Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrika nie uitverkore land
Johannes Froneman

Vandag kry die Proteas dalk ’n finale spyker in die kis en is ons sonder enige hoop om eendagkrieketkampioene van die wêreld te word. Of dalk gebeur ’n wonderwerk.

Die punt is egter nie om die uitslag van die toernooi (of die Proteas se uiteindelike vertoning) te voorspel nie. Wel om te wys op ’n chroniese mistasting wat te veel Suid-Afrikaners begaan. En dit is die oorskatting van ons vermoëns en belang.

Was dit net tot sport beperk, het ons ’n mindere probleem gehad. Dit is so dat Bafana Bafana omtrent die 80ste beste span in die wêreld is. Ons gaan nie in hierdie eeu die sokkerkampioen van die wêreld word nie. Ons rugbyspan gaan dalk nog ’n titel of twee wen. Die hoop beskaam nie.

Maar ons sporthoop lê eerder by briljante individue wat op die atletiekbaan, in die swembad of op die gholfbaan presteer.

Die Proteas is een van die min nasionale spanne wat ’n realistiese kans het om nog eendag ’n groot titel te wen. Dis nou as hulle met ’n span sonder krankes opdaag. Of daarin slaag om volgens hul vermoëns te speel. Ons kán mededingend wees.

Maar op ’n duisend en een ander terreine is ons as land knaend onmededingend. Ons werk nie hard genoeg nie en beslis ook nie slim genoeg nie.

Ons het wel die vaste geloof dat ons allerlei dinge verdien – maar dan sonder om noodwendig iets te doen.

Bowenal vind te veel Suid-Afrikaners knaend ’n verskoning waarom ons nie slaag nie.

Ons is ’n onderpresterende middelslagland wat te dikwels dink die wêreld skuld ons iets.

Die fout lê nooit by onsself nie. Want onderliggend aan alles is die nadraai van die apartheid-sindroom. Ek wil op geen manier die nadelige uitwerking van apartheid op ons volkshuishouding onderskat nie. Dit sal dwaas wees. Dit bly ’n kernkwessie.

’n Ander, hoogs onderskatte ingesteldheid verg egter ook ons eerlike aandag. Ons moet besef dat terwyl die apartheidsbeleid ons land dekades lank in die internasionale kollig geplaas het, die (vals) idee ontstaan het dat ons alte besonders is.

Wel, ons is nie. Die res van die wêreld het ’n tyd lank op ons gefokus asof ons uitsonderlik was (dikwels om hul eie rassisme, skuldgevoelens en probleme te verbloem), maar ons is nie.

Ons is ’n onderpresterende middelslagland wat te dikwels dink die wêreld skuld ons iets.

Maar niemand skuld ons enigiets nie.

Om dus die suksesvolle binnelandse taktiek van skuldverplasing in die wêreldpolitiek te probeer, is meestal nutteloos. Om dit in die wêreldekonomie te probeer, is eweneens ’n mors van tyd. En om dit in die sportarena te probeer gebruik, is ’n grap.

Hierdie taktiek gaan ons nie volhoubaar iets in die sak bring nie. Jy word platgeloop.

Daar is net een pad vorentoe. Dit is om realisties te raak oor onsself. Net so min as wat die Afrikaner ’n uitverkore volk was, net so min is Suid-Afrika as land spesiaal. Ons moet dit aanvaar.

Al manier om as land beter te presteer, is om ooreenkomstig die algemeen aanvaarde reëls van die spel heelwat beter te vaar.

Ons moet gaan leer by die beste ekonomieë, beste onderwysstelsels en beste sportspanne. Die beste is diegene wat slim en hard werk, en foute van die verlede probeer vermy. Hulle werk met wat hulle het en maak die beste daarvan.

Hulle kla nie oor alles nie en soek beslis nie voortdurend die skuld by ander nie.

Maar sukses is ook nie alles nie. Uiteindelik moet ons ’n eerbare nasie wees wat respek afdwing. Dan sal ons nogal besonders wees.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Sport  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.