Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Styl van kritiek is ewe belangrik

As daar een Afrikaner-denker is vir wie ek ’n besondere bewondering het, dan is dit die digter N.P. van Wyk Louw.

Leopold Scholtz

Ter herdenking van sy dood in Junie 1970 – 50 jaar gelede, dus – het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n spesiale uitgawe van sy Tydskrif vir Geesteswetenskappe met bydraes van verskeie akademici gepubliseer.

En vandeesweek lees ek in Die Burger dat sy gewese skoonseun, wyle prof. Ampie Muller, ’n bundel opstelle oor Van Wyk Louw (Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP van Wyk Louw) geredigeer het, wat aanstaande maand verskyn. Dis ’n boek wat ek sonder twyfel gaan aanskaf.

Van Wyk Louw was ’n intellektuele reus wat toevallig ook ’n trotse Afrikaner was – die beste bewys dat ’n mens getrou aan jou afkoms kan wees sonder om jou gesonde verstand in die asblik te smyt. Van Wyk Louw was intens Afrikáner, maar dit het gepaardgegaan met wellewendheid, verdraagsaamheid en ’n weiering om ’n fetisj van sy afkoms te maak.

Vir my is daar drie denkbeelde wat Van Wyk Louw se politiek-filosofiese erfenis kenmerk. Die eerste is die begrip “liberale nasionalisme”.

In regs-ekstremistiese kringe – wat ongelukkig die hardste op die internet en sosiale media gil – is “liberaal” ’n afskuwelike vloekwoord en enigiemand wat dit gebruik sonder om dit na die hel te verwys, is self verwerplik.

Soos Van Wyk Louw dit uitgewerk het, kom dit eenvoudig daarop neer dat jy enigiets waarna jy vir jouself streef ook vir ánder moontlik moet maak. En met die tong én die daad. Daarom dat Van Wyk Louw die teoretiese model van afsonderlike ontwikkeling destyds kon steun. Toe al was hy egter ongemaklik met die feit dat die implisiete belofte van geregtigheid vir die swart mense in die praktyk uitgebly het.

As onkreukbaar eerlike denker het hy ook nie geaarsel om die leuen van apartheid rakende bruin mense aan die kaak te stel nie.

As onkreukbaar eerlike denker het hy ook nie geaarsel om die leuen van apartheid rakende bruin mense aan die kaak te stel nie. Die teoretiese vryheid wat afsonderlike ontwikkeling êrens in die toekoms vir swart mense beloof het, het immers nie eens op papier vir bruin mense gegeld nie.

Die tweede denkbeeld spruit uit die eerste. Dit is wat Van Wyk Louw genoem het “die swart engel van die na­sionalisme” oftewel chauvinisme. Hy het, sy dit op ’n afstand, voldoende van die Nazi’s se perverse vorm van nasionalisme waargeneem om die gevaar daarvan in te sien. Dus het hy gewaarsku: Ja, daar is niks mee verkeerd om jou eie volk, taal en kultuur lief te hê nie, maar moet dit nie oordryf nie.

Die swart engel bring mee dat jou liefde vir jou eie al te maklik gemeet word aan jou haat of afkeer van die ánder. Dis wat in Hitler se Duitsland en Mussolini se Italië gebeur het – en ons almal weet waarop dit uitgeloop het.

Ten derde het Van Wyk Louw die denkbeeld van “lojale verset” gepredik. Dit kom daarop neer dat jou liefde vir jou eie mense nie só oorheersend mag wees dat jy die misdade wat in jou mense se naam begaan word goedpraat nie.

Jy kán ’n trotse Afrikaner wees en terselfdertyd opregte kritiek teen jou volk se leiers uitspreek.

My eie waarneming is inderdaad dat die styl waarmee jy daardie kritiek uitspreek belangrik is.

Dít is waarom die kritiek van Van Wyk Louw, maar ook dié van byvoorbeeld Schalk Pienaar, Piet Cillié, Hermann Giliomee en Johan Heyns, in die praktyk veel meer bereik het as die ongenadige gegesel van Bram Fischer, Beyers Naudé en Nico Smith.

Uiteindelik was Van Wyk Louw se sentrale boodskap ’n kragtige oproep tot wellewendheid, gematigdheid en gesonde verstand. Hy het nie Afrikanerwees verwerp nie, wel ekstremisme.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Kritiek  |  Nasionalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.