Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stotterende ekonomie knou CR-mandaat

In sy eie woorde meen pres. Cyril Ramaphosa dat die mandaat wat die ANC in sy verkiesing tot ANC-president in Desember 2017 aan hom gegee het, uit drie dele bestaan: bou eenheid in die party, hernuwe die party en die land en bewerkstellig groter sosiale samehorigheid.

Dit is hierdie laaste opdrag – sterker sosiale samehorigheid – wat aan die verbrokkel is en amper onmoontlik raak as die ekonomie aanhou stotter.

vorster
Theo Vorster

Dit is haas onmoontlik om werkloosheid, die onaanvaarbaar hoë vlakke van misdaad en die platval van dienslewering aan te pak as die ekonomie nie vir meer mense geleenthede en hoop skep nie.

Op ’n per capita-grondslag was ons bruto binnelandse produk (BBP) jare lank so 7% of twee jaar agter die gemiddeld vir die wêreld – amper soos twee parallelle lyne het Suid-Afrika per capita kers vasgehou by die tempo van vooruitgang van die res van die wêreld.

Onder die wanadministrasie van die Zuma-flater het dié gaping so gegroei dat die gemiddelde burger nou 30% swakker daaraan toe is as die res van die mense met wie ons die planeet deel. Dit is nou terug op die vlak waar die wêreld 12 jaar gelede was.

Geen wonder die sosiale samehorigheid het verval in ’n moedelose, werklose en gefrustreerde publiek nie – met betogings en geweld wat ons 12de landstaal geword het.

Dit is juis met dié mandaat van sosiale samehorigheid dat Rama­phosa besig is om vas te draai – hy kry dit nie reg om die land agter een doelwit en visie te verenig nie.

In ’n groeiende ekonomie is ’n droom van ’n regverdige kans haalbaar, maar nie in ’n ekonomie waarin almal verarm nie.

Ons het oudpres. Nelson Mandela se versoeningsdroom en oudpres. Thabo Mbeki se Afrika- renaissance-visie gehad, gevolg deur Jacob Zuma se staatskaping en “hou-my-uit-die-tronk”-motief.

Buiten daarvoor, was Sepp Blatter die naaste wat Suid-Afrika aan ’n leier gekom het wat almal verenig het.

Blatter het dit reggekry om Suid-Afrika in die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 te verenig, infrastruktuur is binne spertye gebou, treine en ander openbare vervoer was betyds en veilig, die polisie en howe het ons 24 uur per dag veilig gehou en strafregtelike sake was binne ure op die hofrol.

Dié eenheid in navolging van ’n doel waarby die hele land ingekoop het, het wondere vir sosiale samehorigheid verrig.

Suid-Afrika se uitdagings laat my baie dink aan oudpres. Theodore Roosevelt van die VSA se “square deal”-veldtog in die 1900’s. Sy kernboodskap was dat elke Amerikaner, ryk of arm, moet voel hulle kry ’n regverdige kans in die lewe. Sy beleid het wetgewing ingesluit om groot ondernemings se mag te beperk, te sorg dat werkers voel hulle word nie deur groot ondernemings uitgebuit nie en word ’n regverdige loon betaal, dat verbruikers voel hulle betaal markgerigte pryse vir noodsaaklike produkte en dat alle entrepreneurs toegelaat word om hul eie onderneming te bou.

Daarby is die beginsel gehandhaaf dal almal hul sosiale en finansiële status deur harde werk kan verbeter. Amerika het verenig agter Roosevelt se “square deal”-ideaal.

Terwyl daar Suid-Afrikaners is wat voel hulle word te na gekom deur ’n stelsel wat hulle faal en dat die geleenthede om hulle uit ’n benarde sosiale posisie op te werk, nie bestaan nie, gaan Ramaphosa se mandaat om beter sosiale samehorigheid te bewerkstellig, in die stof byt.

In ’n groeiende ekonomie is ’n droom van ’n regverdige kans haalbaar, maar nie in ’n ekonomie waarin almal verarm nie.

  • Vorster is die uitvoerende hoof van Galileo Capital.

.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Mandaat  |  Ekonomie  |  Skep 'N President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.