
Johan van Wyk
Om terug te gaan op jou spore en op ’n nostalgiese reis deur die verlede jouself te herontdek bly ’n diep, emosionele begeerte by baie mense.
Nie dat ek dit nie al dikwels gedoen het nie. Die versugting om dit telkens weer te doen word egter nie versadig nie.
So keer jy telkens terug na bekende plekke om weer jou herkoms te ervaar.
Namate Suid-Afrika onherkenbaar verander, doen jy dit dalk uit vrees dat wat jy koester, onthou, opnuut wil beleef en met jou wil saamdra die toekoms in, sal verdwyn as jy dit nie doen nie?
Nog te meer namate die afdraande van die dag killer word en die tyd daarvoor dus minder.
Die probleem – ekskuus, “uitdaging” want daar bestaan mos nie meer ’n woord soos “probleem” in Afrikaans nie – is die ontnugtering wat dikwels met so ’n terugkeer gepaardgaan.
Die bome is kleiner as wat jy hulle onthou, die berge laer, die riviere droër, die dorpe vuiler, die paaie slegter, die mense en die karre en die lorries meer.
Net ’n rooijakkals is slimmer as ’n foksterriër. Vra my, ek ken albei intiem.
Nie dat dit my keer nie. Ry sal ek ry. As die wiele draai, is ek by.
Ek is inderdaad soos dr. Neethling se hond, soos op Calvinia gespot is met mense wat graag ry. Neethling was lank gelede ’n geliefde algemene praktisyn op Calvinia, met altyd aan sy sy ’n foksterriër met die naam Spottie wat nie genoeg van ry kon kry nie.
Wanneer hy sy spreekkamer met sy dokterstas verlaat om inderhaas miskien ’n baba op ’n afgeleë plaas te gaan vang, het Spottie geweet daar gaan gery word en op sy Chevrolet Fleetmaster se breë running board gespring om saam te ry.
Neethling en Spottie is al jare weg, maar om so lief vir ry te wees soos “dokter Neethling se hond”, is steeds ’n prettige gesegde in my familie. Dit verbaas my nie.
Net ’n rooijakkals is slimmer as ’n foksterriër. Vra my, ek ken albei intiem.
Wat ek op ’n herbesoek vir die eerste keer in lang tyd nie verwag het nie, is dat my geliefde home town, Calvinia, in teenstelling met die skreiende verval en agteruitgang wat op soveel ander dorpe in die land ingetree het, op die oog af besonder goed en netjies voorkom. Dit verheug en inspireer my.
Dit het my ook herinner aan wat ’n destyds bekende Joodse perdesmous kwytgeraak het toe my pa hom in Kaapstad raakloop en wou weet hoe dit op Calvinia gaan: “Og, mister Van Wyk, Calvinia is tog dood!”
Dit was in die 1960’s tydens die grootskaalse ontvolking van die platteland, toe mense na die stede gestroom het. Op so ’n skaal dat historici dit as die Afrikaner se “tweede Groot Trek” sou beskryf.
Wel, ek kan instaan dat Calvinia nie dood is nie.
Jy sien ook steeds nêrens die verruklike Karoo-sterrenag beter as daar nie.