Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Strooptogte pleks van selfopofferende diens

Besinning oor korrupsie in Suid-Afrika maak my erg depressief. Daarby is dit nogal moeilik om by te hou by al die daaglikse berigte oor die stroom van strooptogte van die staatskas. Maar ek kan nie langer swyg oor die kanker wat hoe langer, hoe dieper en skynbaar ál lustiger bly wegvreet aan ons staatshuishouding nie.

Prof. Anton van Niekerk

Wat is korrupsie? Dis die onregmatig-misdadige en gewetenlose toeëiening (lees: diefstal) van (staats)bates deur (veral) omkopers wat veronderstel is om diens te lewer aan die gemeenskap, eerder as om dit wat die samelewing toekom, vir eie gewin te plunder.

Voorbeelde hiervan vul daagliks die koerante en ander media, soos op 21 Oktober se voorbladopskrif in Die Burger: “Twee derdes van Covid-geld is ‘weg’ ”.

Ek haal die tweede paragraaf aan: “Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het gister gesê die regering het tussen April en Augustus R15,6 miljard aan die pandemie bestee. Die eenheid ondersoek transaksies ter waarde van R10,5 miljard, oftewel 67% van die totale besteding weens moontlike wanbesteding of korrupsie.”

Blaai net om, en die volgende mededeling kondig sigself aan: “Minstens 75 strafsake is tot dusver geopen teen mense wat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-skema na bewering ingeloop of bedrieg het”.

Afgesien van alle ander afgryslikhede, let op waarom dit veral hier gaan: wangebruik, misbruik of diefstal van bronne wat staan tussen brandarm mense en hongersnood – midde-in hierdie skrikwekkende pandemie.

Hierdie mense is daar om aan ons almal ’n diens te lewer, nie om van ons almal teikens van hul (soms selfs gewapende) plundertogte te maak nie.

In die twee berigte waarna ek verwys het, is die slagoffers nie ryk mense nie, maar die mees weerlose mense – die magteloses en armstes. Dáárvoor gee die korrupteerder geen flenter om nie. Al waaroor dit vir hom gaan, is plundering met die oog op eie gewin. Nee, nog erger: Dit gaan vir hulle om selfverryking (met die klem op “ryk”) in die aangesig van mense wat sonder die bronne wat gesteel is, eenvoudig van die honger sal krepeer – dikwels as resultaat van sameswering en omkopery op die hoogste vlak van magsuitoefening.

Die meeste van ons is al lam van hierdie verhale. Veral ook as die nuusmedia onomwonde aandui dat die inspirasie vir hierdie gebeure “morele leiers” soos Ace Magashule en Jacob Zuma is en was. Die vraag is nie alleen hoe kry ons die gesteelde bronne terug sodat die wat moet baat, kan baat nie. Die ewe belangrike vraag is hoe sorg ons dat die misdadige kultuur eens en vir altyd beëindig word.

Die eerste wat daarvoor nodig is, is morele verontwaardiging op ’n wye skaal. (Die Engelse moral outrage sê dit sterker). As ons veral kennis neem van die verhale oor lede van die polisie wat kop in een mus met plunderaars en geweldenaars is, is die onvermydelike gevolg dat ons wetstoepassers sowel as die staat wat hulle verteenwoordig, morele gesag en respek verloor. Dit behoort ons woedend te maak. Hierdie mense is daar om aan ons almal ’n diens te lewer, nie om van ons almal teikens van hul (soms selfs gewapende) plundertogte te maak nie.

Die tweede wat nodig is, is om die ou Romeins-Griekse ideaal van die “homo civis” (die burgerlike mens) te laat herleef. Dit is die toegewyde dienaar van die “polis” of openbare ruimte waar, in die naam van demokratiese debat en meelewing, die hoogste ideale vir die staat geformuleer en tot uitvoering gebring word.

Boweal, dit is die vergestalting van die oortuiging dat diens aan die staat in die eerste en laaste instansie diens aan die burgers van die staat is, en dat daardie diens ’n selfopofferende geleentheid vir dienslewering eerder as ’n selfverrykende strooptog is.

  • Prof. Van Niekerk is direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.