Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Standpunt
Poort tot herstel van ekonomie

Die ideologiese en filosofiese onderbou van Tito Mboweni, minister van finansies, se aangepaste begrotingsrede bied veel stof tot nadenke. Hy haal Matteus 7 verse 13 en 14 aan: “Gaan deur die nou poort, want breed is die poort en breed is die pad wat tot ondergang lei en baie betree dit. Maar die poort wat klein en smal is, dit lei tot die pad van lewe, en net ’n paar vind dit.”

Christo van der Rheede

Hy meen Suid-Afrika word deur ’n keuse tussen die twee poorte gekonfronteer. Die smal of die breë poort. Terwyl die breë weg die afgelope dekade veral groot aanklank by populistiese en korrupte politici gevind het, het dit tot grootskaalse ekonomiese verval gelei. Dit is nou die taak van Mboweni om die ekonomie op die herstelpad te plaas. Daarom sy wekroep.

Wat die ekonomie betref, is daar vele uitdagings.

Die amptelike werkloosheidsyfer staan op 30,1%. Verder word ’n inkrimping in die bruto binnelandse produk (BBP) van 7,2% voorspel.

Die bruto belastinginkomste wat in die eerste twee maande van die boekjaar ingesamel is, het R142 miljard beloop­. Die tesourie is R35,3 miljard agter­ die teiken. Van groter kommer is die hersiening van die bruto belastinginkomste van R1 430 miljard tot R1 120 miljard. Dit beteken die tesourie sal die belastingteiken vir die jaar met meer as R300 miljard misloop.

Die bruto nasionale skuld, so word geraam, sal R4 000 miljard of 81,8% van die BBP beloop.

Daarby het die rand die laaste paar maande met 18,1% teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Suid-Afrika se risikopremie – die bykomende opbrengs wat beleggers vereis om vir die hoër­ vlakke van risiko te vergoed – staan op 5,2% vergeleke met die geraamde 3,2%. Die regering sal nou meer moet betaal vir lenings.

Dit is teen dié agtergrond dat Suid-Afrikaners voor ’n keuse gestel word: die smal of die breë weg.

’n Kwessie bly die uiteenlopende ideologiese­ vertrekpunte in die regerende party. Voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die instelling van die Nasionale Rampbestuurswet, het die verdeeldheid in die ANC dikwels na die openbare domein oorgespoel. ’n Algehele gebrek aan partydissipline het geheers. Die pandemie het aan pres. Cyril­ Ramaphosa ’n geleentheid gebied om sy magsbasis in die party te versterk.

Van tyd tot tyd moes hy sy eie ideologie ondergeskik stel aan dié van dr. Nko­sazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Maar hy het geen keuse as om haar te akkommodeer nie. Sy bly sy gedugste politieke teenstander en is daarop uit om hom uit die kussings te lig en self president van die land te word.

Die bestuur van die pandemie deur die verskillende kabinetslede en hoe hulle uitvoering gee aan hul onderskeie opdragte bied aan die president ’n uitstekende geleentheid om te bepaal of die ministers opgewasse is vir hul taak.

Hier is ’n gulde geleentheid vir hom om die kaf van die koring te skei.

Sekere ministers het wel presteer. Daar is ook andere wat vele antwoorde aan die president verskuldig is, veral wat betref die gebrek aan behoorlike huisvesting, gesondheidsdienste, munisipale dienste, reg en orde en werkskepping, asook wat betref die toepassing van die inperkingsregulasies en die bestuur van die impak daarvan.

Ekonomiese herstel verg dus dat die ANC ideologie ondergeskik aan gesonde en werkbare ekonomiese beginsels moet stel en ook om die bevoegste ministers aan te stel. Indien dit nie gebeur nie, blyk die poort na ekonomiese hel ons voorland te wees.

  • Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Rubriek  |  Herstel  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.