Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrika se onbesonge baanbrekers

Min mense onthou hulle vandag, maar die eerste hartoorplantingspasiënte was onbesonge baanbrekers, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Mense onthou selde diegene wat tweede of derde in ’n kompetisie eindig.

Dit is net nie in ons aard om die name van “verloorders” te onthou nie. Almal weet wie die eerste man op die maan was, almal weet wie die eerste droommyl gehardloop het. Of dat Hannes Marais se Springbokspan van 1971 in Australië die eerste Bokspan was wat onoorwonne vanaf ’n oorsese toer teruggekeer het.

Dit was die rubriek “50 jaar gelede” in Die Burger van 11 Junie wat my weer hieraan laat dink het. Dit het gehandel oor die dood 50 jaar gelede van die vierde hartoorplantingspasiënt. 

Die wêreld het geweet dat prof. Christiaan Barnard geskiedenis gemaak het toe hy op 3 Desember 1967 die eerste menslike hart op Louis Washkansky oorgeplant het. Op 6 Desember 1967 het dr. Adrian Kantrowitz, net om nie in die skaduwee gestel te word nie, in Amerika ’n hart op baba Jamie Scudero oorgeplant. Die baba het gesterf, net sewe uur ná die operasie.

Die Burger het 50 jaar gelede só oor die dood van die Suid-Afrikaanse oorplantingspasiënt berig:“Vierde hartpasient sterf: Meneer William (Bill) Killops, Suid-Afrika se vierde hartoorplantingspasiënt, het gisteraand om 08:50 in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesterf. Longontsteking het ook sy lewe geëis, soos in dié geval van meneer Louis Washkansky, die wêreld se eerste hartoorplantingspasiënt in dieselfde hospitaal sewentien maande gelede. 

“Meneer Killops het die longontsteking opgedoen ondanks alle pogings om hom in ’n kiemvrye omgewing te hou. Reg in die begin van die siekte was sy toestand baie ernstig, maar ná ’n behandeling het dit verbeter. Die verbetering het egter net ’n kort rukkie geduur. Mnr. Killops – ’n wewenaarvader van drie seuns – het 71 dae lank met sy oorgeplante hart geleef.” 

’n Skugter pasiënt

Die vorm wat met William (Bill) Killops se hartoorplanting in die Groote Schuur-hospitaal ingevul is. Foto: Christiaan Barnard-hartmuseum, Universiteit van Kaapstad

Dis nogal interessant om daarop te let dat Killops se naam in sommige bronne as Douglas Killops aangedui word. Op een hospitaaldokument word sy van selfs as Kollops gespel. In ander hospitaaldokumente word daar net van W. Killops gepraat. 

Die 63-jarige Killops is op 7 April 1969 geopereer. Sommige bronne meld dat hy daarna vir 64 dae gelewe het, ander wil weer hê dat sy skenkershart nog vir 71 dae geklop het.

Dis nogal interessant dat daar nie veel inligting oor Killops beskikbaar is nie. Met die eerste oogopslag lyk dit asof daar ’n kombers van geheimhouding oor inligting omtrent hom gegooi is.Miskien lê die antwoorde opgesluit in die feit dat Killops van nature ’n private mens was. 

Hulle het oor alles behalwe hul operasie of probleme gesels.

Anders as met dr. Philip Blaiberg, die tweede Suid-Afrikaanse oorplantingspasiënt, Petrus James Smith (die derde) of selfs Dorothy Fischer (die vyfde), bestaan daar geen foto of afbeelding van hom in die pers of selfs in die Christiaan Barnard-hartmuseum by die Universiteit van Kaapstad se mediese skool nie. 

Uit die karige inligting oor Killops kom ’n mens agter dat hy en ’n vriend, George Hedges, stigterslede van die Kampsbaai-swemklub was. Die klub bestaan nog steeds! 

