Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Steinhoff, ANN7 en R15 se melk

Twee “korporatiewe skandale” is in die nuus – die val van Steinhoff en MultiChoice se verbintenis met die Gupta-beheerde TV-nuuskanaal ANN7.

Met ontledings, kommentaar en spotprente inkluis. By Steinhoff is Markus Jooste – onder meer deur Zapiro as ’n kaal perdehandelaar uitgebeeld – die gesig van die “skandaal” met baie aandag aan sy duur grille. Die inkrimping van Christo Wiese, Pepkor-voorsitter, se fortuin teen R28 miljard per dag het die tonge los en “blinde geloof in sy Midas-aanraking” kry ook die skuld.

Gert Coetzee

In die MultiChoice-sage is veral Koos Bekker van Naspers in die kollig.

Die subteks oor beweerde ongerymdhede gaan oorhoofs oor korporatiewe bestuursbeginsels soos deursigtigheid, verantwoordbaarheid, oop kommunikasie en gesonde sakepraktyk teenoor wanpraktyk.

In die geval van Steinhoff laat verdwene markwaarde van glo R282 miljard ’n spoor van verwoesting agter. Die verliese van die Openbare Beleggingskorporasie, Coronation en andere wat in Steinhoff belê het, is ’n slag vir pensioentrekkers en beleggers.

Vir ’n verbruiker verg dit kophou om die Steinhoff-debakel en die inploffing van esoteriese waarde te probeer verstaan.

Dan was dit mos nie waarde nie?

’n Tasbare voorbeeld is makliker verstaanbaar. In ’n supermark betaal jy R15 vir ’n bottel melk en kry R15 se waarde – die bottel melk.

Die grafika in Sake24 help nogal snap hoe Steinhoff as ’n internasionale maatskappy inmekaar steek. In Suid-Afrika is geliefde en vertroude handelsname soos Pep, Tekkie Town en Ackermans in die stal. Tog bly die strukturering van skuld en effekte-uitreikings onpluisbaar kompleks.

Die relevante integriteitsbeginsel is dat ondernemingsbestuur nie ’n dobbelspel is nie. Veral nie as ander die prys vir jou risiko betaal nie.

Die defek is dat die hele groep se voorgehoue waarde – in terme van vaste bates, voorraad, kennis en kliënte – tot veel meer as die werklike waarde opgeblaas is. Hieroor is alarm natydig gemaak. Toe vou Steinhoff.

En klein en groot beleggers sit sonder die oënskynlik glansryke pere.

Die relevante integriteitsbeginsel is dat ondernemingsbestuur nie ’n dobbelspel is nie. Veral nie as ander die prys vir jou risiko betaal nie.

Met MultiChoice is die een kwessie dat hy ’n kanaal beskikbaar stel aan die omstrede Indiese familie wat sterk met staatskaping verbind word.

Die ander is ’n beweerde betaling van MultiChoice aan ANN7. Naspers neem dit ernstig op en ondersoek dit, sê hy.

Oor die Gupta-nuuskanaal het Bekker daarby gehou dat vryheid van spraak en ’n veeltal van stemme – ook in die spesifieke tydvak in Suid-Afrika – deurslaggewend is. Inderdaad so.

Tog is ’n ander beginsel, naamlik onafhanklikheid van die media, ook ter sprake. In die Inligtingskandaal van die 1970’s het die regering met Louis Luyt as frontman geld vir die stigting van The Citizen en vir ander geheime propagandaprojekte gegee.

Toe dit – in ondersoekwerk deur Rand Daily Mail en Sunday Express – ontbloot is, moes die eerste minister en die minister van inligting hul goed vat en loop. Weens wanaanwending van staatsgeld en die belangebotsing vir ’n aanspreeklike – en verdagte – staat wat vir homself “goeie nuus” probeer koop.

Vandag gebeur dit net nie meer in die geheim nie en is die ANC-regering hovaardig uitgesproke oor sy betalende verhouding met propagandameesters, wat nasionaal ook The New Age bedryf.

Dié teenstrydigheid druis in teen die beginsel dat geloofwaardigheid – wat aan onafhanklikheid verwant is – die media se kosbaarste bate is.

Nes ’n bottel melk vir R15 is dit ’n komplekse – en eenvoudige – konsep.

  • Volksblad word besit deur Media24 wat ’n Naspers-filiaal is.
Meer oor:  Ann7  |  Multichoice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.