Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stel kaartjies vir rugby ook vry van BTW

Ek begin nou ’n gewoonte daarvan maak om rugbywedstryde op TV net tot halftyd te kyk en dan terug te gaan vuur toe.

En ná Saterdagaand het ek nou eintlik so half en half besluit om meer braaihout te koop en dan glad nie meer te kyk nie.

Blouwillem

Maar dis seker al daar van ou Awie Lawwe­skagnie en Spiekeries se radiotye af so in ons gene ingebrand dat ons maar weer teen wil en dank sál kyk.

Amper soos weerlig. Jy kyk nie, maar jy sien. Oor Saterdagaand se kattestrofe (die hoeveelste kaaiestrofe sedert ons teen Japan skande gemaak het) reken Dik Daan die Bokke en sy tuinman is presies dieselfde: as hy hulle dié Saterdag op sy nodigste het, daag hulle nie op nie.

En om ons rugbystadions weer halfvol te kry, sal die regering dalk soos babadoeke rugbykaartjies ook maar van BTW moet vrystel.

Ons ou manne kan natuurlik nie veel voor-
deel trek uit nul BTW op babadoeke nie, maar soos FeesMustFall gun ons dit vir ons kindertjies.

Dis nou as ons landjie dit kan bekostig. Maar dit gaan rof!

Ek sien dat daar jaarliks meer as
R5 miljard se doeke van boudjies verwissel en dat ’n enkele gesonde baba binne twee jaar deur 7 200 van daai goetertjies werk!

Oom Johnny snork sommer so oor dié weggooiery. “Nee wat, man, ons het hulle ook grootgekry, maar het net lapdoeke gebruik, en as jy op vakansie was, het jou Venterwaentjie halfvol Steri Nappi-emmers gestaan,” brom hy.

“En weggooi, nooit as te nimmer nie! Hoewel, ek moet darem erken, ek het een hittige Desemberdag twee van hulle in ’n vlak graf tussen Carnavon en Calvinia verduister. Nee wat, net die nodigste is ooit weggegooi, maar vandag se jappies dink mos húlle het die woord recycling self uitgedink.

“In my tyd was doeke ook nie al wat gerecycle is nie. Toe was die enigste recycle wat ons geken het as jy jou ouer broer se ou fiets geërf het.”

In my tyd was doeke ook nie al wat gerecycle is nie.

Die ongeluk met die doekvergunning is dat jy, anders as met brandstof of brood, ’n baie duur baba moet aanskaf om die voordeel te kan geniet. En dan spaar jy soos wyle Maaik Schutte, wat gesê het hy spaar deur drank te koop, “want weet julle wat maak ek elke maand uit die empties?”

En anders as met paraffien en brood kan jy mos nie besluit jy gaan nou minder doeke gebruik nie. Maar nou ja, as die goewerment se herstelprogram vir ons brose ekonomie deur ’n babadoek loop, laat dit dan maar so wees.

Ten minste beter as onteiening sonder voorbehoeding.

Toe ek hierdie week lees van die ou wat beboet is omdat hy te stadig gery het, dink ek aan die dag toe die spietkop ons op pad intervarsity toe naby Viljoenskroon voorkeer. “Ek wag al heeldag vir julle manne!” Sê ou Schalk uit sy rooi Volla: “Sorry, Oom, ons het gekom so vinnig ons kon!”

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.