Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Studente wíl SA van môre ondanks probleme laat werk

Studente in hul laaste studiejaar is vasbeslote om Suid-Afrika ondanks die moeilike omstandighede deesdae te laat werk en dit gee hom moed vir die toekoms, skryf Leslie van Rooi.

Die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch was, soos baie ander instellings in die land, verlate tydens die staat van inperking. Foto: Gallo Images

Studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) is tans in die derde week van die finale akademiese semester van die jaar. Vir die meeste studente is dit ’n volledige virtuele klaservaring en slegs ’n beperkte aantal studente is terug op die kampusse van die US.

Vergeleke met ses maande gelede, lyk die wêreld anders en, aan die hand van gesprekke in en ná klasse, is dit duidelik dat die lewensuitkyk van die studente in veral die finale fase van hul studies dalk selfs vinniger as gewoonlik verander.

Opvallend vir my is veral die denke van die studente in hul finale jaar wat dalk, anders as van die ander jaargroepe, reeds nou moet dink aan die fase ná universiteit.

Denke en gesprekke oor verdere studies, die verkryging van studiebeurse, die moontlike skaarsheid van werk (’n groter verwagte werklikheid as vroeër), en/of ’n jaar of so oorsee is op die agenda. Maar nie op dieselfde manier as in die verlede nie.

Die verwagting dat werkgeleenthede in die nabye toekoms ook vir professionele beroepe skaarser sal wees, weeg swaar en wek kommer. ’n Toenemende tekort aan nagraadse beurse (privaat en vanaf die staat) is ook ’n jammerlike werklikheid wat besluite sterk beïnvloed.

Dit voorspel natuurlik nie iets goeds vir ons behoeftes in Suid-Afrika aan onder meer skaars vaardighede nie.

Oor die spektrum heen is studente meer bewus van veral staatsverwante korrupsie en die aptyt daarvoor is min.

Verder veroorsaak die sluiting van internasionale grense en die feit dat werkverliese wêreldwyd tans hoog is, ’n gevoel dat die kanse vir werkervaring oorsee dalk ook skraal is.

Dus is die opsie om vir ’n tyd lank oorsee te gaan woon/werk nie meer so realisties nie.

Op grond van alles wat hierbo genoem is, sou ’n mens verwag dat die uitkyk van dalk veral studente in hul finale studiejaar meer negatief as in die verlede sou wees. Die dringendheid oor ander temas gee egter ’n heeltemal ander prentjie.

Harde gesprekke teen korrupsie oor die tradisionele grense heen is opvallend. Oor die spektrum heen is studente meer bewus van veral staatsverwante korrupsie en die aptyt daarvoor is min.

Selde oor die afgelope jare was die gesprek teen korrupsie so helder vanuit verskillende denkrigtings, agtergronde en verskillende lewensraamwerke.

Daarmee saam is daar ’n sterk “vir Suid-Afrika”-gesprek. Die gevoel dat Suid-Afrika kan werk en moet werk, wek opsigself hoop en energie – iets wat ek by tye in die konteks van ’n klas en in gesprekke op kampus gemis het.

’n Soeke na die waarheid

Leslie van Rooi

Verder is daar ’n sterk gesprek oor die waarheid in teenstelling met valse feite, fopnuus en menings wat byvoorbeeld nie op data gegrond is nie. En hier loop die sosiale media erg deur.

Daar is ’n algemene honger vir inligting en bronne van nuus wat kan rig en wat op so ’n manier aangewend kan word dat dit beter moontlikhede tot gevolg kan hê.

Dit blyk ook baie duidelik dat die sogenaamde middelgrond in teenstelling met die ekstreme sienings aan weerskante van die spektrum tog sterk is. Dit is iets wat ons in die konteks van ons kontekstuele werklikhede en harde gesprekke soms sukkel om te glo.

In tye van krisis bly dit opvallend dat daar ’n soeke na feite is en dat daar byna ’n instinktiewe gerigtheid is op meer as jouself; selfs ondanks persoonlike ervarings van angs.

Ons is dit aan studente en ander verskuldig om gesprekke te voed en om soveel inligting moontlik te deel. Uiteindelik moet hulle natuurlik self keuses uitoefen.

Voor hulle was daar ander studente met dalk selfs groter uitdagings en vrese.

Dit is ook vir studente belangrik om te besef dat hulle nie die eerstes is wat met moeilike uitdagings te doen het nie.

Voor hulle was daar ander studente met dalk selfs groter uitdagings en vrese. Ook die sogenaamde captains of industry van ’n geslag of wat gelede het hier gesit en moes op innoverende maniere onder uiters uitdagende omstandighede keuses uitoefen, kanse waag en geleenthede skep. Hulle moes uiteraard ook hard werk.

Die energie wat vanuit studente in ’n finalejaarsklas kom en veral die sterk gevoel om Suid-Afrika te laat werk te midde van oomblikke van desperaatheid, is inspirerend.

Ons moet die land laat werk. Die innovering van Suid-Afrikaners te midde van krisistye het ons in die verlede gered. Dit sal beslis nie hierdie keer anders wees nie.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.