Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Steeds dié lekkerste werk’

In sy nuwe boek skroom die veteraanjoernalis Anton Harber nie om sy geliefde beroep te kritiseer nie. Hy gesels met Carla Lewis oor die toestand van die vierde stand, fopnuus en ego’s en eggo­kamers in die nuuskantoor.

Prof. Anton Harber, veteraanjoernalis, gooi ’n kritiese oog oor die mediabedryf in sy jongste boek So, for the Record.Foto: Carla Lewis

Nadat prof. Anton Harber sy jongste boek, So, for the Record­, klaar geskryf het, het hy ’n paar dae afgevat om deur die inskrywings vir die Taco Kuiper-pryse, Suid-Afrika se toonaangewendste pryse vir ondersoekende joernalistiek, te werk.

Wat hom opgeval het, is dat daar net enkele inskrywings van die sogenaamde tradisionele hoofstroommediahuise was.

Die res daarvan was van klein, onafhanklike instellings wat hoofsaaklik aanlyn publiseer: ama­Bhungane, Oxpeckers, Money­web, GroundUp . . .

“Dié instellings het die werklik interessante joernalistiek en noodsaaklike, ondersoekende werk gelewer. Dis instellings wat nie gemik is op winsbejag nie en wie se finansiering grootliks afhanklik is van filantropiese skenkers en weldoeners.”

Daar is niks verkeerd met die vierde stand nie, het een van Harber se medebeoordelaars opgemerk. Harber het van hom verskil – veral oor die hoofstroommedia.

“Hy was wel reg oor die kolle van uitnemende joernalistiek, wat steeds magsfigure verantwoordbaar hou.”

Die veteraanjoernalis is baie bekommerd oor die stand van sake­ by Suid-Afrika se hoofstroomnuusinstellings.

“Daar bestaan geen twyfel dat die tawwe ekonomiese omstandighede hoofstroommedia se rol as die vierde stand en waghond tans kniehalter nie,” sê hy in ’n koffiewinkel naby Auckland Park in Johannesburg.

“Met die hulpbronne wat nuuskantore tans het, kan hulle onmoontlik alles dek wat van hulle verwag word. Alle Suid-Afrikaners, nie net mediawerkers en joernaliste nie, moet baie besorg wees oor die stand van die sogenaamde hoofstroommedia en hul vermoë om joernalistiek van goeie gehalte te beoefen,” sê hy.

“Dis nie net ’n probleem vir die mediabedryf nie, maar ook ’n maatskaplike en ’n nasionale probleem as die vierde stand nie meer die nodige hulpbronne het om magsfigure verantwoordbaar te hou nie.”

Harber is ’n groot kokkedoor in die Suid-Afrikaanse mediabedryf. Hy is een van die stigter-redakteurs van Weekly Mail (nou Mail & Guardian) en het destyds gehelp om die apartheidsregering se Stratcom-eenheid bloot te lê.

“Ek weet van redaksionele eenhede by een van die groot mediamaatskappye wat met onlangse afleggings met die helfte gesny is,” gaan hy voort.

“En daar was reeds geen oortollige vet om weg te kerf nie. So ja, tans meen ek dat die beste joernalistiek en ons grootste hoop vir die bedryf – tot ons verbasing – die onafhanklike spesialiseenhede is wat joernalistiek sonder winsbejag beoefen en wat deur weldoeners of skenkings gefinansier word.

“Dis nie net ’n tendens in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika en die res van die wêreld. Op ons jaarlikse konferensie vir ondersoekende joernalistiek in Afrika het ons 35 van die spesialiseenhede op die vasteland geïdentifiseer. Dit gee my hoop.”

Botsing van belange

Loop sulke eenhede nie die gevaar van ’n belangebotsing omdat hulle finansiering ontvang van skenkers wat dalk agendas het nie? Is finansiering sonder voorwaardes en bybedoelings nie maar soos objektiwiteit in die joernalistiek nie – ’n edele maar onrealistiese ideaal?

