Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Standpunt: Saul vir ANC se Damaskus-pad
Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap. Foto: Helena Barnard

Verbasend en verstommend. Dís hoe ’n mens die nuus moet begroet wat die ANC onlangs aangekondig het dat hy deur die 1,4 miljoen-kerf gebreek het wat ledetal betref. Dit is die hoogste ingeskrewe syfer wat die ANC aangeteken het sedert hy hom omvorm het tot ’n volwaardige politieke party.

’n Mens sou verwag met al die ANC se skades en skandes dat mense nie met ’n tang aan die eens geliefde vryheidsbeweging sou vat nie – veral nadat Jacob Zuma die ANC van enige moraliteit gestroop het.

Die ANC is die laaste tyd deur diepe waters. Daar het omtrent nie ’n dag verbygegaan dat jy nie gehoor het dat ’n ANC-kader sy hande in die koekieblik gedruk en die staatskas tot op die bodem geplunder het nie.

Hierdie verwerplike dade wat in die naam van die ANC gepleeg word, moes ’n absolute skande gewees het, maar dit het eerder ’n soort spansport geword waar kaders mekaar wil wys wie die meeste geld kan verduister.

ANC-mense met inbors is maar dun gesaai. Die getroues wat diep besorg is oor die ANC se algehele welstand en sy geestesgesondheid, is by verre in die minderheid.

ANC-manne en -vroue wat bitter graag ’n herstel wil sien van die glorieryke era toe hul party morele gesag gehad het en samebinding in die vaste wete dat hulle reg doen vir die land en al sy inwoners, word eerder met die breë kwas geverf as agente van witmonopoliekapitaal. Sóveel dat al hoe meer mense, ook stoere uit-huis-uit-ANC’s, begin aanvoel die ANC is in terminale afgang.

Nog net Zuma en sy radikale ekonomiese bende glo hulle sal regeer tot die oordeelsdag.

Die ANC self is in ’n staat van ontkenning oor sy onvermoë om die land doeltreffend en korrupsievry te regeer. Ja, hier en daar word ’n bietjie bekommernis uitgespreek. Maar niemand reageer daarop en begin regruk nie.

Die vraag wat politieke kommentators al tot vervelens gevra het – en wat legitieme vrae is – is: Is daar nog goeie mense in die ANC? En as daar is, wie en waar is hulle?

In die donker politieke myn van die ANC is daar wel iemand wie se kopliggie nog brand.

In die donker politieke myn van die ANC is daar wel iemand wie se kopliggie nog brand. En dis by hom wat ek vandag wil stilstaan.

Sy naam is dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap en een van die skerpste breine in die ANC-poel.

Toe Saul verkies is tot premier van die armste provinsie het hy hom die taak opgelê om volgens die beginsels van batho pele (mense eerste) te regeer.

Hy was skaars op kantoor of hy het ’n verbod geplaas daarop dat sy LUR’e vir hulle peperduur staatsmotors aanskaf – soos die lelike gewoonte is wanneer daar ’n bewindsverandering is.

Johann Maarman

Saul het gesê daardie geld moet eerder aangewend moet word waar mense dienslewering kan sien en voel. Hy het sy woord gestand gedoen en eerder dié geld aangewend om ambulanse vir die provinsie aan te koop.

Toe die korrupsie-skandaal bars met die Covid-19-tenders vir persoonlike beskermende toerusting, was Saul een van die eerstes wat betrek is. Maar dié wat modder na hom gegooi het in die hoop dat dit aan hom sou kleef, het tweede gekom. Daar was nie ’n greintjie waarheid in die gerugte nie.

Mense soos Saul is so skaars soos hoendertande in die ANC. Die Noord-Kaap mag wel die kleinste provinsie wees wat afgevaardigdes na die ANC-kongresse stuur, maar hier het ons ’n leier wat die skip van die ANC in die regte rigting kan stuur. Saul is gemaak vir die ANC se Damaskus-pad. Maar die ANC sal eerder flaters soos Ace Magashule verkies. Wat ’n jammerte.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Menings  |  Standpunt  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.