Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Studente én die dosente sukkel weens ‘kodetaal’

Die spotprenttekenaar Fred Mouton se hekeling met die lae slaagvereistes om matriek agter jou naam te skryf, spesifiek wat taalprestasie betref, beeld treffend uit hoe onvoorbereid leerlinge vir universiteitstudie kan wees.

Wilhelm Jordaan

In een van sy spotprente staan ’n student voor ’n professor met dié boodskap op sy slimfoon: “Huganit profi? K wil net weet of di laer tulatng vrystes btkn k kan die xam in sms-taal n emojis skrf? Luvit!”

Die onvoorbereidheid vir universiteitstudie het daarmee te doen dat te veel leerlinge – weens die invloed van SMS-taal, emoji’s wat woorde vervang en die stotterende halfsinnetjies eie aan die sosiale media – nie werklik in staat is om beredeneerd met ingewikkelde vakinhoud op universiteit om te gaan nie.

Navorsing wys dat dié soort slordige taalgebruik al hoe meer in voorgraadse studente (plek-plek ook nagraads) se werkstukke en eksamen- vrae­stelle floreer. En dosente sukkel om die “kodetaal” te ontwar en moet dikwels raai wat ’n student eintlik bedoel. Dit lyk my ons kweek só ’n taalgebruikstyl wat die beproefde grammatika van sinsbou (wanneer jy skryf) en sinsontleding (wanneer jy lees) in die wind slaan.

In baie studente se skryfwerk is die logiese opbou van ’n argument deur samehangende stellings afwesig. Woorde en frases wat ’n vertrekpunt aandui – byvoorbeeld “in die lig hiervan”, “gesien die feit dat”, “as aangeneem word dat” – word selde gebruik of korrek aangewend. Dit geld ook woorde en frases wat gevolgtrekkings aandui, soos “derhalwe, “die afleiding is dat” en “dus blyk dit dat”.

Wat dosente al hoe meer in werkstukke en eksamenvraestelle teëkom, is ’n losse opeenstapeling van feite en bewerings waartussen daar geen duidelike verband gelê is nie, en bloot vaagweg op die gestelde vraag betrekking het.

Baie studente verstaan inderdaad nie die verskil tussen memoriseer, redeneer en krities dink nie.

Baie studente verstaan inderdaad nie die verskil tussen memoriseer, redeneer en krities dink nie. Word hulle hiervoor gepenaliseer, is hulle verbaas, selfs ontsteld. Met dié verweer: “Maar al die feite is dan daar! So is ons geleer. Dit staan so in die boek.”

Miskien, meen hulle, het goeie begrypende (en toegeeflike) dosente net halwe woorde nodig!

Dit is asof studente hul taak, en miskien ook die lewe in die algemeen, al hoe meer SMS’erig bedink – flentertjies gedagtes wat op die een of ander magiese manier vanself tot ’n ordelike en verstaanbare geheel sal kom.

Dit verklaar ook hoekom baie studente se aandagspan so kort is. Elke tien minute moet hulle die dwelmpie van ’n prentjie kry, visuele lekkernye om hul sluimerende intellektuele aptyt te probeer prikkel. Anders dop hul oë om soos outydse kasregisters wat “No Sale” oplui.

Taalonderrig op skool is in ’n krisis en die digitale oordaad in moderne kommunikasie maak ons blind daarvoor. Duur die swak onderrig en lae slaagvereistes voort, kweek ons onvermoënde leiers van môre wat “presteer” in kuber-snelskrif en leë gedagtegange.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Studente  |  Onderrig  |  Universiteit  |  Studeer  |  Dosente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.