Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stuur politici België toe om te ontwen
Prof. Hennie van Coller

In visuele media word die tipiese Fransman of Belg gewoonlik stereotipies uitgebeeld. Smulpape met ’n Gauloises of Gitanes in die mond en ’n glas drank in die hand. En soos Jean-Paul Belmondo van weleer, is hy hardebaard en die brul van sy kragtige motor(fiets) wys daar’s volop perde en hy ry hulle bloots.

Maar ook in Europa het die gety gekeer. Sigarette, alkohol, vleis, brandstofmotors (en binnekort dalk seks) is uit die bose. Gouloises en Gitanes staar ’n verbod in die gesig in Frankryk. Omdat hulle te “koel” is en jongmense aantrek.

Daar broei ook ’n oorlog tussen ’n groot supermarkgroep en Coca-Cola. Want, sien, Coke bevat te veel suiker. Van al sy koeldrankproduk-te wil dié gesondheidsbewuste supermarkgroep slegs ’n aantal aankoop en dit maak Coca-Cola voorspelbaar boos.

By die 98ste motorskou in Brussel is dit opvallend hoeveel elektriese motors daar opeens beskikbaar is. Skielik is daar naas die swaar Teslas of Audi’s ook elektriese motors van Peugeot, Mazda, Honda, Nissan, Opel en Volkswagen. Met ’n ryafstand van kwalik 400 km en byna drie keer so duur as ’n “gewone” motor, is kopers egter nog huiwerig.

Tog is dit het einde niet. Een uit elke drie besighede skink geen alkohol meer by jaareindgesellighede nie. In Suid-Afrika is mens al gewoond dat as jy nie alkohol wil of kan drink nie, jy meestal maar verlief moet neem met aaklige, soet vrugtesap of kraanwater. In België is daar by gesellighede alkoholvrye bier en (vonkel)wyn beskikbaar én ook “watersom-meliers” wat byna ’n honderd verskillende soorte water kan skink vir die dorstiges!

Ook die swaai na veganisme is opvallend en straks raak ’n tjoppie net so onaanvaarbaar soos ’n egte pelsjas.

Voorspellings vir kleredrag lui dat mans al hoe meer uitgedos gaan raak in “genderlose” drag. Met enige uiting van tradisionele aggres-siewe, harde manlikheid reeds uit die bose, wag daar swarigheid in die kooi.

Voorspellings vir kleredrag lui dat mans al hoe meer uitgedos gaan raak in “genderlose” drag.

Die vergestalting van baie van die voorafgaande standpunte is die politiek korrekte Harry en Megan wat kampanjes voer teen alles en nog wat: jakkalsjag, rassisme én aardverwarming.

Tog rits hulle die wêreld vol met (aardver-warmende) straalvliegtuie en het Megan aan-gedring op lugverkoeling in hulle opgeknapte “huisie”, Frogmore Cottage – koste nét 2,5 miljoen pond, betaal deur die Britse belastingbetalers.

Moeg vir tenniskyk in Amerika, hul huisie en geld is hulle nie; wel vir al die saai verpligtinge wat die Britse “royals” nou maar het én vir die giftige poniekoerante. Toegegee: Linte knip en snotneusbabas soen, pas sleg by stralerjakkers. Miskien moes hulle eerder die koningshuis se leuse onthou’t: “Never explain; never complain”.

My nuwejaarswens? ’n Jaar lange ontwenningskuur vir Suid-Afrikaanse politici in België: rook- en alkoholvry, veganisties én selibaat.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Politici  |  Ontwen  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.