Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Subjektiwiteit speel tog ’n rol
Willie Spies

Twee fundamentele menseregte was die afgelope week in die kollig: die reg op eiendom en die reg op vryheid van spraak.

Wat eiendomsreg betref, het die parlementêre regsadviseurs Dinsdag die eerste konsep van die 18de Grondwetwysigingswetsontwerp aan die ad hoc-komitee voorgelê wat die wysiging van art. 25 moet oorweeg om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

Interessant genoeg is die Grondwet reeds 17 keer gewysig – die laaste keer in 2012. Daar was die laaste jare drie onverwante pogings om ’n 18de wysiging aan die Grondwet te bewerkstellig. Nie een van hulle het uiteindelik op ’n wysiging uitgeloop nie. Die publikasie van ’n wysigingswetsontwerp beteken dus nie dat die uiteindelike aanvaarding daarvan ’n gegewe is nie.

Die voorgestelde wysiging van art. 25 wat Dinsdag bekend gestel is, behels dat die bestaande artikel behoue bly maar dat ’n subklousule bygevoeg word wat bepaal dat die hof, in gevalle waar onteiening vir die doeleindes van grondhervorming geskied, kan beslis dat ’n redelike en billike vergoeding in die betrokke geval nul kan wees.

Onteiening teen vergoeding van nul rand is nie heeltemal ongewoon nie. Dit het al gebeur dat staatsinstellings klein stukke grond of serwitute oor grond met ’n lae markwaarde sonder vergoeding onteien het, bloot omdat die waardasieproses aangedui het dat die billike vergoeding vir die grond wat onteien word, nul rand is.

Die vraag is dus waarom dit nodig is om die Grondwet te verander om iets grondwetlik moontlik te maak wat in elk geval reeds in die praktyk moontlik is.

Die vraag is dus waarom dit nodig is om die Grondwet te verander om iets grondwetlik moontlik te maak wat in elk geval reeds in die praktyk moontlik is. Dit is juis hierdie feit wat die wysigingsproses so verdag maak.

Deur die praktiese uitsondering met ’n grondwetwysiging tot ’n reël te verhef, word van die grondwetartikel ’n wapen gemaak om regte weg te neem, en nie te beskerm nie.

Nóg ’n artikel in die Grondwet wat uit die staanspoor ’n inherente beperking bevat, is art. 16, wat handel oor vryheid van spraak. Dit behels dat vryheid van spraak nie die propagering en aanstigting tot oorlog, haat en geweld teen mense op grond van hul taal, kultuur, ras, geslag of seksuele oriëntasie insluit nie.

Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (bekend as Pepuda), wat juis 20 jaar gelede aanvaar is om uiting aan die gelykheidsklousule in die Grondwet te gee, het haatspraak verbied op ’n manier wat deur vele regslui beskou is as ’n oorskryding van die grondwetlike riglyn in art. 16.

Die appèlhof het Vrydag inderdaad bevind dat die haatspraak-artikel in Pepuda ongrondwetlik is.

Die eerste haatspraak-geding wat in die slag gebly het as gevolg van die appèlhofbeslissing, is Solidariteit se klagte teen die BLF en twee van sy leiers wat hulle in die openbaar verlekker het in die tragiese dood van kinders tydens die tragedie by die Hoërskool Driehoek verlede jaar. Regter Ratha Mokgoatlheng van die hooggeregshof in Johannesburg het kort nadat hy ’n uitspraak ten gunste van Solidariteit gelewer het, in ’n ongewone en waarskynlik juridies gebrekkige stap sy eie uitspraak nietig verklaar. As Mokgoatlheng reg was, is die veelbesproke beslissing oor die ou landsvlag ook nou nietig.

Die feit bly dat die gebeure van die afgelope week wat oor twee wesenlike menseregte handel, opnuut wys dat subjektiewe faktore baie dikwels die deurslaggewende rol speel in die wyse waarop menseregte beskerm of vernietig word, maar dat verrassende dinge in die howe kan gebeur wanneer ’n mens dit die minste verwag.

* Spies is 'n prokureur van Pretoria. 

Meer oor:  Willie Spies  |  Grondwet  |  Vryheid Van Spraak  |  Eiendomsreg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.