Die eienaarskap en finansiering van nuus en die media, of dit nou deur Rupert Murdoch, Jeff Bezos, Iqbal Survé of ’n anonieme weldoener is, was nog altyd ingewikkeld, sê Harber.

“Finansiering, met voorwaardes, is beslis ’n kwessie vir sulke eenhede. Sonder twyfel. Ons sal heeltemal naïef wees om te dink net omdat ’n stigting of weldoener ’n skenking doen vir die voortbestaan van joernalistiek, dit nie sonder bybedoelings is nie.

“Joernaliste en hul redakteurs moet bedag wees op daardie gevare en dat die weldoener sy eie filantropiese agenda eerder as aan die nasionale nuusagenda probeer voorkeur gee.

“Dis altyd die beste as jy afstand van jou finansiers kan hou en my ervaring is dat daar darem ’n paar weldoeners is wat bereid is om afstand van hul skenkings te doen en waarvoor dit aangewend word. Maar dis beslis ’n bron van kommer waarvan ons bewus moet wees.”

Harber is bekommerd oor die stand van sake by Suid-Afrika se hoofstroom-nuusinstellings.Foto:

’n Maatskappy soos Media24 is in ’n beter situasie as ander omdat hy, as ’n afdeling van Naspers, gebuffer word deur Naspers se ander beleggings en maatskappye, glo Harber. “Ek glo ook daar is Naspers-raadslede wat voorspraak maak vir die voortbestaan en beskerming van nuus en goeiegehalte-joernalistiek, hoewel dit waarskynlik om historiese en emosionele redes is en nie finansieel nie. Maar daardie era kom ook tot ’n einde.

“Daar moet beslis nuwe, langtermynoplossings gevind word sodat die sogenaamde hoofstroommedia ook volhoubaar kan bly.”

Maar wie sou kon dink dat joernalistiek sonder winsbejag meer volhoubaar as winsgewende joernalistiek kan word? vra hy.

“ ’n Ondersoekende eenheid soos amaBhungane se toekoms lyk nou sekerder as dié van sommige koerante. Dis bisar, maar dis die werklikheid.

“Die joernaliste en redakteurs van tradisionele nuuskantore kan soms smalend teenoor joernaliste van sulke eenhede wees. Hulle sê ja, maar hulle het meer tyd vir ’n storie en hul spertye is nie so ongenaakbaar nie. Boonop hoef hulle nie wins saam met spertye te jaag nie.

“Joernaliste moet die heeltyd die volgende aan hulself herhaal: Om ’n storie vir die eerste keer reg te kry, is belangriker as om dit die eerste te breek. Dis die groot fout wat Sunday Times met sy ‘rogue unit’-stories gemaak het.”

Kognitiewe kaping

Dis nie net ’n tekort aan hulpbronne, tyd en geld wat die media bedreig nie, maar ook ’n gebrek aan vertroue en geloofwaardigheid. So, for the Record is ’n eerlike, kritiese introspeksie van Harber se geliefde bedryf en hoe van Suid-Afrika se mees gerespekteerde ondersoekende joernaliste en mediahuise ten tyde van staatska­ping die pad byster geraak het.

In die boek sê Harber hoe die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) ten tyde van oudpres. Jacob Zuma­ se regime dit reggekry het om ’n gerespekteerde media-instelling soos Sunday Times ’n rat voor die oë te draai om vals berigte oor ’n “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te lewer. Hy’s ook krities oor die joernaliste se arrogansie en ego’s en Sunday Times se swak inhoudsbestuur en gehaltebeheer wat tot een van die grootste mediaskandale sedert die Inligtingskandaal gelei het.

By die boek se virtuele bekendstelling verlede week het Harber dié verslaggewing beskryf as “van die swakste wat hy in sy loopbaan teëgekom het”.

Sunday Times se joernaliste en redakteurs was ook magtige, invloedryke figure. Hulle het amper ’n mate van strafloosheid geniet. Ek vind dit ironies dat ons – die media – die woord ‘strafloos’ so mildelik gebruik wanneer ons politici beskryf. Maar sommige joernaliste het ook tot nou toe ’n mate van strafloosheid geniet.”

