Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatsrede laat steeds baie vrae

Nadat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede verlede week erg ontwrig is, is Suid-Afrikaners steeds nie seker wat die toekoms vir die land inhou nie. Ramaphosa se staatsrede was wel ietwat beter as die een in 2019.

Hy het onder meer erken dat die regering nie op sy eie die land se probleme kan oplos nie – wat moontlik dui op ’n bereidwilligheid van regeringskant vir groter deelname deur die private sektor om die land uit sy huidige ekonomiese moeras te help lei.

Ramaphosa het ook beklemtoon dat Eskom, die land se grootste ekonomiese knelpunt, in drie onafhanklike eenhede opgebreek gaan word.

Dit is niks nuuts nie, maar steeds ’n welkome herbevestiging. Ongelukkig het die president egter nie ’n tydraamwerk vir hierdie proses verskaf nie.

Dit is ook nie heeltemal duidelik wanneer hy die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe, opdrag gaan gee om onafhanklike kragverskaffers toe te laat om tot Eskom se kragnetwerk by te dra nie.

Die redes vir Mantashe se gesloer is nie heeltemal duidelik nie, maar dit kan te doen hê met ’n ingebore ideologiese weersin in enige rol vir die private sektor in die land se ekonomie.

Mantashe word gesien as die struikelblok om private kragverskaffers toe te laat om hul broodnodige bydraes tot die oplossing van die kragkrisis te maak.

Die redes vir Mantashe se gesloer is nie heeltemal duidelik nie, maar dit kan te doen hê met ’n ingebore ideologiese weersin in enige rol vir die private sektor in die land se ekonomie.

En onthou, Mantashe is per slot van sake ’n onlangse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP).

Ramaphosa het toe nie soos verwag veel van ’n aanduiding gegee oor wat die minister van finansies, Tito Mboweni, volgende week in sy begrotingsrede gaan sê nie, behalwe vir ’n verwysing na kommer oor die lae vlakke van ekonomiese groei en die krimpende inkomste van die staatskas.

Dit kan daarop dui dat Mboweni ’n besnoeiingsbegroting gaan lewer.

Voor die tyd is Ramaphosa se poging om sy staatsrede te lewer erg deur EFF-LP’s. ontwrig. Eers oor die teenwoordigheid van oudpres. FW de Klerk in die Nasionale Vergadering, en toe omdat Ramaphosa nie die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, afgedank het soos wat die rooi berets al vir ’n geruime tyd eis nie. Tog het die president nie ’n woord gerep oor die EFF se weerbarstige optrede nie.

Die EFF se optrede was nie net kru nie, dit was ook onbeskaamd, ondemokraties en ondermynend van Suid-Afrikaners se reg om na die president se staatsrede te luister.

Ramaphosa is die verkose leier van die land, met ’n bepaalde stel waardes en visie waarvolgens hy die land probeer lei.

Ramaphosa is die verkose leier van die land, met ’n bepaalde stel waardes en visie waarvolgens hy die land probeer lei. Die EFF deel duidelik nie dieselfde waardes en visie nie.

Inteendeel, die EFF vertrap dit. Die party se aandag is duidelik gerig op sy steunbasis, wat hom omtrent alles sal verskoon.

Die EFF moet egter versigtig wees om nie sy hand te oorspeel nie. Een of ander tyd sal sy ondersteuners die resultate van sy optrede wil sien – en daarop kan die party hom nie roem nie. De Klerk het nie verlede Donderdagaand die Nasionale Vergadering verlaat nie, en Gordhan is nog in sy pos.

Optrede teen die EFF se oproerigheid lê op die weg van die parlement se toesighoudende beamptes.

Die speaker, Thandi Modise, lyk baie beter in haar rol as wat haar voorganger, Baleka Mbete was. Sy het egter Donderdagaand toegelaat dat die EFF met spreekwoordelike moord wegkom.

Hierdie versuim deur die voorsittende beamptes het die EFF toegelaat om weer eens van die land en die demokrasie ’n bespotting te maak.

Die reputasie-skade is enorm en nie wat die land nou nodig het nie. Dit mag nie weer toegelaat word nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede  |  Beleid  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.