Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stootskrapers keer terug na Distrik Ses

Hy het gedink die ou Distrik Ses is met die grond gelyk gemaak, maar dele van dié buurt het klaarblyklik behoue gebly en is nou besig om deur stootskrapers blootgelê te word, skryf Murray La Vita.

Deel van vermoedelik ’n ou hotel wat pas deur stootskrapers blootgelê is. Foto: Murray La Vita

“Kyk hierdie linoleum-teëls; dalk was dit die danssaal,” sê my vriendin.

Ons staan in die boonste deel van die ou Distrik Ses tussen Nelson Mandela-rylaan (voorheen De Waal-rylaan) en Constitutionstraat. Tafelberg lê die horison vol.

Hier was tot onlangs net gras en fynbos, maar nou is stootskrapers besig om dié stuk aarde om te dolwe. Die terrein word voorberei vir nuwe woonstelblokke en huise soos dié wat reeds oor die afgelope jare in die onderste deel van Distrik Ses gebou is.

Dit is die eerste keer dat dele van die geboue in Distrik Ses weer blootgelê word; dat hulle uit die grond te voorskyn kom en die winterson op hulle skyn.

Ons het gedink al die geboue is in die jare sestig en sewentig en vroeë tagtigs tydens die gedwonge verskuiwing van mense na plekke soos Mitchells Plain, Belhar, Bonteheuwel, Manenberg, Guguletu, Valhalla en Hanover Park, plat gestoot.

Eens ’n hotel

Stootskrapers aan die grawe in die boonste deel van die ou distrik Ses. Foto: Murray La Vita

Dele van die linoleumvloer is ongeskonde, maar op ander dele is die swart skaafmerke van ’n stootskraper se laaigraaf sigbaar.

Die mure is liggroen. Aan die punt van die murasie is ook ’n donker ketelkamer met die groot ketel nog daarbinne sigbaar. Dit sou warm water aan die gebou verskaf het.

Vroeër die middag het die jong voorman Ayanada (onder wie se masker ’n bokbaardjie uitgesteek het) vir ons gesê dit was eens ’n hotel.

Ek wonder of daardie uitsig ooit kon opmaak vir waarop sy blik al dekades lank hier in die middelgrond val: ’n rustige grasveld waaronder sy huis begrawe lê.

Volgens Ayanda het ’n ou man wat hoër op in een van die woonstelblokke woon wat op hierdie grond uitkyk, vir hom vertel van die hotel.

Die man het – soos ons – na die uitgrawings kom kyk. Hy het jare gelede hier gewoon. Ná die gedwonge verskuiwings het hy in die woonstelle gaan bly van waar hy elke dag kon kyk waar sy huis eens gestaan het.

Die woonstel waarin hy woon, is een van daardie ry blokke wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur die Kaapstadse stadsraad vir terugkerende soldate en hul mense gebou is. Later het dit die tuiste van stadsraadwerkers geword.

Vanuit sy woonstel sou die ou man ook ’n mooi uitsig op die stad, die hawe en Tafelbaai hê. Ek wonder of daardie uitsig ooit kon opmaak vir waarop sy blik al dekades lank hier in die middelgrond val: ’n rustige grasveld waaronder sy huis begrawe lê.

Rooskleurig

Ons stap na ’n ander murasie waarvan dele van die vrolike ligpienk mure nog sigbaar is. My vriendin tel ’n reghoekige stukkie rooi glas op en sê dit was dalk deel van ’n deur. Sy hou dit op teen die blou lug en die son. Ook ek kyk deur die stukkie glas en sien hoe die wêreld rooskleurig getint word.

Dit is stil. ’n Ent van ons af klink die stemme op van mense wat vir hulle tydelike woonplekke geprakseer het uit sinkplaat, hout, stukke plastiek en ou matte.

Dit herinner aan die ruïnes van Herculaneum en Pompeii.

Ayanda sê van hulle het tot onlangs nog hier gewoon waar ons nou staan. Maar toe die stootskrapers kom, moes hulle inderhaas hul blyplekke verder oos skuif. Hulle sal later ook van daar af moet padgee wanneer die stootskrapers daardie stuk aarde begin omdolwe.

Wanneer ons in die motor klim, wys my vriendin vir my die twee skerfies blou-en-wit porselein wat sy in die grond tussen die murasies gekry het. Sy sê wat ons nou gesien het, herinner haar aan die ruïnes van Herculaneum en Pompeii, daardie Romeinse stede in die Baai van Napels wat onder lawa en as begrawe is tydens die uitbarsting van die vulkaan op berg Vesuvius.

’n Amputasie

Die liggroen mure van ’n murasie. Foto: Murray La Vita

Tuis wys sy vir my ’n katalogus van The District Six Public Sculpture Project van April 1997. Daarin verskyn ’n foto van een van die laaste geboue wat in Distrik Ses vernietig is. Die byskrif: “This house was gift-wrapped for the demolishers in red and blue ribbons during a night in 1982.”

Onder dié foto is ’n essay deur Emma Bedford en Tracy Munnik. Hulle skryf: “The need to remember every detail of what has been lost haunts those who have lost it: the instinct of the amputee to exercise the absent limb. The urgent desire to re-establish the security of what is known and familiar; of that which reminds you of yourself, and says to others that you exist.”

Elders in die katalogus is ’n foto van Mustafa Maluka se werk. Dit bestaan uit die naam District Six wat in groot wit letters in die veld (waar ons netnou was en waaruit murasies nou te voorskyn begin kom) opgerig is.

Dit is ’n skreiende nabootsing van die Hollywood-teken teen die Hollywoodheuwels. Die titel is “Hollywood” – District Six.

Ek dink aan Dory Previn se triestige lied “Mary C. Brown and the Hollywood Sign”. Sy sing oor ’n jong vrou wat haarself aan die H van Hollywood opgehang het omdat sy nie werk as ’n aktrise kon kry nie.

Die duiwe keer terug

’n Uitsig op die stad en hawe uit Distrik Ses. Foto: Murray La Vita

Wyle dr. Neville Alexander beskryf in sy bydrae wat hom die meeste ontroer het toe hy in die Distrik Ses- grondrestitusie-saak as fasiliteerder opgetree het.

’n Man van Manenberg het een aand in die saal van die Holy Cross Katolieke Kerk, een van die kerke van Distrik Ses wat gespaar is, opgestaan en gesê:

“Ek kan hulle amper alles vergewe, maar wat ek nooit kan vergeet nie is die angs en pyn van my (wedvlug)duiwe nie . . . Hoe hard ek ook al probeer het, kon ek vir jare nadat ek uit Distrik Ses geskop is nie my duiwe leer om na Manenberg terug te keer nie. Hulle het elke keer na Distrik Ses toe teruggevlieg – vir hulle was dít hul tuiste. Wat kan ek hieraan doen? Is daar enige vergoeding vir dié soort ding?”

Ek onthou ’n soortgelyke verhaal wat Noor Ebrahim aan my vertel het oor sy duiwe wat telkens na Distrik Ses teruggekeer het.

Dit gryp ook vir mý aan die hart. Ek onthou ’n soortgelyke verhaal wat Noor Ebrahim aan my vertel het oor sy duiwe wat telkens na Distrik Ses teruggekeer het.

Ek besluit om eers die katalogus toe te maak. Dan val my oog op William Hewett se kunswerk.

Hy het met stukke wit lap dié woorde uit ’n gedig van Adam Small teen ’n draadheining aangebring:

Daa wassie net klip en concrete nie . . .

Mure sonder mense? Nai . . .

Daa was oek ons

Ons dja

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.