Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stories oor ‘verfoeilike wet’ nog belangrik

Deur die stories van ons verlede te deel kan ons help om ’n beter toekoms te skep, skryf Greg Karvellas.

Liezl de Kock
Liezl de Kock as die dorpsbibliotekaresse in Statements After an Arrest Under the Immorality Act.

As teaterpraktisyns en storievertellers wil ons deurentyd werk deel wat ’n gemeenskaplike menslikheid inspireer, empatie kweek vir diegene wat ander perspektiewe en ervarings as ons het, en wat die waarheid laat seëvier in die aangesig van mag.

Athol Fugard is by uitstek die verteller van súlke stories. Hy is een van die wêreld se voorste dramaturge wie se werk al gehore vir meer as ’n halfeeu aangryp. Sy toneelstukke handel veral oor die onmenslikheid van apartheid en is dikwels ’n ode aan die waarheid en universele menslikheid.

Hoewel dit in 1972 geskryf is en dus in apartheid-Suid-Afrika afspeel, is Statements After an Arrest Under the Immorality Act vandag steeds uiters aktueel en relevant.

Ek wou hê die gehoor moet voel hulle is aandadig aan voyeurisme, maar ook dat hulle omring is deur die onsigbare geheime polisie.

Die stuk handel oor ’n liefdesverhaal tussen ’n bruin man en ’n wit vrou in ’n tyd toe verhoudings oor die kleurgrens ’n misdaad was. Die minnaars ontmoet in die geheim in ’n biblioteek om hul hoop en vrese te deel en om die geleentheid aan te gryp om die essensie te beleef van wat dit is om ’n mens te wees, naamlik om lief te hê en liefgehê te word.

’n Buurvrou verkla hulle by die polisie wat dan in die geheim uit ’n aangrensende eiendom op hulle spioeneer van hulle foto’s neem, en uiteindelik een nag by die biblioteek inbars en hulle ingevolge die onmenslike en universeel gehate Ontugwet in hegtenis neem.

Die toneelstuk vertel ’n boeiende en uiters aangrypende verhaal waarin die fisiek en emosioneel naakte minnaars nie net hul liggame nie, maar ook hul diepste verlange na persoonlike en emosionele vryheid ontbloot.

‘Verfoeilike wet’

Marlo Minnaar as die bruin minnaar. Foto: Claude Barnardo

Hoewel hierdie verfoeilike wet al lankal nie meer bestaan nie, maak kwessies soos die invloed daarvan om dopgehou te word, die skending van menseregte, en die weerloosheid van mense in die hedendaagse wêreld die toneelstuk vandag steeds tersaaklik.

Ek wou in dié nuwe produksie van Statements After an Arrest Under the Immorality Act, wat saam met die KKNK aangebied word, kyk na die tema van menseregte en hoe mense destyds dopgehou is, en wat dit vandag vir ons beteken – die wyse waarop privaatheid deur die staat en onsigbare magte geskend word; die inperk van beweging; die sensuur op vryheid van spraak, of die onderdrukking van sekere groepe in die samelewing.

Ek wou hê die gehoor moet voel hulle is aandadig aan voyeurisme, maar ook dat hulle omring is deur die onsigbare geheime polisie.

Ook wou ek die patologie van rassisme onder die soeklig plaas en hoe die apartheidsregering daarin geslaag het om die idee van die verwydering tussen rasse deel te maak van die vesel van die Suid-Afrikaanse samelewing – iets wat vandag nog ’n invloed op ons het.

Tydlose stories

Daar is diegene wat meen deur stories te vertel wat ingegee is deur die donker dae van die verlede, skep ons struikelblokke op die weg na die toekoms.

Athol Fugard
Athol Fugard. Foto: Argief

Dit is nie die geval nie. Stories wat met universele en persoonlike temas resoneer, bly tydloos en ons moet voortgaan om hulle te vertel, want só bly ons op ons hoede en beskerm en veg ons vir ons vryhede en menseregte.

Deur dít te doen pak ons die uitdagings waardeur ons steeds in die gesig gestaar word terwyl ons vier wat ons reeds bereik het.

* Greg Karvellas is die artistieke direkteur van die Fugard-teater en regisseur van Statements After an Arrest Under the Immorality Act waarvan die speelvak in die Fugard-teater tot 26 Oktober verleng is.

Meer oor:  Greg Karvellas  |  Athol Fugard  |  Fugard-Teater  |  Teater  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.