Op die Christelike blog Tabernakel Bedieninge se Wekroep, wat deur Belinda Paar behartig word, maak ’n pasiënt daarvan melding dat hy in ’n saal net langs dié van Killops gelê het. Hoewel hulle mekaar soms op die gemeenskaplike balkon van hul saal raakgeloop het, het hulle oor alles behalwe hul operasie of probleme gesels. 

’n Moeilike pasiënt

Ironies genoeg pryk daar in die Barnard-museum onder die afdeling vir Killops ’n handgeskrewe nota wat as volg lees: “No newspaper shall print my name without my permission.” Dit is op 28 Februarie 1969 deur Killops onderteken. ’n Suster E. Collins en ene Zaaiman het dit saam met hom onderteken.

Teen dieselfde muur hang verskeie mediese verslae wat gedurende Killops se verblyf in die oorplantingseenheid opgestel is – selfs ’n EKG van die dag voor sy hartoorplanting.

Die groot dosisse prednisoon wat hy ingekry het, kon ook tot sy toestand bygedra het.

Tog is dit die sielkundige verslae omtrent Killops wat die aandag trek. Hou dit die sleutel tot sy pers-skuheid? Hoewel Killops toestemming vir die hartoorplanting gegee het, lui ’n mens uit verslae af dat personeel hom as ’n moeilike pasiënt bestempel het. Soms het hy nie eens na die dokters of verpleegpersoneel gekyk as hulle met hom gepraat het nie. Soms het hy sommer ’n liedjie geneurie tydens ’n ondersoek of ondervraging. Sommige kere het hy net botweg geweier om vrae te beantwoord. 

Die groot dosisse prednisoon wat hy ingekry het, kon ook tot sy toestand bygedra het. ’n Psigiatriese verslag is in dié verband interessante leesstof en verklaar sekere antisosiale gedragspatrone.

Onbesonge baanbrekers

Die EKG van Killops voor sy hartoorplanting. Foto: Christiaan Barnard-hartmuseum, Universiteit van Kaapstad

Intussen het Fischer ook ’n terugslag ondervind. Sy is net tien dae ná Killops (op 17 April 1969) geopereer. Sy het gewrigsontsteking opgedoen en het baie pyn verduur.

Dit het nie haar hart aangetas nie, maar haar vordering was tog stadiger as voorheen. Daar is destyds onderlangs gefluister dat Fischer selfs soms opgehou het om haar immuun-onderdrukkende medisyne te gebruik sodat sy weer in die hospitaal opgeneem kan word om weer aandag van die pers te kry.

Blaiberg weer het altyd die bekende vredesteken gewys en vir persfotograwe geglimlag. Washkansky was met sy breë glimlag ’n gunsteling van verslaggewers. Hy het 18 dae ná sy oorplanting aan longontsteking gesterf. 

Blaiberg het 593 dae met sy nuwe hart gelewe en gesterf aan kroniese orgaanverwerping, Smith het ná 622 dae ook aan kroniese orgaanverwerping dood.

’n Hartaanval het Van Zyl se lewe ná ’n verstommende 8 458 dae met sy nuwe hart geëis.

Killops is weens akute orgaanverwerping dood. Fischer het 4 868 dae met haar nuwe hart gelewe en ook weens kroniese orgaanverwerping gesterf. 

Van Barnard se eerste ses hartoorplantingspasiënte het Van Zyl die langste geleef. ’n Hartaanval het sy lewe ná ’n verstommende 8 458 dae met sy nuwe hart geëis. 

Tog is dit interessant om daarop te let dat die owerhede van die Groote Schuur-hospitaal wyslik besluit het om ná die sesde hartoorplanting nie meer inligting omtrent skenkers en ontvangers bekend te maak nie.

Dalk het die perssku Killops baie hiermee te make gehad. Die wêreld onthou nie diegene wat tweede, derde of selfs vierde geëindig het nie, maar dis soms nodig dat ons baanbrekers soos Killops onthou vir die bydrae wat hulle tot ons land se ryk geskiedenis gemaak het.

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.