Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Storm in 'n glas water

Die ANC se aanval op Solly Msimanga oor sy besoek aan Taiwan se hoofstad, Taipei, het Douglas Gibson die pen laat opneem.

Douglas Gibson. Foto: Argief

As daar al ooit ’n vakansie-storm in ’n glas water was, is die ANC se reaksie op die burgemeester Solly Msimanga se besoek aan Taiwan ’n treffende voorbeeld van versinde veront­waardiging.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van interna­sionale betrekkinge en samewerking, het die bal aan die rol gesit.

Monyela het dit goedgedink om die burgemeester van Tshwane se week lange besoek aan Taiwan in die Kersvakansie te kritiseer en daardeur duidelik getoon hy het te groot vir sy skoene geword. Volgens hom is Msimanga aangeraai om die burgemeester van Taipei se uitnodiging van die hand te wys omdat dit “die regering se een-China-beleid sou skend”. Dit is loutere snert en die burgemeester het besluit om Monyela se raad te ignoreer.

Die ANC in Tshwane het histeries geword en Msimanga van hoogverraad beskuldig.

Ons departement van handel en nywerheid het twee jaar gelede ’n handelsbesoek van 18 maatskappye aan Taipei geborg.

 In my dae as prokureur sou ek die burgemeester aangeraai het om ’n skadevergoedingseis teen hulle in te stel.

Nou het Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, oor die ernstige skending van regeringsbeleid uitgevaar.

Hulle praat almal snert. Die een- China-beleid (wat die DA steun) word deur Suid-Afrika en talle ander lande gevolg.

Dit hou verband met die erkenning van China en van Taiwan as lande. Die Chinese hou vol Taiwan is ’n provinsie van China en dat geen land diplomatieke of ander bande met China mag hê as hy ­Taiwan as ’n onafhanklike land ­erken nie.

In die verlede het Suid-Afrika erkenning aan Taiwan eerder as China verleen. Dít het ’n paar jaar lank onder die ANC-regering aangehou, glo in ruil vir omvattende “skenkings” aan die ANC-verkiesingsfonds deur Taiwan wat oudpres. Nelson Mandela op ’n besoek aan dié land in ontvangs geneem het.

’n Buitelandse beleid gegrond op skenkings aan die ANC (wat deur talle as omkopery beskou is) was toe nie meer ’n volhoubare grondslag nie en Suid-Afrika het hom twee jaar later agter die een- China-beleid geskaar. Die Volksrepubliek van China is as die enigste verteenwoordiger van die Chinese volk erken en die erkenning wat Taiwan voorheen gehad het, is teruggetrek.

Omdat Taiwan ’n belangrike handelsvennoot en vriend van Suid-Afrika was, is ’n formule bedink ingevolge waarvan betrekkinge tussen die twee lande voortgesit kon word. Die ambassadeur het die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger geword en uit dieselfde woning en ambassade (nou bekend as die “skakelkantoor van die Republiek van Suid-Afrika”) gewerk. Dieselfde reëling is in Pretoria getref, waar die Taiwanse ambassadeur die Taiwanse verteenwoordiger geword het.

Ons skakelkantoor het vyf afdelings: handel en beleggings, toerisme, administrasie, konsulêre sake  en immigrasie. Dit behels normale funksies wat deur alle Suid-Afrikaanse diplomatieke missies uitgevoer word.

Die kontak hou nie daar op nie. Ons departement van handel en nywerheid het twee jaar gelede ’n handelsbesoek van 18 maatskappye aan Taipei geborg.

Toerismeseminare is in September 2016 in Taipei, Kaohsiung en Taichung gehou en ’n uitstalling van Suid-Afrikaanse produkte en dienste op 26 November in Taipei. As hierdie aktiwiteite nie die een- China-beleid skend nie, hoe op aarde kan ’n vriendskaplike besoek tussen burgemeesters dit doen?

Hierdie feite maak dit duidelik dat Monyela, die ANC-koukus in Tshwane en Kodwa politieke speletjies speel. Hulle behoort hulle te skaam, want hulle benadeel betrekkinge met Taiwan, een van ons belangrike handelsvennote en een van die min met wie ons ’n gunstige handelsbalans handhaaf.

Msimanga het ’n verstommend goeie wegspring as burgemeester gehad en het dinge reggestel in ’n stad wat oor ’n generasie heen ’n voorbeeld van ANC-korrupsie, -boetieskap en -wanregering was. Hy is in die Kersvakansie deels met vakansie Taiwan toe en deels om handelsgeleenthede te bespreek met die burgemeester van Taipei, wat die geleentheid gebruik het om ereburgerskap aan hom toe te ken.

Pretoria se kiesers het ’n behoefte aan verandering gehad en hulle wil werkgeleenthede hê. As die burgemeester dít kan help bevorder, sal hulle die belaglike bewering dat hy hoogverraad gepleeg of die Grondwet of amptelike beleid geskend het bloot weglag.

 Hierdie versinde verontwaardiging is niks minder as snert nie en sal die kiesers nie vir ’n oomblik mislei nie. Hulle wil hê hul belange moet vir ’n slag eerste gestel word en hulle wil nie weens politieke speletjies tweede viool speel nie.

* Gibson was hoofsweep van die amptelike opposisie en  ambassadeur in Thailand.

Meer oor:  Tshwane  |  Anc  |  Solly Msimanga  |  Taiwan  |  Buitelandse Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.