Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatskaping se einde nie in sig
Leopold Scholtz

Baie rugby-ondersteuners raak gefrustreerd oor hul span se wisselvallige vertoning – die een keer briljant, die ander keer swak. Een rede daarvoor is die feit dat jy so goed is as wat die opposisie jou toelaat. Dié waarheid kan jy ook op die politiek toepas.

Die groot vraag in die huidige Suid-Afrikaanse politiek is hoe dit gekom het dat die staat in so ’n mate deur misdadigers van buite gekaap is.

Soos met alles in die lewe is die antwoord veelsydig.

Een antwoord is dat die wortels van die ANC se onbekwaamheid, chaotiese gedrag en sy korrupsie reeds in die struggle-tyd gevind kan word. Die ANC se geskiedenis van voor 1990 verklaar baie van wat ná 1994 gebeur het.

Maar daar is ook ’n meer regstreekse antwoord. Soos die ander span vandag besonder goed op die rugbyveld vaar omdat mý span dit toelaat, só kon die staatskapers hul gang gaan omdat die ANC-regering dit toegelaat het.

Nie alleen het die ANC nagelaat om die staatskapers se senters behoorlik te lak as hulle deurbreek nie, hulle het selfs die bal in die staatskapers se hande gegooi sodat dié agter die pale kon gaan druk. In baie gevalle, so word steeds duideliker, het ’n paar sente agterna van eienaar verwissel.

Eindelik is daar nou iemand wat die durf het om te sê dat die keiser kaal is. Sy naam is Raymond Zondo, adjunk-hoofregter en voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping.

Hy het vandeesweek aangekondig dat hy voornemens is om ’n taakspan aan te stel om te kyk of die parlement sy rol as toesighouer oor die kabinet voldoende uitgevoer het. Hopelik sidder ’n paar broeke in die ANC-banke hieroor.

Suid-Afrika se staatsregtelike stelsel vergemaklik die gebrek aan toesig waarna Zondo verwys.

Ons het die Britse stelsel oorgeneem en effens aangepas. By ons is koukusdissipline behoorlik streng.

Ons het die Britse stelsel oorgeneem en effens aangepas. By ons is koukusdissipline behoorlik streng.

Die president – voor 1984 was dit die premier – is die effektiewe baas van die plaas; hý bepaal wat moet gebeur, en van die koukuslede word in mindere of meerdere mate verwag om soos skape agter hom aan te loop.

Daar was ’n kortstondige tyd in die jare negentig dat die wetgewende gesag sy grondwetlike taak om toesig oor die uitvoerende gesag te hou behoorlik nagekom het.

Maar reeds teen die einde van oudpres. Nelson Mandela se bewindstyd het dit duidelik geword dat die ANC-leiers moeg raak van “lastige” koukuslede wat hul pligte as toesighouers ernstig opgeneem het.

Dis hoekom die erge korrupsie van die wapenskandaal uiteindelik oorwin het, al was daar ANC-parlementslede wat kwaai wal gegooi het.

In die tyd van oudpres. Thabo Mbeki het dit van kwaad na erger gegaan, net om in oudpres. Jacob Zuma se periode ’n absolute dieptepunt te bereik.

Die gevolg was dat die Zuptas en Bosasa’s se skaamtelose staatskaping nie alleen voor die oë van die ANC-koukus en -leiers plaasgevind het nie, maar dat dié in vele gevalle self ingespring het om te “eet”.

Dit is ’n saak waar die meeste ANC’s in die parlement (en eintlik op alle regeringsvlakke) ’n morele bankrotskap agterlaat wat die party moeilik, indien ooit, van hom sal kan afskud.

Pres. Cyril Ramaphosa maak die indruk van iemand wat die erns van die probleem besef.

As rasionele mens sien hy blykbaar in daar is iets belangrikers as sy eie beursie, naamlik die welsyn van die land en al sy mense.

Maar al het Ramaphosa deur die verkiesingsuitslag ’n magsbasis in eie reg verkry, is daar steeds te veel staatska­pers wat hom ondermyn. Ons is nog lank nie van staatskaping ontslae nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Zondo-Kommissie  |  Koukus  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.