Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Steenhuisen: Help om grondonteiening te beveg

Die onteiening van grond sonder vergoeding moet beveg word omdat dit die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n nekslag kan toedien, skryf John Steenhuisen.

Arbeiders werskaf op ’n plaas in die Nigel-distrik wat deur ’n swart vroueboer besit word. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Van al die swak beleidsrigtings en programme wat tans deur die ANC-regering in werking gestel of oorweeg word, is daar een wat loshande ’n groter bedreiging vir ons land se toekoms bied as enigiets anders – grondonteiening sonder vergoeding.

Die aftakeling van eiendomsreg sal alle hoop op die soort beleggings wat ons nodig het om ons ekonomie te red, baie vinnig in die kiem smoor.

Al wat grondonteiening nog erger kan maak, is onsekerheid daaroor. En danksy drie verskillende standpunte hieroor uit drie verskillende ANC-monde, het ons nou dít ook.

In hierdie stadium het niemand meer klarigheid oor die regering se posisie ten opsigte van grond, eienaarskap en eiendomsreg nie.

Met faksies wat die ANC in alle rigtings uitmekaar skeur, is dit glad nie verbasend dat die regering sukkel om sy standpunt oor grondonteiening te bepaal nie.

Hierdie posisie wissel van nasionalisering onder die dekmantel van “voogdyskap” soos bevestig deur die ANC in die parlement se ad hoc-komitee, tot ’n algehele ontkenning deur pres. Cyril Ramaphosa dat dit die regering se doelwit is. Êrens tussenin praat die ANC se Vuzimusi Xaba van ’n middeweg in die vorm van sogenaamde tydelike voogdyskap.

Met faksies wat die ANC in alle rigtings uitmekaar skeur, is dit glad nie verbasend dat die regering sukkel om sy standpunt oor grondonteiening te bepaal nie.

Onder oudpres. Jacob Zuma het die party agter die EFF aangehol met hul grond-populisme en Ramaphosa was gevolglik met grondonteiening opgeskeep toe hy oorneem.

Maar as daar ooit ’n tyd is om ’n ommekeer in die regering se posisie oor grondonteiening te bewerkstellig, is dit nou. Want ons het hierdie fliek al voorheen gesien: die ANC wat uiteindelik rede begin sien en die remme probeer aanslaan of probeer wegdraai van die ramp waarop hulle ons afstuur wanneer dit lankal te laat is.

Die voorbeeld van kragopwekking

Die Gouda-windplaas in die Wes-Kaap. Die ANC het te laat wakkergeskrik met toegewings oor die opwekking van krag, skryf John Steenhuisen. Foto: Gallo Images

Net hierdie week het Ramaphosa aangekondig dat die drempel vir kragopwekking sonder ’n lisensie al die pad tot by 100 MW gelig sal word. Dis ’n goeie ding, maar dis omtrent ’n dekade te laat. Want terwyl energie-ministers deurgaans geweier het om die leisels effens te verslap sodat ander kan uithelp om ons kragkrisis te verlig, het ons ekonomie by ’n krans afgestort en het nog miljoene mense hulle by die werkloses aangesluit.

Dit het bykans onhoudbare druk van alle kante geneem om die regering tot aksie te dwing. Dit was nie ’n Damaskus-oomblik deur die president en sy kabinet nie. Hulle het bloot nêrens anders gehad om heen te beweeg nie. Maar nou moet ons mos dankbaar wees dat die drempel verhoog is, terwyl onherstelbare skade lankal reeds aangerig is.

Maar die grootste spyker in die doodskis van ons ekonomie, is die ANC-regering se dreigement om ons Grondwet te wysig sodat eiendom onteien kan word.

Dieselfde kan nou met grondonteiening gebeur, maar met nog erger gevolge. Teen die tyd dat die regering wakker skrik en die gevaar besef, sal dit reeds te laat wees. Want dis nie net die onteiening van eiendom wat ons ekonomie sal kelder nie, maar ook die dreigemente om so te maak tesame met die deurmekaarpratery oor die onderwerp. Sedert Ramaphosa in 2018 aangekondig het dat grondonteiening gaan plaasvind, het die waarde van ons finansiële sektor met ’n derde geval. Ons is nou die enigste noemenswaardige opkomende mark met ’n netto uitvloei van direkte buitelandse belegging.

Natuurlik sal dít ook nou op die Covid-krisis blameer word, maar ons moet slim genoeg wees om nie daarvoor te val nie. In Afrika suid van die Sahara as ’n geheel het direkte buitelandse belegging in 2020 met 11% gedaal. In Suid-Afrika was die daling oor dieselfde tydperk 46%. Danksy die optrede van ons regering wil die buiteland nie hier belê nie.

