Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
State se mag is aan die kwyn

Nes die einde van die Koue Oorlog ’n multilaterale era met die klem op die staat en supranasionaliteit in internasionale betrekkinge ingelui het, het die skok van die vlugtelingkrisis sedert 2015 verskuiwings in die Westerse wêreld veroorsaak wat meegebring het dat die “soewereiniteit” van plaaslike gemeenskappe in Europa meer beklemtoon word.

Alida Kok
Alida Kok

Die uitslae van die onlangse Europese verkiesings bevestig die tendens.

Die 1990’s en die eerste dekade van die 2000’s is onderlê deur toenemende streeksintegrasie (veral die ekonomiese integrasie van state, soos in die Europese Unie, en van ekonomiese streke), vennootskappe tussen state in die internasionale stelsel om doelwitte te bereik (byvoorbeeld in die konteks van die Verenigde Nasies en ander internasionale organisasies) en ’n klem op supranasionale samewerking.

Nou, in die diskoerse van regse en groenpolitici voor en tydens die Europese verkiesings, is die slagspreuk “ ’n Visie vir ’n Nuwe Europa” telkemale gebruik. Die politieke lyne van hierdie “Nuwe Europa” is nou neergelê nadat Europese verkiesingsuitslae bekend gemaak is.

Hoewel Europa verskeie politieke en kulturele strominge huisves, is dit moontlik om ’n paar hooftendense uit te lig: Die politieke middelgrond bloei, sosiale demokrate het steun verloor, daar is groter teenstand teen die Brussel-burokrasie van die Europese Unie en politieke nispartye soos die “groenes”, “populiste” en “regses”. wat nader aan gemeenskappe is as die “catch-all” politieke partye van die 1990’s en die vroeë 2000’s, het meer steun verwerf.

Die desentralisering van politieke mag op grondvlak is aan die plaasvind. Gevolglik wentel gesag af van staats- na gemeenskapsvlak en gemeenskappe – volgens hul identiteit en belange – skakel met mekaar oor nasionale grense heen. Die groenes, populiste en regses as politieke verteenwoordigers van hul onderskeie gemeenskappe posisioneer hulself volgens identiteite, kulture en belange en skakel met soortgelyke groepsbelange oor staatsgrense heen (binne en buite Europa) om hul gemeenskappe en belange te versterk.

Die betekenis van staatsgrense is dus aan die verander. Die rol van die gemeenskap, plaaslike politiek en burgerlike samelewing vergroot.

Daar word al lank in die studie van internasionale politiek aanvaar dat sommige multina­sionale korporasies magtiger as die meeste state is en dat die staat gevolglik in die praktyk nie altyd die magtigste akteur in internasionale politiek is nie. Sulke magtige korporasies sluit in Walmart, Sinopec, China se petroleumkorporasie, Shell, Volkswagen, Toyota en Apple. Nou neem die toename in die belang van gemeenskappe en die skakeling van plaaslike gemeenskappe met die internasionale wêreld ook ’n deel van die staat se mag weg.

Die rol van die gemeenskap, plaaslike politiek en burgerlike samelewing vergroot.

Dié tendense bevestig dat die rol van multilaterale internasionale betrekkinge met die staat as hoofrolspeler verklein en die belang van ’n nuwe tipe gemeenskapsbilateralisme verder toeneem.

Wat beteken hierdie verskuiwings in Europa en die Westerse wêreld vir die Suid-Afrikaanse politiek? Met die talle politieke aanstellings wat die laaste jare in die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gedoen is, die vervlakking van die land se diplomasie en die sentralisering van regeringsmag, is ons regering nie gereed om met ’n nuwe Europa en Amerika te skakel nie.

Trouens, die politieke verskuiwings in die globale noorde bied ’n geleentheid vir verskeie plaaslike gemeenskappe om direk met rolspelers oorsee te skakel en so in die praktyk die desentralisering van politieke mag te laat plaasvind.

Meer oor:  Alida Kok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.