Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatsrede g’n droom

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was nie ’n onhaalbare droom nie, maar het gewemel van positiewe ondernemings wat die land op die pad van stabiliteit en voorspoed kan plaas as daarvan werk gemaak word, skryf Christo van der Rheede.

Pres. Cyril Ramaphosa luister verlede Donderdagaand buite die parlement na die volkslied voordat hy sy staatsrede gelewer het.Foto: ap

Die opmerkings deur politieke leiers en politieke kommentators ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was allesbehalwe vleiend.

Die meeste het dit afgemaak as ’n onhaalbare droom en Rama­phosa daarvan beskuldig dat sy rede mank gaan aan detail.

As ’n mens egter die staatsrede in detail bestudeer en ontleed, is daar ’n hele klomp positiewe ondernemings waartoe hy hom verbind – wat, indien dit wel realiseer, die land op ’n pad van stabiliteit en voorspoed sal plaas.

Dis nou as die president, sy kabinet, die tegnokrate oor wie hulle moet toesig hou, asook die staat, daadwerklik werk maak daarvan.

’n Doeltreffende staat

Daarom dié vertrekpunt. Die staat het ’n kritieke rol as fasiliteerder van basiese dienslewering en kritieke infrastruktuur te vervul. Dit is ook ’n reguleerder wat reëls maak en gelyke geleenthede vir almal skep. En as herverspreider moet dit seker maak dat die mees kwesbare lede van die samelewing beskerm word en ’n geleentheid gegun word om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.

So sê die president.

Hy verbind hom daarom tot die vestiging van ’n doeltreffender staat. Dít verdien na my mening almal se steun.

Die vraag is egter wat die faktore is wat doeltreffendheid ondermyn en hoe hy en sy kabinet dit gaan oorkom.

Want hef aan lê voor. Dit spel hy ook uit in sy staatsrede.

Die ekonomie groei nie. Daar word nie genoeg werkgeleenthede geskep nie. Tegnologiese en klimaatsveranderinge is aan die orde van die dag. Die voortstuwende staatskuldtrajek en nypende openbare finansiestekort vra vir ingrypende stappe om dit te stabiliseer. Nog meer, niemand is meer veilig in Suid-Afrika nie.

Ten einde hierdie uitdagings te oorkom, onderneem hy om ’n land te vestig waarin alle mense veilig is en veilig voel.

Ook wil hy ’n nuwe nasie bou waarin alle Suid-Afrikaners gelyke regte geniet en geleenthede uitgebrei word. Hy onderneem ook om langdurige vennootskappe tussen die regering, sakelui, arbeid, gemeenskappe en die burgerlike samelewing deur middel van ’n nuwe maatskaplike akkoord te vestig.

Boustene

Die boustene wat dit moet onderlê, stippel hy soos volg uit:

Daar moet aan mense se basiese behoeftes voldoen word. Die ekonomie moet reggeruk word om armoede hok te slaan. Die makro-ekonomiese en fiskale beleidsraamwerk wat die onderbou daarvan vorm, moet vertroue inboesem en investering kan lok. Daarmee saam moet staatslenings verantwoordelik bestuur en streng bestedingsbestuur toegepas word. Dít is bitter nodig om openbare finansies te stabiliseer en die skuldtrajek te verlaag.

Ook moet die ekonomie meer werksgeleenthede vir die jeug skep as wat tans die geval is. Geen mens in Suid-Afrika sal honger ly nie. Die ekonomie sal teen ’n baie vinniger tempo as ons bevolking groei. Twee miljoen meer jong mense sal werkgeleenthede hê. Skole sal beter onderwysuitslae behaal en elke tienjarige kind sal met begrip kan lees. Die doelwitte is haalbaar mits die nodige steun aan landbouers, entrepreneurs, beleggers en onderwysers gegee word.

Geen mens in Suid-Afrika mag honger ly nie, het pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede gesê. Foto: William McIntosh

Roei misdaad uit

Wat my egter pla, is sy onderneming om geweldsmisdaad met die helfte te laat afneem. Waarom nie misdaad heeltemal uitroei nie, meneer die president?

