
Jana Luther
In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word die taal van vandag, die onlangse verlede en vroeër bewaar; woorde en uitdrukkings uit die standaardvariëteit én die ander variëteite, uit geselstaal en streektaal.
Só kom daar dikwels woorde verby wat met die eerste oogopslag in onbruik lyk. Vors ’n mens hul komvandaan na, is dit egter nie altyd die geval nie: In elke omgewing – dorp, distrik, woonbuurt, huis – leef daar in die spreektaal van verskillende generasies unieke woorde wat mense elders nie ken nie. Só kom ek byvoorbeeld op “twansie” af; die eerste keer dat ek dié woord gewaar. In die Noord-Kaap word dit skynbaar algemeen gebruik vir wanneer iets meegee, dreig om te val. In Draaijakkals (1999) skryf George Weideman van ’n toring wat “lyk of dit gaan twansie”.
Hier is nog ’n paar voorbeelde; woorde wat in die WAT as streektaal gemerk is, met alfabeties die plekke waar hulle opgeteken is:
In Aberdeen is ’n “doedelsak” ’n houer vir alles en nog wat; vir breiwerk, ’n skaapwagter se riempies, tabak; ’n rommelsak.
In Boesmanland is “goeroetyd” ’n tyd van skaarste, min om te eet, honger ly. “Faikonta”, in Calvinia, is “sogenaamd”, “kamma”. As Clanwilliam se kinders winkel speel, is klippies faikonta hul geld.
Jou nekkuiltjie, tussen die senings agter jou kop, is in Namibië jou “norra”.
In Excelsior is “ietsjoe” “eina”; in Gordonia “kams”, of “ghams”, met ’n suigklank vooraan, ’n holte in die grond.
Graaff-Reinet se “dagroeper” is ’n hoenderhaan. In Humansdorp word “doontjie”, ’n drank van geelstroop, gedrink. In dele van Johannesburg is ’n “haasboud” ’n pistool of rewolwer.
“Van die os op die esel” of “die jas” word in die Kaap “van die uiwe op die druiwe”.
In Komaggas is ’n vroedvrou ’n “daia”. Na die Filistynse god Dagon is ’n “dagontjie”, in Malmesbury, ’n hebbelikheid waaraan iemand verknog is. Ons het almal maar ons dagontjies.
As twee mense saamwoon sonder om te trou, sê die Namakwalanders, “nam” hulle. Om te nam is om lief te hê. “Nan”, daarenteen, is ’n skeur in ’n rots, ’n plek waar dassies nam.
Jou nekkuiltjie, tussen die senings agter jou kop, is in Namibië jou “norra”.
Oudtshoorn se “ghaaisa” is ’n kaalvoetspring- en -klopdans, gekenmerk deur die klop van hande op die heupe, op die boude, van voete wat teen kuite en hakskene klap.
In die vingerrympie “Pinkie, Gouelinkie, Lourierboom, Spellemaker, Goggakraker” herken ’n Paarliet sy hand.
Piketberg se “dreunribbetjie” is ’n parmant; Redelinghuys se “draaistert” ’n vark; Senekal en Steynsrust se “magonja” twee streepsakke wat aanmekaargewerk is om as drasak te dien.
In Tarkastad is “hoentoe?” “waarheen?”.
In Uniondale “dar” ons, trap ons nog rond. In Victoria-Wes is ons amper, byna, so “hippetip” klaar.
Soos Worcester se “riewas” word in die WAT “allerhande snuisterye en besittinkies” bewaar.
- Jana Luther werk mee aan die WAT.