Een van sy ander doelwitte met die boek is om joernaliste weer tot verantwoording te roep en hulle bewus te maak van hul mag, die gevolge van hul beriggewing en hul vooroordele. Harber glo nie aan “objektiewe verslaggewing nie, elke joernalis kom met sy eie aannames en oortuigings oor sekere sake”.

Die publiek moet verstaan, daar is ’n verskil tussen joernalistiek en die inhoud wat ’n gewone burger twiet of op Facebook skryf.

“Joernaliste moet wel uiters bedag en bewus wees daarvan en hoe dit ons verslaggewing beïnvloed. Ek gebruik nie die woord ‘objektief’ nie, maar eerder ‘gebalanseerd, regverdig en akkuraat’.

“Ons moet ook konstant oopkop wees oor nuwe idees en narratiewe, selfs al stem ons nie daarmee saam nie.”

Dis daarmee dat Sunday Times se ondersoekende span die pad byster geraak het, meen hy.

“Toe hulle bevraagteken word, het hulle summier geweier om na alternatiewe stories en verduidelikings te luister wat hul narratief uitgedaag het.”

Hy verwys na die ekonoom Joseph Stiglitz se “teorie van kognitiewe kaping” in sy boek. “Die joernalis hoef nie eens omgekoop of gedreig te word nie, want hulle vorm reeds deel van die eggokamer wat daardie skadelike narratief verkondig en versterk.”

Jan Publiek en joernalistiek

So, for the Record is nie net ’n bestekopname van die vierde stand nie; hy wou Jan Publiek ook ’n kykie agter die skerms gee van hoe ’n nuuskantoor werk.

Harber hoop dit sal die publiek help om meer ingeligte, kritiese mediagebruikers en by verstek beter demokratiese burgers te wees.

“Ons moet konstant daarna strewe om groter mediageletterdheid en -bewustheid aan te moedig. Dis iets wat reeds op skoolvlak aangepak moet word.

“Alle instellings, korporatief en openbaar, moet ook hul werknemers verpligte opleiding in mediageletterdheid gee.

“Dit gaan nie net oor hoe om nie dinge op sosiale media kwyt te raak wat jou in die sop gaan laat beland nie. Hulle moet ook leer om sosiale media en nuus meer krities te gebruik en nie knolle vir sitroene aan te sien nie.”

Hy glo nie in die konsep van burgerlike joernalistiek of fop­nuus nie.

“Twee frases wat jy nie in my boek sal raaklees nie, is ‘citizens’ journalism’ en ‘fake news’.

’n Groot deel van die boek word wel aan daardie twee verskynsels gewy.

Om ’n joernalis te wees is die lekkerste werk, meen Harber.

“Ek verwerp die begrip ‘citizens’ journalism’.

“Jy kan wel ’n burgerlike inhoudskepper wees.

“Die publiek moet verstaan daar is ’n verskil tussen joernalistiek en die inhoud wat ’n gewone burger twiet of op Facebook skryf.

“Joernalistiek moet eers deur ’n proses van teëwigte en toetse gaan voordat dit gepubliseer kan word. Ons word aan ’n ander stel reëls, etiese kodes en standaarde onderwerp.

“Ons onderskei die feite van die valshede, ons redigeer vir beter begrip, ons kies die belangrikste dele van die storie en maak sin van die boodskap.

“Dit onderskei ons van gewone, burgerlike inhoudskeppers. Daardie onderskeid is ongelooflik belangrik – die konsep ‘citizens’ journalism’ vertroebel die aard van ons beroep.

Hy is een van die stigtersredakteur van die Weekly Mail (vandag die Mail and Guardian), en het destyds gehelp om die Apartheidregering se Stratcom-eenheid te ontbloot. Foto:

“Dieselfde geld ‘fake news’. Die woord self is ’n teenstelling, ’n oksimoron. As dit fop of vals is, is dit nie nuus nie.”

