Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Storm in glas water of die perfekte storm?

By Brackenfell het die hoofstroom- en sosiale media daarin geslaag om uit niks ’n perfekte storm te skep.

Die EFF en die bekommerde ouers van die Hoërskool Brackenfell het natuurlik hul eie bydrae gelewer sodat ons eindig met ’n perfekte rassestorm.

Dr. Pieter Mulder

Omdat daar nie vanjaar ’n matriekafskeid by dié skool is nie, het ’n ouer besluit om ’n geselligheid vir haar kind en ’n paar vriende te reël. Toe die staat van inperking verslap is, is die uitnodiging wyer op Facebook en WhatsApp uitgestuur – ook aan sommige bruin en swart leer­linge.

’n Swart leerling wat nie kon gaan nie, bevestig dit. Die uitnodiging sê nie “Brackenfell-matriekafskeid” nie, maar “Masquerade Ball MX’20”. Dit word nie by die skool gehou nie, maar op ’n wynplaas. Dit kos R500, waarvoor jy ’n driegangmaal, iets te drinke, asook musiek deur ’n DJ, kry.

Van die ongeveer 250 matrikulante daag 42 by die geleentheid op. Dit is 17% van die klas. Daar is ook 30 leerlinge van ander skole. Die skool en die beheerliggaam het niks met die reëlings te doen nie. Die Wes-Kaapse minister bevestig die feite. Dit is duidelik ’n private geleentheid.

’n Tweede weergawe van die gebeure lui dat daar berekend teen bruin en swart leerlinge gediskrimineer is deur vanjaar slegs wit leerlinge na die skool se amptelike matriekafskeid te nooi.

Die eerste weergawe moes die enigste in die hoofstroommedia gewees het. Joernaliste moet hul nuus aan meer as een bron toets.

Dit maak hul nuus betroubaar en onderskei dit van sosiale media se fopnuus. Ongelukkig het sommige TV-nuuskanale, asook sekere koerante, die ongetoetste fopnuus net so as feite oorgedra.

Van die eerste berigte se opskrifte het gelui: “Storm bars los oor skool se wit matriekafskeid.” ’n Korrekte opskrif sou eerder wees: “Minister veroordeel fop-nuus oor private partytjie.”

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys, aanvaar sonder ondersoek die tweede weergawe van gebeure. In ’n verklaring veroordeel sy die “matriekafskeid” omdat slegs wit leerlinge genooi is.

Sonder ’n ondersoek na die feite reik ook die Menseregtekommissie ’n verklaring uit waarin hy sy skok uitspreek dat daar in dié tye nog ’n rasgeskeide geleentheid vir matrieks van die skool gehou is.

Die EFF neem dit op hom om met ’n betoging die skool ’n les te leer. Die res is geskiedenis.

Die meeste Suid-Afrikaners se instink is om so ’n misverstand en probleem te probeer oplos deur met die beswaardes gesprek te voer. Reik uit en versoen. In hierdie gees spreek die beheerliggaam sy spyt uit oor ’n private geselligheid wat eintlik niks met hom te doen het nie.

Dit verminder nie die druk nie, maar vermeerder dit en is olie op die EFF se vuur.

My ervaring: Die EFF stel nie belang in versoening nie. Hy stel nie belang in die waarheid nie. Daarom wys hy die uitnodiging tot gesprek met die provinsiale minister van die hand.

Nou-nou befoeter die waarheid sy verskuilde agenda.

Dié agenda is om deur polarisering en rassisme stemme te werf. Hy glo dit hou hom politiek relevant. In Senekal wou hy “vandalisme voorkom” nadat sy lede Clicks-winkels verniel het. By Brackenfell beveg hy “rassisme” met die uiterste rassistiese uitsprake.

My raad: In Bybelse Prediker- styl is daar ’n tyd om te versoen en ’n tyd om rug styf te maak.

Ons het rug styfmaak se sukses by die Hoërskool Overvaal gesien – sonder geweld. Onthou ook Spreuke 26:20: “Sonder ’n kwaadstoker hou ’n rusie nie aan nie.” Dit geld sosiale media, sommige joernaliste en al die onnodige aandag aan die EFF.

  • Dr. Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.