Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stop eers die misdaad in SA

Dalk is Suid-Afrika nou gereed vir ’n nuwe, sterk politieke party wat reg en orde in die land kan herstel. Ons het so baie probleme, waarvan die meeste ekonomies van aard is.

Rapule Tabane

Ongelykhede vergroot, die ekonomie krimp, mense word afgelê en gegradueerdes het geen vooruitsigte vir werk nie. Solank daar werklose mense op straat is, is daar ’n risiko dat misdaad soos diefstal en roof kan toeneem en sal daar maatskaplike probleme wees.

Dit lyk egter of dit so maklik is vir mense om misdaad te pleeg omdat misdadigers wegkom daarmee.

Die uitbrand van vragmotors met duur vragte is die nuutste vorm van ekonomiese sabotasie. Vragmotorbestuurders word aangerand en in een geval is een vermoor, ondanks die feit dat diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle sê hulle teiken nie die bestuurders nie, maar die eienaars wat buitelanders aanstel.

Plaasmoorde duur voort en is steeds ’n groot gesprekspunt, met politieke partye soos die VF Plus en die DA wat hulle nou tot internasionale menseregte-organisasies wend vir hulp. Een van die klagtes is dat die regering nie dié misdaad ernstig opneem nie. Ek dink nie die regering neem énige misdaad ernstig op nie. Waar daar wel pogings is om ernstig op te tree, is daar ’n tekort aan vaardighede.

Toe Bheki Cele aangestel is as nasionale polisiekommissaris, het hy die regte taal gepraat, selfvertroue uitgestraal en probeer om vrees by misdadigers in te boesem. As minister van polisie lyk dit bloot of die stelsel hom ingesluk het en is hy gereduseer tot die voordra van somber misdaadstatistieke.

Cele kom van KwaZulu-Natal, waar die polisie nooit teruggedeins het om op te tree teen geweldsmisdaad in die taxibedryf of politieke moorde in hostelle nie.

Cele kom van KwaZulu-Natal, waar die polisie nooit teruggedeins het om op te tree teen geweldsmisdaad in die taxibedryf of politieke moorde in hostelle nie. Dit lyk asof Cele voorgehou is as die taai kalant wat ’n voorbeeld vir polisiebeamptes moes wees. Gemeenskappe het egter oor die jare vertroue in die polisie verloor.

Baie slagoffers van kapings, inbrake en huisrowe gaan polisie toe net om ’n saaknommer te kry vir versekeringsdoeleindes. Hulle het geen hoop dat die polisie die misdaad sal oplos nie en hulle is dikwels reg daaroor. Ek het in die verlede al klagte gaan indien weens diefstal en inbraak. Niks daarvan is opgelos nie en die polisie het nie eens die hoflikheid gehad om my op die hoogte te hou daaroor nie.

Dit laat my wonder of die land nie ’n nuwe politieke party nodig het waarvan die hoofdoel is om reg en orde te herstel nie.

Dit laat my wonder of die land nie ’n nuwe politieke party nodig het waarvan die hoofdoel is om reg en orde te herstel nie. Dit, en die skoonmaak van die strafregstelsel om te verseker dat oortreders wel skuldig bevind en gevonnis word. Te veel van die politieke partye wat ons nou het, maak beloftes oor alles, maar het geen hooffokus nie.

Herman Mashaba se Action SA is volgens sommige mense die party wat hierdie kwessie kan takel. Ek is nie so seker nie, want dit lyk of Mashaba se groot probleem onwettige immigrante is. Dit is belangrik, maar dis nie die enigste brandpunt nie. Terloops, die rede waarom onwettige immigrante ’n probleem is, is weens die toestande op ons grense, waar mense kom en gaan soos hulle wil. As hulle eers hier is, is daar geen aptyt om hulle te deporteer nie.

Daar is mense in die land wat die moed het om die bou van huise, winkelsentrums en ander groot infrastruktuurprojekte tot stilstand te dwing met hul aandrang om ’n stukkie van die kontrak te kry, selfs al het hulle nie vir die werk getender nie en al het hulle nie die nodige ervaring nie. Hulle doen dit, want hulle kom weg daarmee.

Die wetteloosheid in die land moet eers opgelos word voordat ons ’n miljoen ander prioriteite kan stel.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Misdaad  |  Politieke Party  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.