Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Storm broei oor geweld teen vroue, kinders

Die regering kan nie aanhou om bloot pleisters te plak op die seerplek van geweld teen vroue en kinders nie. Hy sal nou met ’n plan vorendag móét kom, skryf Anena Burger.

Persona non grata. Onwelkom en onaanvaarbaar.

So sluit Suid-Afrika die winter met Vrouemaand af en lei die lente grys, grou en verdoemend in.

Anena Burger

Vroue, kinders, ons beteken niks. Persona non grata is ons verklaar.

Die jagseisoen is oop. Oop op die lewens van dié wat as minderwaardig verklaar is.

Ons verskoning van ’n regering plak ’n pleister met ’n naam oor wankelrige statistieke en dié problematiese verskynsel.

Kom ons troos die nasie met Vrouedag, Vrouemaand en 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

“Kom vier jul vrouwees saam met ons op ’n damestee. Eet koek en ruil koesister-resepte uit. Dit maak alles beter. Dè, kry vir jou ’n teetjie.”

O nè?

Terwyl stroopsoet sogenaamde veldtogte in elke vrou in dié wettelose land se keelgate afgedruk word, word ’n vrou in die veiligheid van haar woonstel uitmekaar gekap, ’n gr. R-meisie word reg voor haar skool se hek uit haar ma se hande geruk en ontvoer, ’n tienermeisie word in ’n veld doodgesteek nadat sy ’n kerkdiens bygewoon het . . . die lys gaan net aan en aan en aan.

Soos stinkende vrot lappe weggesmyt, good for nothing.

Maar kom ons woon daai vrouetee by, want ons mag dalk net ’n T-hemp kry om huis toe te vat en in ons kaste te bêre om later ’n stoflap te word.

Op 2 September is sosiale netwerke vol hulpkrete en gebede. Vroue basuin hul moedeloosheid ten hemele uit. ’n Tienerseun van die Kalahari skryf: “Vader! Red ons nasie. Waarheen is hulle op pad?”

En op Twitter kom die volgende juweeltjie van @GovermentZA af: “Violence and abuse against women have no place in our society. Govt is calling on all women to speak out, and not allow themselves to become victims by keeping quiet. Women who speak out are able to act, effect change and help others.”

Doe so voort @GovernmentZA, gaan aan. Daar is ’n storm aan die broei. Die vroue van Suid-Afrika is stadigaan besig om laer te trek.

Wag, wat?

@GovermentZA skitter soos die aandster in sy afwesigheid, want nie een van sy verteenwoordigers het by onlangse optredes voor howe of bymekaarkompunte ’n skare befoeterde en goed gatvol vroue kom toespreek nie.

Ja nè, praat uit, maar só kry die booswigte borg. Só kry hulle ligte vonnisse of word vir sogenaamde goeie gedrag op parool vrygelaat. Dít is die werklikheid van geregtigheid vir vroue in Suid-Afrika terwyl daar oor superstede in die parlement gedroom word.

Maar as ons praat, as ons ons stemme begin verhef . . .

“Deel daar nog ’n paar kospakkies en T-hemde uit. Dit sal hulle paai.”

Doe so voort @GovernmentZA, gaan aan. Daar is ’n storm aan die broei. Die vroue van Suid-Afrika is stadigaan besig om laer te trek.

Dis dalk tyd om wakker te skrik en te lúíster as hulle praat, want wat is jou plan @GovernmentZA? Wat is jou plan?

* Anena Burger is ’n vryskut foto-joernalis vir Netwerk24 in die Wes- en Noord-Kaap. Sy lewer verslag oor brekende nuusgebeure, omgewingsake en skryf ook graag oor die wel en wee van gewone Suid-Afrikaners. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.