Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stadig met lof vir taxibedryf

Een van die ironieë van die orgie van plundering, brandstigting en wetteloosheid wat twee weke gelede in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek het, was die optrede van taxi-eienaars om winkelsentrums en openbare eiendom te beskerm.

Hein Willemse

In Soweto het taxi-bestuurders ’n wakende ogie oor ’n groot winkelsentrum gehou en gesorg dat dit ongeskonde bly.

In Gqeberha het hulle ’n geswore Zumaïet sover gekry om sy aanvanklike neigings tot pro-plundering te laat vaar en onder hul subtiele maar wakende leiding openbare teen-plundering-aankondigings uit te saai.

Sulke beskermende optrede moet enige regdenkende mens natuurlik verwelkom, want as dit nie vir hul voorkomende optrede was nie, kon die gevolge veel erger gewees het.

Aan die teenkant is daar egter gerugte dat taxi-bussies in KwaZulu-Natal en elders gebruik is om buit van winkelsentra af te vervoer. So, dit sal voortydig wees om die hele taxibedryf met die helende dade van die Heilsleër te verbind.

Die taxibedryf is ’n onontbeerlike skakel in ons openbare vervoerstelsel. Dit is ook die basis van swart entrepreneurskap in die land. Die bedryf is ongelukkig ook verantwoordelik vir van die ergste mate van ongerief en ontkenning van die regte van pendelaars en hul mede-padgebruikers.

Dink maar net aan die verkeersophopings wat hulle veroorsaak as hulle een of ander protesaksie van stapel stuur.

Dis ’n totale nagmerrie wanneer honderde taxi’s in gelid ’n betoging op die N1 tussen Johannesburg en Pretoria hou of bus- en taxi-terminusse in Johannesburg, Soweto, Pretoria of Kaapstad onwettig beset.

Die taxibedryf is ’n onbetroubare bondgenoot en selfgerigte vennoot in die handhawing van reg en orde. Een goeie daad maak nie die ongerief, skade en blatante optrede van individuele bestuurders en hul assosiate oor die jare heen ongedaan nie.

Kyk byvoorbeeld na die optrede van taxibestuurders en hul verenigings in Kaapstad. Daar was ’n tyd toe Kaapse voorstedelike treine redelik betyds en veilig was. Nou kan dit nie gesê word nie. ’n Paar jaar gelede was daar gereeld berigte van treine en stasies in die Kaapse Skiereiland wat in brande verwoes is.

Hoewel niemand dit hardop sê nie, is daar ’n vermoede dat die taxibedryf ’n hand gehad het in die vernietiging van die tientalle treinwaens en treinstelle.

Hoewel niemand dit hardop sê nie, is daar ’n vermoede dat die taxibedryf ’n hand gehad het in die vernietiging van die tientalle treinwaens en treinstelle.

Trouens, die basiese vraag is: Wie vind baat by die vernietiging van so ’n kernbelangrike stuk infrastruktuur?

Dit sal niemand verbaas dat dit die taxibedryf is wat baat vind by die stelselmatige vernietiging van die Kaapse voorstedelike treindiens en die uitgebreide spoorstelsel nie. Nou is dit die beurt van die Kaapstadse busvervoerstelsel. Tientalle busse van ’n busmaatskappy loop deur onder saakbeskadiging en busbestuurders word geïntimideer, aangerand en selfs verwond.

Die afgelope paar maande teister die Kaapse taxiverenigings Cata en Codeta gewone taxi-passasiers met die ergste geweld oor ’n taxiroete tussen Bellville en ’n buiteliggende township, Mbekweni. Meer as 60 mense is die afgelope paar maande in die geweld dood.

Dit is eers die afgelope week dat die saak tot ’n punt gedryf word. Dit moet wel die Wes-Kaapse regering ter ere nagegee word dat hy probeer om die geweld en wanorde in die plaaslike taxibedryf in bedwang te bring.

Voordat ons mirre-olie oor die taxibedryf as geheel uitstort, moet ons hulle versoek om omgee en gemeenskapsorg ’n kerndeel van hul daaglikse bedrywe te maak.

  • Prof. Willemse is verbonde aan die departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Hein Willemse  |  Plundering  |  Taxibedryf  |  Beskerming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.