Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Staatsrede vir die knievallers
Johann Maarman

Pres. Jacob Zuma se jaarlikse bergpredikasie – ook genoem die staatsrede – was komieklik, maar ook banaal. Dit was ’n staatsrede wat geskryf is vir die ANC se knievallers.

Jaar ná jaar word maar op dieselfde ramkiekie getokkel en op die ou end is dit nie ’n staatsrede nie, maar eerder die partyrede. Dit was morbied, futloos en net ’n klomp leë beloftes wat weer afgerammel is. Jy hoor dit, maar daar is niks om na te luister nie. Kartoninhoud, noem joernaliste dit.

Die EFF word besprinkel met die etiket dat hulle maar ’n klomp politieke skorrie morries is, maar oor een ding kan ’n mens nie met hulle verskil nie. As Zuma waardigheid en respek in die parlement verdien, moet hy ’n waardige president wees. As die hoogste hof in die land beslis het dat jy jou ampseed verbreek het, kan jy nie meer roem op die titel agbare president nie.

Die EFF tree dus in ooreenstemming met hul reg as inkwisiteurs op deur ongemaklike vrae te vra. Vrae wat die ANC te bang is om te vra.

Maar die 2017-staatsrede het ook iets in die ANC ontbloot wat ons lankal weet: Agter die skanse van nierassigheid is daar nog drommels in die ANC wat sélf rassiste is.

Aan die ontvangkant in die Praathuis was John Steenhuisen, skrander DA-hoofsweep. Toe hy die ANC aan die keel beet het met ’n legitieme versoek, is uit die ANC-banke op hom gevloek. “F** jou . . . jy is ’n rassis.”

Wat is so rassisties om te vra om ’n minuut stilte vir die 94 slagoffers van die Esidimeni-skandaal? 

Dit is politieke papbroekigheid om te swets as jy nie jou sin kan kry nie.
Johann Maarman

Dit is politieke papbroekigheid om te swets as jy nie jou sin kan kry nie.

Ook is op Mmusi Maimane geskree dat hy ’n uitverkoper (sell-out) is. Wat is die definisie van sell-outs? Kwalifiseer dié wat van armes steel ook nie as sell-outs nie?

Dit wys jou net wat het van die ANC onder Jacob Zuma geword: ’n Party wat verrot is tot in sy kleintoontjie.

Die party is verrot van binne weens faksievorming, takke wat in ’n ellendige toestand is en lede wat glo ’n ANC-lidmaatskapkaart is die paspoort tot selfverryking en toegang tot openbare hulpbronne.
Die revolusionêre moraliteit wat deel was van die ANC se DNS het onder Zuma verdamp. 

Daardie waardestelsel wat die strydrosse van weleer laat veg het om die hoë ideaal van bevryding sonder om een keer te dink watter materiële voordeel dit vir hulle sou inhou, is nie meer aanwesig nie.

Een van die ANC-gebooie wat deel van dié party se handleiding geword het, is: Dit maak nie saak of jy onbekwaam is of droogmaak nie, jou getrouheid aan die ANC en jou rol in die struggle weeg swaarder as enigiets anders.

Die tweede oorsaak van die kanker in die ANC se politieke kultuur is die verpestelikheid om ras raak te sien in alles. As ’n beskuldiging na die ANC se kant toe kom, is die refleks om eers na die aantyger se ras te kyk en dan na die aard en inhoud van die aanklag.Die ANC-mandaryne vertel jou in binnekamergesprekke dat die ANC nou by sy infleksiepunt is. 

Die infleksiepunt word gewoonlik aangebring deur ’n ingrypende verandering van die omgewing, ’n onvoorsiene ramp of kragte in die organisasie wat losskiet en ’n krisis veroorsaak. 

Die ANC se infleksiepunt is Zuma. Hy is die olifant in die vertrek, maar omdat hy omring is deur sikofante, is hy carte blanche gegee om met die ANC te doen soos hy wil. 

Maar 2019 lê om die draai. Kiesers sal by die stembus praat. Onthou dit, ubaba, kiesers hou nie van grondwetlike boewe nie.

* Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.