Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Strewe na 2de beste knou SA se potensiaal
Nico Koopman

In die Christelike tradisie kan God se genade, God se onverdiende guns aan ons, beskryf word as uitmuntende genade wat mense laat uitmunt (volgens Efesiërs 2:8-10).

Uitmuntendheid en uitnemendheid beteken ek verwesenlik my potensiaal optimaal. Ek vergelyk wel my uitsette met dié van ander, maar ten diepste lewer ek mý beste, gemeet aan my potensiaal.

Interne faktore soos toewyding, ywer, gesindheid, deursettingsvermoë en werketiek bepaal hoe ek hierdie natuurlike potensiaal vervul. Eksterne faktore kan my potensiaal bevorder of belemmer. ’n Goeie leefomgewing, stimulerende leeromgewing, blootstelling aan goeie rolmodelle, genoegsame geleenthede en sosiale kapitaal in die vorm van verhoudinge en netwerke van vertroue, aanmoediging en ondersteuning kan help dat ek my potensiaal bereik.

Samelewings het uitmuntende prestasie nodig in persoonlike, professionele en publieke sfere – anders sukkel huwelike en gesinne, familiebande en vriendskappe, woonbuurte, werkplekke, die sakesektor, die burgerlike samelewing en die politieke en ekonomiese omgewing.

’n Kultuur van middelmatigheid pleks van uitmuntendheid – van die tweede beste is genoeg pleks van ’n strewe na die beste – het in ons samelewing posgevat. Ons prys visse omdat hulle swem en is te dankbaar as iemand tog maar net die minimum van sy basiese taak verrig.

Dié transformasie na ’n samelewing van menswaardigheid word gekniehalter deur ’n kultuur van middelmatigheid en verraad teenoor uitmuntendheid.

Suid-Afrikaners is op ’n transformasie-reis van ’n samelewing van uitsluiting na een van insluiting, van oorheersing deur een groep na die gelykwaardigheid van alle groepe, van onreg na geregtigheid, van seermaak na heling, van verknegting na vryheid. In Vrouemaand is daar opnuut ’n verbintenis tot die transformasie-reis weg van patriargie na gender-geregtigheid, van vooroordeel teenoor vroue na gender-gelykheid en van geweld teenoor vroue na die vriendskap en vennootskap van vroue en mans.

Dié transformasie na ’n samelewing van menswaardigheid word gekniehalter deur ’n kultuur van middelmatigheid en verraad teenoor uitmuntendheid. Deurlopende onvoldoende dienslewering en die twyfelagtige optrede deur wetstoepassers tydens die onlangse onluste is voorbeelde van middelmatigheid.

Ons land het ’n ryke diversiteit van mense.

Dit posisioneer ons so goed om ’n uitmuntende samelewing te word. Ons leuse behoort “Uitmuntendheid deur diversiteit” te wees. ’n Diversiteit van rasse, sosio-ekonomiese groeperings, kulture, tale, agtergronde en standpunte soos ons s’n baan die weg vir uitmuntende teorievorming, beleid en praktyk op alle terreine.

Uitmuntendheid is nie vir ’n elitistiese groepie bedoel nie. Dit beteken nie foutloosheid nie. Dit is daardie onwrikbare strewe om jou bes te lewer onder alle omstandighede. Dit gaan dus nie gepaard met prestasie-angs nie, maar met prestasie-vreugde.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.