Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stelsel laat dié individue floreer
Rapule Tabane

Suid-Afrikaners is woedend dat die selfverklaarde profeet en beskuldigde Shepherd Bushiri daarin geslaag het om die lang arm van die gereg te ontglip en na Malawi te vlug.

Pres. Cyril Ramaphosa eis antwoorde en waarsku koppe gaan rol.

Bushiri en sy vrou, Mary, word saam met twee ander aangekla van bedrog en geldwassery waarby R102 miljoen betrokke is. Die egpaar was reeds uit op borgtog van R100 000 hangende ’n ander saak. Hulle gaan dalk ook aangekla word van oortredings van immigrasiewette nadat dit aan die lig gekom het dat hulle Suid-Afrika op 9 September 2009 ingekom het met visums wat hulle nie toelaat om enige onderneming te bedryf nie, wat hulle wel gedoen het.

Mary het volgens dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, ook by geleentheid ’n vals permanente verblyfpermit wat op 1 Februarie 1997 uitgereik is, aan doeanebeamptes vertoon. Volgens Motsoaledi maak dit nie sin nie, want Mary het eers in 2016 om permanente verblyf aansoek gedoen.

Baie van die woede spruit uit Shep­herd se oneerbiedigheid en ondermyning van Suid-Afrikaanse owerhede, maar daar is ook woede teenoor wetstoepassingsagentskappe wat die ontsnapping moontlik gemaak het.

Nog lank voor dit was mense ontsteld oor die metamorfose van ’n onwettige immigrant in ’n sogenaamde profeet, wat die harte van duisende Suid-Afrikaners gewen en homself verryk het ten koste van liggelowige Christene. Shep­herd se volgelinge is uitgesproke in hul ondersteuning van hom en noem hom selfs “Pappa”.

Ons kan kwaad word, maar hy was nie die eerste nie en gaan nie die laaste wees wat gulsige beamptes omkoop om geregtigheid te ontduik nie.

Shepherd het invloedryke politici hier ontmoet, onder wie Jacob Zuma en die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu, saam met wie hy vir foto’s geposeer het om sy belangrikheid by sy volgelinge te bevestig. Daar is selfs foto’s van hom en Mary in ANC-klere. Die man weet hoe om homself in te wurm in ’n posisie van invloed.

Tog dink ek ons woede moet eintlik gerig wees op die justisie-groepering in ons regering. Daar is gevra hoekom die landdros borgtog toegestaan het terwyl die aanklaer gewaarsku het dat die egpaar kan vlug. Maar hoe kon die landdros weet, aangesien hulle toe reeds op borgtog was sonder om te vlug?

Shepherd moes voordeel getrek het uit ’n korrupte stelsel om sy pad landuit te koop. Ons kan kwaad word, maar hy was nie die eerste nie en gaan nie die laaste wees wat gulsige beamptes omkoop om geregtigheid te ontduik nie.

Dís waar die fokus van ons woede moet wees. Selfs al word Shepherd toegesluit of keer hy nooit weer terug nie, sal sy plek ingeneem word deur ander selfverklaarde profete. Ons fokus dikwels op die individue sonder om behoorlik te kyk na die omstandighede wat geskep is wat hulle laat floreer.

Voer dit een stap verder. Ons is obsessief oor ’n Zuma en selfs ’n Ace Magashule en raak emosioneel in ons geveg teen hulle. Maar sodra dié twee uit die prentjie is – in die tronk of gestroop van invloed – sal daar ’n ander opportunistiese politikus na vore tree en Suid-Afrikaners oortuig hy tree in hul beste belang op en veg teen witmonopoliekapitaal.

Magashule moes gesien het hoe Zuma in 2009 ingestem is in ’n posisie van mag en weer in 2014 – selfs al was daar voor dit reeds aanklagte van verkragting en korrupsie teen hom.

Nou het Magashule sy oog op die ANC-presidentskap, net nadat hy aangekla is van korrupsie. Die klagte teen hom gaan nie sy aspirasies demp nie.

Ons hoop en bid die saak word vinnig afgehandel, maar iemand anders gaan bloot na vore tree en die korrupte ruimte inneem wanneer Zuma en Magashule eers uit die prentjie is.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Shepherd Bushiri  |  Stelsel  |  Omkopery  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.