Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stryd om ‘hart en siel van Grey’
Gert Coetzee

Aan die kern van “die stryd om die behoud van die hart en siel van Grey-kollege”, soos dit al aan my gestel is, lê die feit dat Grey Grey is.

Dit is die ondefinieerbare magiese X-faktor wat nie-Greys, soos ek, blind sou wees om te wil ontken. En seker net (oud-) Greys kan verstaan wat is die enigmatiese “Grey Way”, waaroor sedert onthulling van die onmin bespiegel is.

By onbetrokkenes ontlok daardie spesiale Grey-wesensaard nyd of agting.

Ek het hoë maar neutrale Grey-respek – in konteks van die belang van alle skole in Volksblad-lesergebied en hul rol in veranderingsbestuur vir die toekoms.

Maar is welbekend met klagtes van ander skole oor prominente berigte oor Grey-prestasies. Wel, wat sê ’n mens van ’n skolerugbywedstryd wat 12 000 toeskouers, of meer, trek, soos op 18 Augustus vanjaar wanneer Grey en Paul Roos Gimnasium mekaar by die skool in Bloemfontein pak om te bepaal wie 2018 se beste Suid-Afrikaanse rugbyskool is?

Prominensie kom met ’n angel, ook nuusgewys. Soos die Grey-onmin staaf.

Prominensie kom met ’n angel, ook nuusgewys. Soos die Grey-onmin staaf.

Ook omdat die dispuut nou sub judice is, is dit nie op Volksblad se pad om kommentaar te lewer nie, veral nie oor die meriete van besware of verweer nie. Waarnemings oor die slag van Grey-kollege is geldig omdat van die kwessies relevant vir alle skole is.

In die algemeen is die jurisdiksie, rol en pligte van skoolhoof, beheerliggaam en departement onder die loep. Asook klarigheid daaroor – selfs Fedsas en die SAOU verskil. En riglyne oor die pad vorentoe as vertrouensverhoudinge, soos hier, onherstelbaar verbrokkel het.

Rakende die departement is die vraag hoekom hy bewus was van tweespalt, asook van onderwyserklagtes, en selfs met groepe betrokkenes gepraat het, maar niks verder gedoen het nie.

Eie aan die Grey-tweespalt is dat nie net onderwyslui nie, maar ook ouers en veral oud-Greys, veral sekere jaargroepe, oor jare betrokke en verdeeld is.

Die soort organiese katarsis is nie uniek nie en moet deurgewerk word.

Natuurlik is ’n mens nie onbewus nie van die pyn vir die hele skool en risiko van skade vir individue en instansies.

Die soort organiese katarsis is nie uniek nie en moet deurgewerk word.

Dit bepaal jou staal.

Die gemenesaak is die leerlinge is die primêre “kliënte” en hul belang kom eerste, word van alkante gesê.

Gegewe Volksblad se aard as ’n groot gemeenskapskoerant, kan die stryd ook as ’n nuusgevallestudie ontleed word.

Met toegewyde oud-Greys oral spruit die nuusbelang van die historiese skool van Bloemfontein uit na alle uithoeke wêreldwyd.

Volksblad is vir twee jaar van die onmin bewus en baie gesprekke met betrokkenes is gevoer en navrae gerig – ook aan die onderwysdepartement.

By gebrek aan toegedigte bevestiging, was die besluit maklik: Ons is nie ’n party nie en dit is nie ons taak om dit anoniem in die openbare domein te sit nie. Noudat dit openbaar is, skryf ons voluit. Om te sê dit gee Volksblad geen behae nie, sou irrelevant wees.

Dit is ons plig om te berig. As joernaliste is ons eerstens handelaars van nuus en trots daarop hoe ons ons werk verrig. Ons onafhanklikheid en geloofwaardigheid kom sonder premie.

Naas gebalanseerde beriggewing is een van ons joernalistieke strewes “maksi-mum inligting, minimum skade”.

Met soveel slaggate meen ek in dié Grey-sage slaag ons die toets. Buiten met die “rotnes rondom die beweerde swak bestuur van die Grey-hoof wat in die hof oopgekrap gaan word” (4.6).

Met nawete ná spertyd dink ek – met spyt – dit moes anders lui. En nie net omdat die “rotnes” nêrens in die hofstukke voorkom nie.

Maar hoe? “Al die onverkwiklikhede rondom die beweerde swak bestuur . . . word oopgekrap” sou kon werk.

Noudat ek twee dae kon nadink. Vir ’n opskrif sou dit net gans te lank wees.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Grey  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.