Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Still I rise’ – CR se verklaring van voorneme?

You may write me down in history

With your bitter, twisted lies,

You may trod me in the very dirt

But still, like dust, I’ll rise.

Barnard Beukman

Was daar dalk in sy aanhaling van Maya Angelou se gedig “Still I rise” – benewens die groter betekenis – ook vir pres. Cyril Ramaphosa persoonlike betekenis­ in oor die omstandighede waarin hy hom bevind? En ’n verklaring van voorneme?

Hy moes vanjaar se staatsrede hou letterlik ure voordat ’n nogmaals kritieke vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) begin. Plofbare kwessies, soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se moontlike skorsing, kan op die agenda wees.

Kort nadat Ramaphosa in 2018 president geword het, het ’n hooggeplaaste en invloedryke swart Suid-Afrikaner ’n klompie redakteurs vir koffie aan huis genooi. Hy was maar terneergedruk oor veral die polarisasie in die land. Een van die teenwoordiges het opgemerk dat daar darem nou ’n positiewe vooruitsig is met Ramaphosa in die saal.

Waarop hy geantwoord het: “Yes, but what will he have to do to survive in his position?”

So, moontlik moet Sona-2021 teen daardie agtergrond beoordeel word. Die toespraak was meer ’n soort uitvoerende bestuursopsomming van wat reeds gepoog is as enigiets veel nuuts.

Al het daar nie veel gekom van verskeie van sy uitgesproke voornemens nie – soos die rasionalisering van die staatsdiens en kabinet – het hy volgehou daar was vordering met die begin van infrastruktuurprojekte as lanseerplatform vir ontwikkeling, werkskepping en uiteindelik groei. Dit het volgens hom ook reeds beleggers gelok.

Hy het tog ’n belangrike rooksein gestuur dat die private sektor steeds as ’n kritieke vennoot gesien word. En struikelblokke in die pad van beleggers, soos onbetroubare energievloei, word hanteer deur krag-alternatiewe vir Eskom se sukkelende steenkoolkragstasies.

Aan die begin van sy termyn was hy – geesdriftig aangemoedig deur Tito Mboweni, sy minister van finansies – vol planne om staatsondernemings te rasionaliseer. Nou was daar ’n meer gedempte verwysing na die blote regruk daarvan. Want intussen het hulle teen wil en dank miljarde in die bloeiende SAL gepomp om die oorhand te behou in die ANC se interne magspel.

Die duur prys vir die vakbondkamerade as ondersteunende wig teen Magashule en kie.

Sekerlik in dele van die toespraak wat vir NUK-lede geskryf is, is verklaar dat daar nie afgewyk sal word van versnelde swart ekonomiese bemagtiging nie. Duidelik ’n toenemende tema­ uit sy kamp as deel van “what he will have to do to survive”. Ook as onlangse uitsprake soos deur Mboweni in ag geneem word. Miljarde rande word onder die vaandel van swart bemagtiging en Covid-19-hulp en -kontrakte na die swart gemeenskap op verskillende vlakke gekanaliseer. Daar word verklaar dat dit ekonomiese groei en bemagtiging versnel. Maar dit kan eerder ’n duur kragtoer wees om te wys wie die lakens uitdeel.

’n Mens vrees dat slegs die luukse motormark daaruit gaan voordeel trek.

’n Mens kan nie verkwalik word om erg skepties te wees oor die bewindhebbers se vermoë om ’n dinamiese ontwik­kelingstaat aan die gang te kry nie.

Dit weens ’n handelsmerk van vrot regering – die entstof-fiasko die jongste verwysing. Wie gaan dit doen? Al die peperduur entiteite wat steeds geskep word?

Punte wel vir die sterk woorde weer teen korrupsie. Intussen nog ’n naweek, nog ’n NUK-vergadering. En ons wag.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.