Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sterk sigarette, plaasaanvalle en Boy Scouts
Johan van Wyk

Die regering se bevelsraad wat besluit of ons mag rook en drink, sal sekerlik nie daarvan weet nie, maar ek onthou nog Commando Round, daardie dik, ronde sigaret van weleer met die skop soos ’n muil.

As jy té diep ingetrek het, het hy jou asem weggeslaan. En as jy sy kooltjie geknip het om die helfte vir later te bêre, het sy sterkte van 12 tot 36 volt opgeskuif.

Die hernude aandrang daarop dat die kommandostelsel teruggebring word, het my daaraan herinner. Maar sal dit?

Die naaste wat ons waarskynlik aan die herinstelling van die kommandostelsel sal kom, is die herinnering aan Commando-sigarette, Commando-brandewyn, en die eens beroemde Engelse Norton Commando-motorfiets, wat ek baie graag in die 1960’s wou hê.

My suster se kêrel het een gehad. Hy het gesweer die Norton is so blitsig soos ’n vlermuis uit die hel. Ek is tot vandag nog spyt dat ek nooit een gery het nie.

Waaroor ek nie spyt is nie, is dat ek met wapens grootgeword het. Ek was pas uit die doeke of my pa het ’n Daisy-windbuks, later ’n BSA, en nog later ’n Obendorff Mauser .22 in my hande gesit. Ek kon gou ’n leë kondensmelkblikkie op 50 tree laat tuimel.

Toe kommandolede met Lee Metford .303’s met ’n gaatjievisier en later R1’s Saterdagmiddae teiken geskiet het, het ek skywe getrek vir sakgeld in die betonbunker van skietbane.

Om my misnoeë te wys het ek my R1 by Tempe aan die punt van sy loop agter my aangesleep.

Soos ’n goeie skietperd wanneer jy uit die saal tussen sy ore aanlê, staan jy doodstil terwyl die skote om jou klap. G’n wonder my regteroor is tot my voordeel effens doof nie.

Dit vrywaar my van betekenislose uitsprake van die minister van landbou, Thoko Didiza, wat nog net mooi niks vir die veiligheid van boere en die welsyn van die lewensbelangrike landboubedryf vermag het nie, behalwe om hulle ná die Hartswater-moorde te maan om “op hulle hoede” te wees vir misdadigers.

Dit terwyl dit eintlik die polisie is wat op hulle hoede behoort te wees om plaasmoorde, steeds ontken deur pres. Cyril Ramaphosa, te voorkom.

Toe oudpres. Thabo Mbeki die kommandostelsel afgeskaf het, moes ek as kommandolid my wapen inhandig. Om my misnoeë te wys het ek my R1 by Tempe aan die punt van sy loop agter my aangesleep. Die kolf het ge-hop-hop oor die ongelyke plankvloer.

Sonder ’n R1 met ’n vol magasyn in my geweerkluis op ’n afgeleë plaas was ek egter nie weerloos nie. Toe aanvalle op plase in die 1980’s begin toeneem het, het ’n sterk flits saans by die kassie met die radio wat ons met bure en die polisie verbind het langs my bed gestaan by my oupagrootjie se knopkierie met ’n ruwe knoets so groot soos ’n man se vuis, my oupa se karwats aan die bed se kopstuk, en op my Bybel op die bedkassie my pa se .38 Special.

Soos die Boy Scouts se leuse lui: “Be prepared.” Dalk moes ek eerder ’n Boy Scout as ’n Voortrekker geword het.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Plan  |  Plaasaanvalle  |  Plaasbeveiliging  |  Kommandostelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.