Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#Stembus: 'Die belangrikste verkiesing sedert 1994'

Twee dae voor die land hul kruisies gaan trek, dink Sarel van der Walt terug aan die tyd toe hy oor die Kodesa-onderhandelings verslag moes doen.

Sarel van der Walt.

’n Paar dae voor die eerste demokratiese plaaslike regeringsverkiesing in 1995 was daar in Pretoria ’n inligtingsvergadering oor dié geskiedkundige gebeurtenis.

Verteenwoordigers van al die politieke partye was op die vergadering. As my geheue my nie in die steek laat nie, is dit gehou in die ou Munitoria-gebou wat ’n paar jaar later afgebrand het.

Daar het ons gehoor die verkiesingsentrum vir die Pretoria-streek sou in die Pieter Delport-sentrum – destyds die hoofkwartier van burgerlike beskerming in dié stad – skuins agter die Uniegebou wees.

Agter in die saal het ’n ANC-lid opgestaan. “Waar is dié Pieter Delport-sentrum?” wou sy weet.

Hierop het iemand, tot groot vermaak van die vergadering, uitgeroep: “Naby die Hotel 224! Naby universiteite, skole, hospitale en die Uniegebou!”

Dié vergadering en die hele nag se gewag op die uitslae in die Pieter Delport-sentrum is my helderste herinneringe aan daardie verkiesing.

Die pad ná die verkiesing was nie ’n maklike een nie. Dit was ’n pad vol slaggate.

Ek het vir Beeld en sy susterskoerante verslag gedoen oor die Kodesa-onderhandelinge in 1993 in Kempton Park oor ’n nuwe plaaslike regeringstelsel. Dit was alles vir my Grieks.

Roelf Meyer, die Nasionale Party se hoof-onderhandelaar, kon dit seker op my gesig sien. Een middag het hy voor die persbank kom staan en met pen en papier vir my verduidelik wat aangaan.

In die meer as twee jaar wat sou volg, het terme soos die metropolitaanse en plaaslike oorgangsrade, die plaaslike regeringsonderhandelingforum (Prof), en die Oorgangswet op plaaslike regering vir my alledaagse woorde geword.

Arbitrasierade het by tye die wysheid van Salomo nodig gehad om geskille te probeer bylê.

Die nuwe bestel wat by Kodesa uitgekerf is, sou uit drie dele bestaan: Die onderhandelingsdeel, die oorgangsdeel tot en met die verkiesing, en uiteindelik die inwerkingstelling van die nuwe bedeling.

Soos Meyer destyds by Kodesa aan my verduidelik het, het verteenwoordigers van verkose dorps- en stadsrade (die sogenaamde statutêre groepe) en wettige verteenwoordigers van politieke organisasies en ander belangegroepe wat nie in die vorige politieke bedeling (lees apartheid) in dié rade verteenwoordig was nie (die sogenaamde nie-statutêre groepe) deel uitgemaak van die onderhandelinge.

Dit klink alles amper opnuut vir my Grieks!

Dié onderhandelinge is voorafgegaan deur onderhandelinge in die plaaslike regeringsonderhandelingforum waaroor daar in die oorgangswet op plaaslike regering beding is. Dit is later deur die parlement bekragtig.

Maar voor die onderhandelinge kon begin, moes die nege provinsies (wat toe minder as 18 maande oud was) se provinsiale komitees vir plaaslike bestuur elke onderhandelingforum eers goedgekeur.

Hulle het bepaal of dié forums ingevolge die Oorgangswet “inklusief en verteenwoordigend” was.

Vreemde woorde toe, maar nou alledaags.

Uiteindelik moes die ooreenkomste wat in dié onderhandelingforum bereik is, aan die provinsiale komitees voorgelê word.

Eers daarna kon dit kragtens die Oorgangswet geproklameer word as die amptelike oorgangsraad vir ’n betrokke gebied.

Arbitrasierade het by tye die wysheid van Salomo nodig gehad om geskille te probeer bylê.

Daar was drie verskillende soorte plaaslike oorgangsrade wat tot die verkiesing regeer het: metropolitaanse oorgangsrade in stedelike gebiede, plaaslike oorgangsrade in alleenstaande dorpe en stede, en derdens plaaslike oorgangsrade vir landelike gebiede.

Dié oorgangsrade is op twee maniere saamgestel. Daar was die sogenaamde 50/50-model, waarin daar ewe veel statutêre as nie-statutêre- verteenwoordigers was, of die sogenaamde koördinerende model, waar gesamentlike bestuur tussen ’n dorps- of stadsraad en sy aangrensende swart dorp se stadsraad of nie-statutêre organisasie was.

Ingewikkeld, nè?

Meyer, wat later in pres. Nelson Mandela se kabinet minister van provinsiale sake en staatkundige ontwikkeling geword het, het dr. Frederik van Zyl Slabbert en Khehla Shubane aangestel as medevoorsitters van die taakgroep wat met die provinsiale LUR’e belas met plaaslike regering moes saamwerk om die aanvoorwerk vir die verkiesing te doen.

’n Onderhoud wat ek en kollega Carien Fourie in daardie tyd met Slabbert in sy kantoor in Walkerstraat, Pretoria, gehad het, bly ook ’n wonderlike herinnering.

Slabbert-hulle kon net voorstel hoe die verkiesing gehou moes word. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat die vorige jaar onder die voorsitterskap van oudregter Johann Kriegler die eerste demokratiese algemene verkiesing gereël het, was die enigste wat dit as “vry en regverdig” kon verklaar. Dit is nou nog die geval.

Ná die verkiesing is die plaaslike rade saamgestel uit 60 % verteenwoordigers wat in wyke verkies is en 40 % wat proporsioneel uit die hoeveelheid stemme wat die verskillende politieke partye in die verkiesing behaal het, aangewys is.

Elke kieser kon destyds twee stemme uitbring. Die een was vir die verteenwoordiger in sy wyk en die ander een vir die party van sy keuse vir proporsionele verteenwoordiging.

Genadiglik is die stelsel nou eenvoudiger en kan miljoene kiesers Woensdag in waarskynlik die belangrikste plaaslike regeringsverkiesing sedert daardie geskiedkundige een op 1 November 1995 gaan stem.

* Sarel van der Walt is 'n redaksielid van Netwerk24. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.