Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stiptelikheid en die tirannie van ons horlosietyd

Soggens stiptelik om 07:00 lui my wekker. Ek staan dan op, stort, trek aan, eet en pak my drasak sodat ek 08:10 kan ry om betyds by die klas te kom wat 08:30 begin.

Wilhelm Jordaan

“Stiptelik” en “betyds” is ingeweef in baie mense se lewensritme. En natuurlik is daar ander wie se ritme ánders gedikteer word – deur “naastenby” en “ongeveer”.

Ek sien hulle by die klas aankom, tydsaam onbetyds en onbekommerd oor laat kom. Ek wens soms ek was ’n bietjie so.

Dit is die stiptelikes en die betydsers wat die kluts kwyt raak as hul ordelike horlosieritme versteur word. Soos in Franz Kafka se duiselende ironiese verhaal “ ’n Alledaagse verwarring”: ’n Sakeman verlaat vroegoggend sy huis vir ’n belangrike afspraak met ’n kliënt op ’n plek wat sowat tien minute van sy huis af is.

Hoewel die sakeman reguit soontoe ry, kom hy eers laat die middag daar aan en verneem die kliënt is al lankal, én baie woedend, daar weg.

Verward jaag hy terug huis toe. Dit gebeur in ’n sekonde, en hy is net betyds om te sien hoe vertrek die kliënt wat die hele dag dáár vir hom gewag het!

Tipies Kafka: Die lewe is absurd; só ook tyd en ruimte. Miskien juis daarom maak die mens planne om tyd te maak werk. Sodat ons kan weet die tyd stap onverbiddelik aan – vanaf die datumlose oerknal sowat 15 miljard jaar gelede tot die oomblik van nóú en weer nóú en weer nóú . . .

Ek sal my nooit aan die ure onderwerp nie. Die ure is vir die mens gemaak, nie die mens vir die ure nie.

Wat my laat dink aan die lieflike storie van ’n boer van Nieuwoudtville op die Bokkeveldplato wat ’n gas op sy plaas rondgeneem het.

Hulle kom by ’n rotsplaat en die boer vertel die skeure daarin is deur ’n skuiwende gletser veroorsaak. Dit is 200 miljoen jaar en drie weke oud, sê die boer.

Die verbaasde gas vra hoe weet hy dit. Sê die boer: “ ’n Geoloog wat hier was, het so gesê. En dit was drie weke gelede!” Die boer en Kafka begryp ewe goed tyd se relatiwiteit.

Van vroeg af al mor en kla mense oor tyd – oor tyd wat te min is en dat ons nie tyd vir mekaar maak nie.

In die 16de eeu protesteer die Franse skrywer François Rabelais: “Ek sal my nooit aan die ure onderwerp nie. Die ure is vir die mens gemaak, nie die mens vir die ure nie.”

Sy gebruik van “ure” is veelseggend, gesê in ’n tyd toe mense bewus geraak het van ure as ’n belangrike tydverdeling.

In 1481 het handelaars en nyweraars die oprigting van ’n stadshorlosie in Lyon, Frankryk, bepleit sodat mense ordeliker kan leef deur die ure beter te benut.

Eers in die 1770’s het “stiptelikheid”, uitgedruk in die presiesheid van minute, ’n belangrike begrip geword – in dié sin dat daar binne minute, en later ook binne sekondes, dinge in fabrieke moes gebeur wat ’n verskil in produksie maak.

Toe het stiptelikheid ’n deug geword en is die moderne tirannie van horlosietyd gebore. Dis 08:10 en ek moet nóú ry om betyds te wees . . .

Meer oor:  Tirannie  |  Horlosie  |  Mense  |  Tyde  |  Stiptelikheid  |  Horlosietyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.