Joernaliste moet wel nie die rol van die publiek onderskat met die insameling van nuus nie.

“Ons moet vrede daarmee maak dat die publiek ook nou toegang het tot mediums waar hulle kan kommunikeer en inhoud skep sonder hekwagters, redigeerders en proeflesers.

“Dit kan vir ons nuttig wees – die publiek het nog altyd aan ons nuuswenke verskaf. Boonop hou dit ons op ons tone en verantwoordbaar.

“Maar dit hou ook ’n groot gevaar vir ons in. Gewone burgers kan wat ons sê en skryf, ook nou makliker bevraagteken en uitdaag. Maar ons weet nou ook die soort burgerlike inhoud kan chaos­ en onsekerheid saai.

“Ons sien die vreeslike gevaar wat dit vir veiligheid en demokrasie inhou.

“Jan Publiek moet ook die waarde besef van goeie joernalistiek en die voordele wat dit vir hulle inhou.”

Verlore vertroue

Joernaliste, beklemtoon Harber, lewer ’n openbare diens. “Ons moet terugkeer na die begrip dat ons in diens van die publiek is. Ons moet ook deursigtiger wees oor hoe ons te werk gaan om nuus in te samel. Dit sal ook help om die vertroue te herstel wat die publiek in nuusinstellings het.”

Hoekom moet enigiemand nog joernalistiek studeer?

Harber, wat ook ’n professor aan Wits se skool vir joernalistiek is, lag.

“Want dis steeds die beste, lekkerste werk in die wêreld. Joernaliste is van die mees bevoorregte mense op aarde. Daaroor is daar geen twyfel nie.

“Ja, dis finansieel en emosioneel moeilik om ’n joernalis te wees. Jy is die heeltyd onder druk. Werksekerheid is min.

“Maar jy is vrygestel van ’n sosiale hiërargie, jy mag die magtigste mense in die land uitdaag en aan hulle ongemaklike vrae vra. ‘Hoekom het jy gesteel?’ ‘Slaan jy jou vrou?” Min mense kry die voorreg.

“Die samelewing kort ook nou goeie joernaliste, meer as ooit, wat inligting kan verifieer, ontbloot en akkuraat weergee. Ons word daagliks met massas inligting bestook. Ons kort mense om deur hierdie massas van disinformasie en valshede te sif en die waarheid te ontbloot.

Die publiek se vertroue in nuusinstellings – plaaslik en internasionaal – beleef tans ’n laagtepunt. Luidens ’n 2020-verslag van die Reuters Institute vertrou minder as vier uit tien (38%) nuusgebruikers die meeste nuus wat hulle hoor. Oor die wêreld heen verloor openbare uitsaaiers aansien en ondersteuning, van die linkse en regse deel van die politieke spektrum omdat mense glo dat hulle partydig berig.

“Het ons, as media, hierdie vertrouensbreuk oor onsself gebring?

“Joernaliste moet aanpas by die veranderinge en hoe ons ons lees beoefen, juis as gevolg van die verlies aan vertroue van die publiek.

“Ja, daar is mediahuise wat die pad byster geraak het, maar dit geld nie almal nie.

“Ons sien nou die gevolge van die toksiese impak van partydige, sensasionele verslaggewing, tog is sulke verslaggewing nog algemeen en gevaarliker as ooit.”

Partydige media, meen hy, en politieke polarisasie is van die grootste bedreigings vir gesonde demokrasieë.

“Die sogenaamde verregses gebruik net sekere mediakanale, asook die sogenaamde liberales. Dit gebeur selde dat daar na mekaar se kanale gekyk en gelees word om ’n verskeidenheid van menings in te win.

“Só word die kloof van partydigheid net groter en dieper,” waarsku hy.

“Joernaliste moet nou harder as ooit werk om daardie kloof te vernou.”

Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

So, for the Record: Behind the Headlines in an Era of State Capture word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R280.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.