Moord en doodslag vier hoogty. Niemand is meer veilig in ons land nie. Nie die boere en hul families op afgeleë plase nie. Nie die kinders wat in die spervuur van bendes in townships beland nie. Nog minder weerlose vroue. Misdadigers het geen, maar geen re­spek vir reg en orde nie.

In dié verband sal hy sterker standpunt moet inneem en daarmee saam stappe van stapel moet stuur om misdaad met wortel en tak uit te roei. Nie net te halveer nie. Maar kom ek gee die president die voordeel van die twyfel.

Want, soos hy tereg opmerk in sy staatsrede, verg die verwesenliking van hierdie ideale daadwerklike stappe. Stappe wat die grootste impak sal hê op implementering. Dis hier waar die pap dikwels op die grond val.

Etiese, bevoegde staat

Om dit teen te werk onderneem hy om ’n bevoegde, etiese en ontwikkelende staat te vestig. Hiermee is ons dit almal eens. Beteken dit egter in die praktyk dat ’n meer nierassige aanstellingsbeleid ingestel sal word? Een wat eerder op bevoegdheid fokus as die najaag van demografiese teikens? Een wat nie op ras gegrond is nie, maar eerder op talent?

Met bekwame en etiese mense is alles moontlik. Die onderneming om goed geleë behuising te vestig en om die vermoë van hospitale en klinieke uit te bou vereis bevoegde hande.

Van ons openbare hospitale en klinieke is in ’n bedenklike toestand weens gebrekkige leierskap, toesig en beplanning.

Ruk dit eers reg, want dit lê die grondslag vir die Nasionale Gesondheidversekering (NGV) wat in die vooruitsig gestel word.

So ’n inisiatief in vennootskap met, maar nie ten koste van die private gesondheidstelsel nie, kan wondere verrig.

Volhoubare kragvoorsiening

Die erkenning dat betroubare en volhoubare kragvoorsiening uiters belangrik is vir die ekonomie om te groei, vra nou vir daadwerklike ingryping.

In dié verband word die ontplooiing van Eskom se mees vaardige en ervare personeel na plekke waar die grootste behoefte is verwelkom. Daar is ook R230 miljard se fiskale ondersteuning wat beplan word vir kragvoorsiener.

Met Pravin Gordhan aan die stuur, kan Eskom moontlik spoedig reggeruk word. Die president sal hom teen die staatskapers en vakbonde moet beskerm.

As dit nie die geval is nie, sal daar dadels van die president se aksieplanne kom om deur middel van die beoogde nywerheidstrategie private beleggings te lok en om die meesterplanne te implementeer vir klere- en tekstielvervaardiging, asook vir die sektore vir gas, chemikalieë en plastiek, hernubares en staal- en metaalvervaardiging.

Christo van der Rheede

Om nie eens te praat van sy planne om die landbou- en agroverwerkingsektore uit te bou, nuwe uitvoermarkte te ontsluit, asook spesiale ekonomiese sones, plaaslike nywerheidsparke, sakesentra, digitale spilpunte en nuwe ondernemings in townships en klein dorpies te vestig, hoëspoedtreine en ’n “slim” stad te bou nie.

Sy grootste vennoot om uitvoering aan hierdie projekte te gee, is die private sektor. Dié is verbind tot ’n belegging van R840 miljard in 43 projekte wat strek oor 19 sektore en wat oor die volgende vyf jaar 155 000 werkgeleenthede sal skep.

Daarom onderneem die president om struikelblokke te verwyder, die doen van sake te vergemaklik, die koste van nakoming te verminder en permitte en ander aansoeke te outomatiseer.

Hierdie stappe, asook sy onderneming om grondhervorming binne ’n duidelike eiendomsreg­regime te laat geskied, lê die fondament vir ’n omgewing waarin ondernemings met vrymoedigheid en groter sekerheid sake kan doen.

Met so ’n geïntegreerde, pragmatiese en vennootskapsbenadering is daar wel hoop.

Maar meer nog: As ministers en staatsamptenare wat verantwoordelik is vir die uitvoer van hierdie stappe tot verantwoording geroep word vir gebrek aan optrede en die misbruik van hul poste, het ons sekerlik ’n kans op ’n beter en blinker toekoms.

Meneer die president, die bal is in jou hande, moet dit nie laat val nie.

  • Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.