Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stryd teen Cyril: Gevaar is groot

Pres. Cyril Ramaphosa se faksie in die ANC sal die stryd teen interne teenstanders nie noodwendig in die howe en met ander “rasionele metodes” wen nie en moet eerder toesien dat hy die botoon in die party voer, skryf Christi van der Westhuizen.

Die stryd teen pres. Cyril Ramaphosa binne die ANC is fel en sy teenstanders se vuilspel ken geen perke nie. Foto: Argief

Suid-Afrika het ’n nuwe politieke en ekonomiese laagtepunt bereik, maar ’n mens wag vergeefs op tekens dat Ramaphosa en sy faksie sake onder beheer kan bring.

Die korrupte magte het binne ’n kort tydperk ná die ANC se Nasrec-konferensie hergroepeer en die aanslag is fel en op verskeie fronte.

Twee grondliggende en verwante verskille tussen die twee faksies se politieke uitgangspunte staan uit, wat Ramaphosa aan die verloorkant plaas. Die eerste is dat die Zuma-faksie bereid is om voluit te veg om hul visie in werking te stel, wat ook al die distopiese gevolge.

Vir dié soort mentaliteit is selfs nasionale soewereiniteit te koop.

Soos die politieke kommentator Ranjeni Munusamy dit stel: Hulle mobiliseer om Suid-Afrika te “breek”, want in ’n gebroke Suid-Afrika sal hulle triomfantelik wees.

As ’n mens dié gedagte verder uitpak, beteken dit geen aksie is vanuit hul oogpunt te ekstreem nie: As dit hul agenda aanhelp om die staatsmag te herwin, is dit aanvaarbaar nieteenstaande die skade wat aangerig word. Ander voorbeelde van dié soort destruktiewe aksie is byvoorbeeld in Nelson Mandelabaai gesien, waar staatsamptenare betogings oor dienste aangeblaas het sodat nood-tenderprosedures kon inskop, wat staatsbegrotings vir plundering beskikbaar stel.

Aanduidings dat die kragtekorte soortgelyk misbruik is, is ’n ander voorbeeld. So ook Jacob Zuma se toelating van die landing van die Gupta-familie se passasiersvliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis, ’n nasionale sleutelpunt (’n werklike een, nie soos dié wat die ANC probeer voorgee dieselfde status het nie). Vir dié soort mentaliteit is selfs nasionale soewereiniteit te koop.

Die politiek van vernietiging

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, se verreikende bevindings, help om chaos te veroorsaak in die reeds onstabiele politieke omgewing in Suid-Afrika. Foto: Argief

Fatalisme is inherent tot hierdie politiek. Aesop se gans wat die goue eiers lê, doem op. Die fokus van die Zuma-faksie is absoluut individualisties (ten spyte van die opportunistiese groepspraatjies) en op kort termyn gewin gerig.

Daarom dat die selfverryking verskeie staatsondernemings tot op hul knieë gedwing het: Die gierigheid sal eers end kry wanneer die gans nek omgedraai is. Dit geld klaarblyklik Suid-Afrika as geheel.

Uiteindelik is hierdie ’n politiek van vernietiging, teenoor die Ramaphosa-faksie se poging tot herbouing.

Dus is dit ook ’n politiek van nihilisme. Chaos word gesaai: Vanaf verreikende bevindings van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, wat van ’n patetiese begrip van die reg getuig, maar ewe arrogant aanhoudend aan ons opgedring word, tot aanhitsende rasse-spraak wat opportunisties op historiese verdelings teer, tot die verwante stokou ANC-paranoia oor apartheidspioene wat Zuma opdiep en aanbied asof dit vanoggend gebeur het.

Uiteindelik is hierdie ’n politiek van vernietiging, teenoor die Ramaphosa-faksie se poging tot herbouing. Dit bewys die sêding dat dit ’n leeftyd kan neem om te herbou wat in ’n oogwink vernietig is.

In Suid-Afrika se geval was daardie oogwink veral Zuma se tweede presidentstermyn, maar dit strek ook verder terug. Die herbouingspoging swik onder die puin.

Gevaar is groot

Die tweede grondliggende verskil tussen die twee faksies se politieke uitgangspunte is dat die Ramaphosa-mense klaarblyklik onder die indruk verkeer dat hul teenstanders slegs met “rasionele” metodes verslaan kan word.

So dis kommissie ná kommissie, hofsaak ná hofsaak. Daar word deesdae heelwat geskryf oor hierdie sogenaamde “lawfare”: Die skuif van die politiek na die howe, wat uitermatige druk op laasgenoemde plaas.

Julius Malema, EFF-leier en Mkhwebane-bondgenoot, het juis onlangs ’n dreigende opmerking gemaak dat die stryd na die howe geneem word omdat die teenkorruptes weet hulle sal nie die stryd in die strate wen nie.

Christi van der Westhuizen

Dít kan waar wees, veral as die Ramaphosa-faksie voeling met die ANC-voetsoolvlak verloor, soos met Thabo Mbeki gebeur het in die aanloop tot sy verwydering as president van die land in 2008. Heelparty van die ou Mbeki-groep het hulle nou agter Ramaphosa geskaar.

’n Mens hoop hulle het daardie les geleer: beheer oor die staatsapparatus (wat in elk geval beperk is) kan nie beheer oor die ANC vervang nie. Zuma weet dit goed: hy het altyd die party as voertuig in verhouding tot die staat gebruik, en op daardie manier beskermende, party-gegronde patronaatnetwerke vir homself en sy vriende geskep.

Die klem op instellings, wette, reëls en regulasies is noodsaaklik in ’n konstitusionele demokrasie, maar dit werk net tot op ’n punt. Soos aangedui, die korruptes se vuilspel ken nie perke nie.

Gegewe met wie hy te make het, moes Ramaphosa tog geweet het dat sy teenstanders alles sal doen om die kleinste vlekkie op sy rekord te vind en aan die groot klok te hang. Vandaar die lekkasie van die e-posse wat wys hy het kennis van besonderhede van befondsing tot sy ANC-presidentsveldtog gedra. Die veldtog teen Pravin Gordhan is soortgelyk.

Só word die openbare diskoers die afgelope paar weke deur Ramaphosa se wettige privaat befondsing oorgeneem, en die openbare aandag word heeltemal van die onwettige grootskaalse diefstal en misbruik van staatsgeld weggeskuif.

Die gevaar is groot: Die Zuma-faksie mik vir nog ’n herroeping, soos met Mbeki reggekry is.

Ongelukkig raak die media meegesleur.

In dié stadium behoort die media elke lekkasie te meet aan wat die gevolge daarvan vir die teenkorrupsiepoging is. As die skoonmaakoperasie negatief beïnvloed sal word, moet die inligting gebalanseer word.

Daar is byvoorbeeld aanduidings dat die ANC-takke en -ledegetalle in provinsies soos die Vrystaat en die Oos-Kaap voor die Nasrec-konferensie gekook is. Groot bedrae geld is waarskynlik oorbetaal. Waar is daardie lekkasies oor Nkosazana Dlamini-Zuma se veldtog-fondse?

Die gevaar is groot: Die Zuma-faksie mik vir nog ’n herroeping, soos met Mbeki reggekry is. Teen die agtergrond van die sosiaal-ekonomiese benarde toestand van die land, is partylede vatbaar vir korrupsie in ’n ANC waar omkopery die politiek in groot mate bepaal.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee se oënskynlike steun aan Derek Hanekom ná Zuma se aanval op hom suggereer dat die Ramaphosa-groep nog die botoon voer. Maar vir hoe lank?

* Van der Westhuizen is medeprofessor verbonde aan die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.