Daar is ander redes hiervoor ook. Dit sluit in onwerkbare arbeidswette, die wêreld se mees onbetroubare elektrisiteitsverskaffingsnetwerk, ’n gebrek aan veiligheid, swak watersekerheid en ’n doolhof van burokratiese rompslomp. Maar die grootste spyker in die doodskis van ons ekonomie, is die ANC-regering se dreigement om ons Grondwet te wysig sodat eiendom onteien kan word.

Die voorbeeld van Clover

Vullisverwydering is een van die dienste wat in Lichtenburg gestaak is. Foto: Deon Raath

Indien Ramaphosa opgelet het, was daar verlede week in Noordwes ’n waardevolle les te leer. Clover se aankondiging dat hy die deure van die land se grootste kaasfabriek in Lichtenburg gaan sluit, was ’n rasionele besigheidsbesluit.

Hy het al die faktore opgeweeg en besluit dis vir hom die moeite werd om R1,5 miljard van sy eie geld te bestee om die hele operasie elders anders heen te verskuif, eerder as om te bly en te sukkel met nie-bestaande dienste en infrastruktuur.

Toe dit natuurlik heeltemal te laat was het die treurige Ditsobotla-munisipaliteit skielik wakkergeskrik en Clover gesoebat om te bly. Maar dit was mosterd ná die maal, en honderde direkte werksgeleenthede, plus wie weet hoeveel indirektes, is net so daarmee heen.

Grondonteiening gaan nie oor geregtigheid nie, ongeag al die geblaas en retoriek.

Vir jare lank het Clover die plaaslike regering vergeefs gesmeek om dit vir hom moontlik te maak om te bly. Hulle het eers geluister toe dit reeds te laat is.

Ons sien dat dieselfde op nasionale vlak gebeur en, net soos wat dit die geval was met die burgemeester van Ditsobotla, blyk dit of Ramaphosa nie wil luister nie. Besighede en beleggers pak reeds op, en ons is midde-in ’n ongekende werksbloedbad. Die mees onlangse uitgebreide werkloosheidskoers van meer as 43% vertel net ’n deel van die verhaal.

Weggesteek in daardie statistiek is die feit dat driekwart van hierdie mense al langer as ’n jaar sonder werk sit, en ’n derde van hulle nog nooit werk gehad het nie.

Om ten midde van hierdie krisis vol te hou met ’n beleid wat Suid-Afrika in ’n beleggingswoestyn sal verander en hierdie meestal jong mense tot ’n leeftyd van armoede sal verdoem, is onvergeeflik.

John Steenhuisen

Grondonteiening gaan nie oor geregtigheid nie, ongeag al die geblaas en retoriek. Dit gaan nie daaroor om Suid-Afrikaners grondeienaars te maak nie. Dit gaan nie oor bemagtiging met titelaktes sodat mense kapitaal kan bekom, verbeterings kan aanbring of ’n bate vir hul kinders kan agterlaat nie.

Ons Grondwet het reeds voorsiening gemaak vir al hierdie dinge, maar die ANC het dit nie befonds nie, want dit was nooit hul bedoeling nie.

Vir die ANC gaan dit slegs oor beheer. ’n Magtige staat wat alles besit en alles beheer, en burgers wat dan gedweë op die staat se genade moet staatmaak – afhanklik van welsyn; afhanklik van dienslewering; afhanklik van gesondheidsorg; en afhanklik van ’n lappie grond wat hulle by die staat kan huur.

Ons wil hê mense moet hul eiendom besit en dan finansiële welstand aan ’n volgende geslag oordra.

Lande wat hierdie pad kies, eindig almal op dieselfde plek. Vra maar net vir ons bure, Zimbabwe.

Dít is nie die Suid-Afrika wat die DA in gedagte het nie. Ons wil groei en vooruitgang hê. Ons wil geleenthede hê vir beleggers en vir werksoekers. Ons wil hê mense moet hul eiendom besit en dan finansiële welstand aan ’n volgende geslag oordra.

En dit is hoekom ons grondonteiening met alles in ons vermoë sal beveg. Ons vra dat jy asseblief saam met ons kom veg.

• Steenhuisen is die leier van die DA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Clover  |  Jacob Zuma  |  John Steenhuisen  |  Cyril Ramaphosa  |  Zimbabwe  |  Suid-Afrika  |  Werkloosheid  |  Grondonteiening  |  Ekonomie  |  Voogdyskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.