Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stereotipes bly met flou humor
Johannes Froneman

’n TV-advertensie waarin ’n Westerse man sukkel om ’n hamburger met baie groot (Oosterse) eetstokkies baas te raak, het gelei tot die onttrekking van die advertensie.

Nee, nie in Suid-Afrika nie, maar in Nieu-Seeland, waar sensitiwiteite tans besonder delikaat is.

Nie dat ek noodwendig dink die advertensie is rassisties nie, maar dit is hoe die humoristiese uitbeelding van kulturele gebruike deesdae alte gou getipeer word. Dit laat die kreatiewe geeste met ’n wesenlike probleem: Hoe beeld ’n mens humoristiese situasies uit sonder om iemand iewers te na te kom?

Want sit dit nie in humor om die spot te dryf met iemand se gebruike, kleredrag, uitspraak of voorkoms nie? Die probleem is dat die voorwerp van die spot altyd iemand anders is. ’n Ander kultuur. ’n Ander lewenstyl. Iemand met minder sosiale afronding as die jong Blink Stefaanse wat die advertensies skep ten einde mediagebruikers te laat lag (en dan te laat koop wat ook al aan hulle gesmous word).

Waar laat dit ons? Sonder grappige stereotipes, die stapelkos van bemarking?

Die probleem is dat ons almal deesdae in multikulturele samelewings woon, of jy jou in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Brittanje of waar ook al bevind. Die geringste verwysing na kleur, ras, kultuur of geslag is vatbaar vir ’n negatiewe interpretasie.

Soos met drie sjokolade-eendjies van ’n Britse supermark: die wit eendjie se naam is Fluffy, die bruine word Crispy genoem en die donkerbruine . . . Ugly. Natuurlik was daar klagtes en die eendjies is van die rakke onttrek.

Dan word uitgeroep: “Politieke korrektheid!” Die negatiewe ervaring van onskuldig bedoelde name, verwysings, grappe of beelde word as oordrewe bestempel. En so beland ons in ’n spiraal van beskuldigings, beledigings en ongelukkigheid. Waar laat dit ons? Sonder grappige stereotipes, die stapelkos van bemarking?

Tog, ons leef in veranderende tye waar humor ten koste van iets of iemand ’n gevaarlike speletjie is. Soos die nuwe Beheerraad oor Advertensies se appèlraad vroeër vanjaar herbevestig het, is sekere temas taboe. Die raad het naamlik ’n appèl deur Chicken Licken verwerp teen ’n bevinding teen ’n advertensie waarin ’n swart Suid-Afrikaner Holland “koloniseer”.

Suid-Afrika se verlede is te pynlik om op enige wyse humoristies te betrek, is bevind. (Lesers wat belang stel, kan die motivering op arb@org.za lees en hulle sommer vergewis van die liggaam wat verlede jaar in die plek van die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde tot stand gekom het toe dié gelikwideer is.)

Niemand wil die grap van die storie wees nie – nie in Suid-Afrika nie en ook nie in die buiteland nie.

Die nuwe beheerraad sal sekerlik enige advertensies wat die een of ander rasse- , taal- of kultuurgroep selfs maar net by implikasie verneder, fyn dophou.

Niemand wil die grap van die storie wees nie – nie in Suid-Afrika nie en ook nie in die buiteland nie.

Nog ’n realiteit is dat mense vandag soveel sensitiewer is as ’n dekade of twee gelede. Is mense dalk te sensitief? Waarskynlik wel, maar ons gaan dit nie regstel deur moedswillig te wees nie.

En dan is mense soms bloot onnadenkend. Om wit, bruin en donkerbruin eendjies saam te verkoop, bied keuse. Om die donkerste een (wat seker die bitterste een is) Ugly te noem, nou ja, dit is onnosel.

Het ons nie juis meer humor nodig nie? Beslis. En dit kan advertensies bied. Maar nie deur ou rassistiese, seksistiese stereotipes te herhaal nie. Ons moet juis wegbeweeg daarvan, ook in ons braaivleisgesprekke. Met flou humor word ou stereotipes suurstof gegee en bly in omloop. Dit help ons nie.

Dit help ook nie as sommige politici blatant beledigend is en daarmee wegkom nie. Maar dis ’n ander storie.

Froneman is ’n mediakundige.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Politieke Korrektheid  |  Eendjies  |  Humor  |  Rassisme  |  Stereotipes  |  Advertensies  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.