 2018 en die manier waarop dié party Indiërs in die visier gehad het, spesifiek dié wat vir die nasionale tesourie gewerk het – die staatskapingsprojek se groot prys?

Die veldtog teen Gordhan is ook deur fopnuus aangeblaas.

Die gediskrediteerde voormalige uitvoerende hoofde van Eskom, Matshela Koko (die man wat op Carte Blanche gelieg het) en die huilende Brian Molefe, het ’n spesifieke narratief op sosiale media oor Eskom se probleme gedryf, terwyl hulle hul eie aandadigheid aan dié nuts-maatskappy se dreigende ineenstorting goedgepraat het.

Koko is selfs ’n platform as ’n “onafhanklike energiekenner” in die media gegee terwyl hy nog antwoorde verskuldig is vir die reeks bewerings oor korrupsie en wanbestuur.

Veelkoppige monster van staatskaping

Pieter du Toit

Die EFF het ook ’n groot rol gespeel in die pogings om Gordhan te diskrediteer.

Hulle het die gewillige openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, nadergetrek om ’n reeks ondersoeke teen hom van stapel te stuur terwyl hulle beweer het hy het geld uit die land in ’n Kanadese bankrekening oorgeplaas – ’n bewering wat sonder enige bewyse gemaak is en sedertdien as vals bewys is, maar in baie oorde as die absolute waarheid beskou word.

Maar dit is die verskanste, vormveranderende en veelkoppige monster van staatskaping wat die grootste rede vir Gordhan se ondergang is. Die terugvegpoging teen die hervormings, wat grootliks deur Gordhan gedryf is, was aggressief en wraaksugtig. Die “diep gekaapte staat” was onverbiddelik in sy weerstand, en dit was nêrens meer so as in Eskom met sy lae van bestuurders nie.

Daar is geen twyfel nie dat meer gedoen kon word om Eskom te herstruktureer en te herstel.

Dit is ’n jaar sedert die herstrukturering van die maatskappy die eerste keer geopper is en meer as ’n jaar sedert Gordhan en die regering aan die Eskom-vakbonde oorgegee het en inflasieverwante salarisverhogings toegestaan het.

En daar is ook geen twyfel nie dat Ramaphosa se lamsakkige leierskap Gordhan se posisie in die party verswak het.

Maar daar is ook geen twyfel nie dat Eskom oor die jare heen in die grond in bestuur is met die uitgebreide netwerke van patronaatskap wat gefloreer het onder die leiers van oudpres. Jacob Zuma en sy minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, wat nou veg om staande te bly, wat veg teen hervormings en wat veg om hul toegang tot staatsbronne te behou.

As Gordhan suksesvol wil wees, sal hy moet wegstap van die party se dogma en stigma en doen wat ook al nodig is om Eskom te stabiliseer en te red.

Daar is middel- en senior bestuurders in Eskom wat lojaal bly aan die staatskapingsprojek. Hulle blokkeer en saboteer en hulle verdoesel en sleep die voete. En dit word gedupliseer elders in die staat.

As Gordhan suksesvol wil wees (of hoop om ooit suksesvol te wees), sal hy moet wegstap van die party se dogma en stigma en doen wat ook al nodig is om Eskom te stabiliseer en te red, en dit sluit die verdeling en verkoop van die maatskappy aan private beleggers in.

Dit was Gordhan se uitdaging. Om die misdadige omgewing wat die staat en party geword het te navigeer en terselfdertyd te probeer om ’n skyn van goeie regering en beheer in ’n reusagtige staatsonderneming in te voer waar korrupsie en oordaad al deel van die kultuur geword het.

En dit lyk of dit selfs vir Gordhan, wat die SAID gebou en die nasionale tesourie tot op die einde verdedig het, ’n onmoontlike taak is.

Dit lyk of die aanslag op Gordhan besig is om te slaag.

* Du Toit is die assistentredakteur van News24. Dié rubriek het aanvanklik op News24 verskyn. 

Meer oor:  Anc  |  Eff  |  Eskom  |  Jacob Zuma  |  Julius Malema  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Staatskaping  |  Korrupsie  |  Fopnuus  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.