Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Storms trek my soos ’n gelate mot na ’n kers
Annemarie van der Walt

Daar is diegene wat storms tegemoetgaan en ander wat hulle so gou moontlik agter slot en grendel en verkieslik met lakens oor die spieëls daarteen verskans. Dis nou nie dat ’n mens wil loop moeilikheid soek nie, maar iets aan die gepaardgaande energie van ’n storm trek my soos ’n mot na ’n kers.

(Terloops, in ’n woordeboeksoektog om die presiese betekenis van “stormjaer” na te slaan, lees ek sowaar vir die eerste keer dié woord is ook ’n sinoniem vir ’n vetkoek. Nou toe, laat ons maar die stormjaers in die olie kry terwyl dit buite tier.)

En erken nou maar, dis nogal ’n verligting dat dit ’n natuurstorm is wat die land vir ’n slag in afwagting regop laat sit het en nie die soveelste politieke onweersbui nie.

Wanneer die wolke soos ’n armada oor die verste horison aangeseil kom, is dit vergeefs of ek kry my aandag bepaal by ’n moet-doen-lysie. Dis ’n gedwaal van venster na stoep na tuin en soos die stilte voor ’n storm neerdaal – ’n mens kan dit mos vóél gebeur, eerder as hoor – so styg die barometer van my verwondering.

Dan belowe ek myself elke keer plegtig om tog nooit weer in ’n teëldakhuis te woon nie.

Kyk maar, die ­voëls weet eerste daar is iets in die lug. Dit verbaas my elke keer dat die rooivlerkspreeus so suutjies betyds onder die dakkappe kom skuil, die suikerbekkies die verleiding van die freylinia se wit bloeisels weerstaan en wie weet waarheen verdwyn, en die janfrederik helder oordag sy nes teen die badkamervenster opsoek.

Ek kan my nie herinner aan dieselfde bewus wees van naderende onweer voor my verblyf hier op die hoogte en oopte van ’n bergrug nie. In die noute van ’n klein stadserf is die skouspel afgeskaal, die grootsheid ontgaan ’n mens makliker. Hier is die plantasies aan die een kant waardeur die ver wind eers doekvoet aankom totdat dit naderhand soos ’n trop ongetemde perde daardeur bars. Aan die ander kant is die rotslandskap met grasveld en hier en daar ’n alleenstaande bergkiepersol wat soos ’n uitbundige Dr. Seuss-karakter sy kuif laat verwaai.

Wanneer die reën eindelik neerkletter op die sinkdak, belowe ek myself elke keer plegtig om tog nooit weer in ’n teëldakhuis te woon nie. Dis so trietsig as ’n stortvloed seëning gedemp is. ’n Storm is ook nie ’n propperse storm as daar geen weerlig is nie. En daar is min dinge so mooi en tegelyk angswekkend soos dié hemelspiese wat op die see neerslaan, maar wanneer laas was ek so gelukkig om dit te siene te kry? Ek onthou wel ’n keer reisend oor die Noord-Kaapse vlakte midde-in ’n storm en uit die hoek van my oog die helderte, en toe ’n bol vuur uit die aarde. En een nag, starend na die wit blitse deur die oopgetrekte blindings, toe dit knal en ’n oomblik daarna die skeur van ’n boom wat grond toe val.

Ek was nie altyd so gelate in die aangesig van storms nie. Merendeels dalk vanweë die eie binnestorms. Maar nou, ouerwordende, is die tyd vir lakens oor spieëls trek verby.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.