Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Stuit dié haatsmouse

Die meeste politieke kommentators meen verhoudinge tussen swart, bruin, Indiër- en wit Suid-Afrikaners is vandag swakker en rassisme erger as 20 jaar gelede. Kan dit waar wees?

Max du Preez

Op die oppervlak lyk dit natuurlik asof ons op die punt is om mekaar aan die keel te gryp.

Die EFF se verkiesingstrategie is om wit mense te beledig, te dreig en te belowe dat die party vir die era van onreg wraak sal neem.

Elemente in die ANC gedra hulle nie veel anders nie. En aan die wit (en bruin) regterkant kom die beledigings ewe maklik en is daar byna elke week ’n voorval van rassisme in die media.

Maar hoekom sou Suid-Afrikaners vandag mense van ’n ander ras meer verwens as toe ons ’n oop demokrasie geword het? Ons het dan amper ’n kwarteeu gehad om vrede met mekaar te maak?

Die één fout wat ons nie moet maak nie, is om sosiale media as ’n barometer te gebruik. Sosiale media is soos padwoede; dit bring die heel slegste in mense na vore. Maar dit is seker ook waar dat rassisme op sosiale media verdere onverdraagsaamheid in die hand kan werk.

Ek dink ras-populisme het die laaste paar jaar ’n groot impak op die verhoudinge gehad.

Julius Malema aan die woord in New Brighton, Port Elizabeth.Foto: lulama zenzile

Toe Jacob Zuma en sy trawante se korrupsie en magsmisbruik op die lappe begin kom, het hulle hul tot identiteitspolitiek gewend om die aandag af te trek. Bell Pottinger en die Gupta-media het skielik konsepte soos witmonopoliekapitaal en radikale ekonomiese transformasie begin populariseer.

Julius Malema en die EFF het besluit swart nasionalisme is hul beste kans om as ’n party te kan groei. Soos goedkoop populiste oraloor het hulle al hoe kruer geword, tot op die punt vandag waar hulle wit en Indiër-Suid-Afrikaners blatant beledig en subtiel met geweld dreig.

Die hoofstroommedia het die EFF jare lank met handskoene hanteer, bang dat hulle self as onprogressief of rassisties bestempel gaan word.

Wittes, eerder as die onbeholpenheid van die ANC oor 24 jaar, word steeds vir die ongelykheid en armoede geblameer.

Dit het ’n nuwe “normaal” geskep waar ’n wit persoon wat iets kwytraak wat dalk net vaagweg na bevooroordeeldheid ruik, in die buitenste duisternis gewerp word terwyl ’n blatante belediging of dreigement teenoor wit mense weggepraat word.

Heelparty wit mense met wie ek al gepraat het, sê hulle voel vandag meer rassisties omdat die ANC-regerings sedert 1994 so vrot regeer.

Wit mense, eerder as die onbeholpenheid van die ANC oor 24 jaar, word steeds vir die ongelykheid en armoede geblameer. Dit is sekerlik ’n faktor, maar as jy in jou hart nie ’n rassis was nie, sou jy weet die ANC regeer nie vrot omdat hulle swart is nie, maar omdat so baie van hul politici en amptenare korrup en onbevoeg is. Dit is geskiedenis en politieke kultuur eerder as velkleur.

Ons leer mekaar steeds ken in hierdie land van ons. Ek het byvoorbeeld aanvanklik nes die meeste wit mense op die Ashwin Willemse-sage gereageer. Maar toe luister ek na wat mense wat nie wit is nie en wat ek respekteer, daaroor sê – mense soos Danny Titus, Jonathan Jansen en Ferial Haffajee – en ek verstaan die kompleksiteite baie beter. Ek leer steeds om beter te luister.

Ek glo op ’n persoonlike vlak kom wit en swart deesdae baie beter oor die weg as ooit tevore. Ons sukkel wanneer ons as groepe optree.

Ons is ’n jaar van ’n algemene verkiesing af. Populisme gaan in dié tyd net verder gedy. Ons sal die haatsmouse aan die kaak moet stel, maar nie op ’n manier wat onverdraagsaamheid verder aanhits nie. En ons moet waak daarteen om rassisme met rassisme te beantwoord.

  • Du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke ontleder.
Meer oor:  Verhoudings  |  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.