Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Studente se verkiesings moet anders lyk

Verkiesings in studentegeledere moet nie dieselfde pad stap as verkiesings in die politieke arena nie, skryf Leslie van Rooi.

Die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Getty Images

In studentegeledere is dit verkiesingstyd op die kampusse van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die studenteraad, huiskomitees in koshuise en private wyke, leiers in die onderskeie klusters sowel as dié in sosiale en sportklubs word tans verkies.

In ’n jaar waar die ritme “abnormaal” voel, is dit tog ook goed dat iets van die bekende ritme op kampus behoue bly.

Maar natuurlik is dit op baie maniere anders hierdie jaar.

Die koukusse, wat gewoonlik in persoon geskied, moet nou aanlyn gedoen word. Dit het sy eie stel uitdagings, maar bied gelukkig ook nuwe geleenthede.

Die verkiesings, as demokratiese prosesse, moet insluit en nie uitsluit nie.

Aan die een kant moet ’n mens probeer om studente, wat dalk mag sukkel met goeie, bekostigbare internettoegang, die kans te bied om tog aan verkiesings deel te neem. Die verkiesings, as demokratiese prosesse, moet insluit en nie uitsluit nie.

Dus moet ’n mens moeite doen om die regte platform op die regte tyd (en wat die minste data benodig) in plek te stel. Gelukkig is daar moontlikhede.

Aan die ander kant is dit opvallend dat aanlyn deelname aan verkiesings in sommige gevalle selfs hoër is as in vorige jare.

In die afgelope verkiesing van die studenteraad by die US is dit opvallend dat die virtuele koukusse goed bygewoon is en dat die stempersentasie hoër was in vergeleke met 2019 se verkiesing.

In die konteks van al ons verkiesings is dit tog ook goed om te besef dat dinge anders is. Dit is ook waar van verkiesings in die konteks van ons koshuise.

Dit is nie net die verkiesings wat anders is nie – die aard van leierskap is, soos oor die hele wêreld, ook anders. Die tyd stap aan – met of sonder ons.

Wat vandag “voor” is, is môre “agter”.

So gaan verkiesings hier nie net oor wie watter portefeulje kry nie, maar veel eerder oor waarvoor die koshuis staan, hoe ons mekaar welkom kan laat voel en watter (koshuis)kultuur gevestig moet word.

Verkiesings in studentegeledere bly belangrik. Nie net wat betref die inoefening van demokratiese prosesse nie, maar ook wat ons verstaan en die praktyk van verteenwoordigende leierskap.

Boonop bied dit aan elkeen die kans om jou stem te laat hoor.

Luister na vrae wat nie gevra is nie

Verkiesings in studentegeledere moet egter nie dieselfde pad stap as verkiesings in die politieke arena nie. Inteendeel.

As ’n mens die voorbeelde van verkiesing in lande oor die wêreld heen volg, is daar gereeld sprake van kwetsende politiek, veldtogte via sosiale media wat die ander kandidaat wil beswadder en selfs ’n mate van agterdog wil vestig. By tye is daar selfs ’n geveg wat gepaard gaan met die aanstook van haat wat tot polarisasie lei.

Dit is juis belangrik dat ons op ons kampusse iets anders inoefen om juis te verhoed dat ons nie vasval in dieselfde retoriek wat verhoed dat leiers ná ’n verkiesing nie werklik ’n stem kan hê nie.

Verkiesings, selfs op hul felste, moet toelaat dat mense ná die tyd steeds kan saamwerk. Meer is op die spel as net eie gewin en ’n verstaan van my groep teenoor die ander.

So moet verkiesings op ons kampusse die inkomende leierskorps help om na alle stemme te luister – nie net na wie jy dink vir jou gaan stem nie. Die leiers moet iets verstaan en leer uit die vrae wat in koukusse gevra word.

Dalk is dit selfs belangriker dat hulle mooi moet luister na die vrae wat nie gevra is nie.

Dalk is dit selfs belangriker dat hulle mooi moet luister na die vrae wat nie gevra is nie.

So moet studenteleiers, en leiers in die algemeen, die ekstreme in ag neem, maar nooit die middelgrond vergeet nie – dit is die middelgrond wat jou sal rig en wat jy nodig het om uiteindelik ’n verskil te kan maak op ’n verskeidenheid maniere.

Leslie van Rooi

In die konteks van die koshuis waar ek is, is die verkiesingstyd, hoe uitdagend soms ook al, iets om na uit te sien. Dit bring vars, nuwe moontlikhede en dit help ’n mens ook om die temperatuur in die kamer te meet. Sodoende kan jy jouself rig op die jaar wat voorlê.

Verkiesings gaan uiteraard ook met ’n gegroet gepaard. Sodra die vorige leierskapstruktuur hul piek bereik het, is dit tyd om plek te maak vir ander.

Maar ’n mens kry dan ook die geleentheid om met ’n nuwe groep belowende jong leiers te werk wat op hul manier hul impak wil en sal maak.

Dit gee al klaar hoop vir die rol en toekoms van jongmense in ons land.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Verkiesings  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.