Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Studente se geldkrisis vra herbesinning

My matriekjaar in 1976 was nie maklik nie. Daar was nie aanlyn geriewe nie. Ná ekstra klasse oor naweke en danksy matriekvrystelling kon ek my droom om onderwyser te word aan die Universiteit van die Werkersklas (UWK) verwesenlik. Hier sou ek politieke wasdom bereik en by studenteprotes teen apartheid betrokke raak. As een van ses kinders van ouers uit die werkersklas sou dit onmoontlik wees sonder ’n staatsbeurs.

Volgens ’n gesegde herhaal die geskiedenis homself elke 40 jaar. Waar of nie, verlede week moes ek my studente (via aanlyn klasse) leer dat die wêreld ’n stel verwante stelsels is waarin probleme nie in isolasie opgelos word nie.

In goeie tye omarm regerings ’n burokratiese bestuurstyl, soos toe Jacob Zuma in 2017 sonder konsultasie gratis hoër onderwys aangekondig het. As dit sleg gaan, ontdek ons die waarde van deelnemende bestuur, soos verlede jaar toe die land deur ’n bevelsraad bestuur is.

Zuma het die land met ’n turksvy gelos. Sy ruggraatlose kabinet het sy moedswillige dekreet stilswyend aanvaar. Die matrieks van 2020 moes, soos die 1976-klas, reuse-uitdagings oorkom. Diegene wat vasgebyt en met universiteitstoelating geslaag het, sou vir die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kwalifiseer. Ná ’n vermoeiende jaar het hulle toekomsdrome. Maar weer het die regering ons in die steek gelaat.

daar is ’n kinkel in die kabel. Die geldkoffer is leeg.

NSFAS het versuim om betyds aan studente te kommunikeer wie beurse sou ontvang. Dit het die registrasieproses by universiteite ontwrig. Gefrustreerde studente het in opstand gekom. Hulle glo dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, en sy departement al maande weet van die probleem en niks daaraan gedoen het nie. In die proses het ’n onskuldige man, Edwin Ntumba, in Johannesburg gesterf.

Dit het pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet tot aksie gedwing. ’n Dag later is bykomende finansiering van R6 miljard goedgekeur. Maar daar is ’n kinkel in die kabel. Die geldkoffer is leeg. Nzimande moet dus self sy begroting aanpas. Terwyl universiteite die afgelope naweek rondgeskarrel het om alles Covid-gereed te kry vir gister se terugkeer, het studente landwyd georganiseer om kampusse tot stilstand te dwing.

Weens Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer word baie min belasting ingevorder. Gevolglik is gratis hoër onderwys onbekostigbaar, soos Nzimande verlede week uitgevind het. Tog behoort geen behoeftige student wat gekwalifiseer het vir ’n beurs, van verdere onderrig uitgesluit te word nie.

Hoër onderwys moet egter geherstruktureer word. Universiteite kan nie die enigste bron van verdere opleiding wees nie. ’n Graad is slegs relevant en ’n beurs net geregverdig as afgestudeerdes ’n bydrae tot die ekonomie lewer. Met die opening van sy beroepsopleidingskollege vanjaar, het Solidariteit die pad aangedui.

Die NSFAS-krisis vra vir besinning. Een moontlikheid is ’n prestasie-gedrewe terugbetaling van sommige beurse. Want in sy huidige vorm is NSFAS nie volhoubaar nie. Harde werk wag dus op Nzimande.

  • Prof. Le Cordeur is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Matriek  |  Geldkrisis  |  Universiteite  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.