Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stil, daar gaan ’n regter verby
Barnard Beukman

Net toe ons begin dink het prof. Thuli Madonsela is die laaste held om institusionele dapperheid te toon, steek adjunkhoofregter Raymond Zondo sy hand op. En hoe. Dit was ’n belangrike nasionale oomblik.

Dit was nodig dat iemand Jacob Zuma­, die land se opperstaatskaper, ruk uit die wentelbaan van die ontduiking van geregtigheid en die uitlewing van “justice delayed is justice denied”.

Die konstitusionele hof het reeds in sy gebiedende uitspraak, dat Zuma voor die Zondo-kommissie moet verskyn, die streep in die sand getrek. Hy het hom bloot nie daaraan gesteur nie.

Zuma se eie party, die ANC, verkies ’n Clement Attlee-paaibeleid teenoor die ou despoot. Hy word op vergaderings van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) toegelaat. As sy naam opkom, word daar op eiers geloop en die ANC se topses wil hom gaan smeek om tog voor die kommissie te verskyn.

Madonsela moes nasionale ruggraat verskaf terwyl die ANC anderpad gekyk het toe Zuma vir hom uit staatsgeld die Nkandla-wegkruipplek laat bou het. Nou het Zondo sy voet neergesit.

Zondo se optrede ruk natuurlik ’n verdelingslyn in die land se regerende elite soos min.

Zondo se optrede ruk natuurlik ’n verdelingslyn in die land se regerende elite soos min. Weer bevind die ANC homself op ’n plek waar hy uitvind dat hoewel ’n regerende party baie mag het, ’n goeie Grondwet en sy toepassingsbeamptes meer het.

Spesifiek swart regters, joernaliste en amptenare sal kan getuig dat dit bewese dapperheid van Zondo geverg het om dit te doen. Die Bell Pottinger-intimidasiekultuur wat Zuma bedryf het, hang nog swaar in die lug. Smeertaktiek wat insluit beweerde verraad teenoor swart bevryding, ’n strooipop van wit mense, handlanger van wit geld en apartheid is van die goed wat diegene toegedig word wat opstaan vir wat reg is. Intimidasie vind selfs op persoonlike vlak plaas.

Nuus vir die ANC: Hier is geen dooiepunt nou meer om op te los nie. Dis te laat. Julle het jul kans gehad. Die regsproses neem nou sy loop. Respekteer dit. Daar is geen integriteit in om Zuma uit die tronk te hou nie. Hy het uitdagend daarvoor gevra en Suid-Afrikaners kort die heling van sy opsluiting.

Uiteraard veroorsaak dit ’n interne krisis vir die ANC en groot verdelings in sy magsbasis. Maar dit is lankal geen nasionale ramp meer nie. Suid-Afrika het nou meer as ooit ’n ANC nodig waarin die dekade lange verdeeldheid vir eens op ’n spits gedryf word. Hulle moet maar kook in hul tuisgemaakte brousel van eiebelang.

Maar hier is vir ons almal weer opnuut ’n geleentheid. Die duidelike en nodige onderskeid tussen goeie Suid-Afrikaners wat ’n suksesland wil bou en korrupte selfverrykers word vertroebel deur uitgediende skeidslyne. Beroepspolitici en staatskasrowers hou daarvan om die verdelingslyne van politieke partye en rassegroepe te beklemtoon en in stand te hou. Die uiteinde is dat die land se welmenendes deur die skadukant verdeel en geheers word.

Alle Suid-Afrikaners wat die land wil opbou, sal ongeag verskille wat bestaan en ook soms moet bestaan, moet uitbreek uit hul historiese bagasie en nuwe­ grense vorm om saam te staan.

Dit het hoop gebied dat emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu – toe die ANC die Dalai Lama toegang tot die land geweier het – bereid was om te sê hy sal bid vir die val van die ANC soos hy gebid het vir die val van die Nasionale Party. Sy rol as gewete van die nasie is soort van oorgeneem deur Madonsela. Nou het Zondo opgestaan toe dit nodig was. Dit gaan toenemend van meer Suid-Afrikaners op vele terreine gevra word. Vir nou word die oomblik vasgevang in die (aangepaste) digkuns van Jan F. Celliers: “Stil, mense, daar gaan ’n regter verby.”

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Korrupsie  |  Staatskaping  |  Regter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.